KLEURRYKE KAROO ‘n BLOMMEFEES

Was ek ‘n C. Louis Leipoldt het ek ‘n sonnet geskryf oor die asemrowende blommetonele langs die N1 in die suidelike Karoo.
Rondom Laingsburg strek die lappe donkerpienk, geel en donsige wit blomme tot teen die horison. Die heuwels leef nie van musiek soos in “The Sound of Music” nie, maar van ‘n blommekleed so ver die oog kan sien.
As jy twyfel of Oktober werklik die “mooiste, mooiste maand” is, klim dadelik in jou kar en sit af Laingsburg toe. Agterna sal jy moet saamstem: in die veld rondom die dorp kan niks ooit Oktober se skoonheid troef nie.
Vir my was dit ‘n volslae verrassing en ‘n een-keer-in-‘n-leeftyd –ervaring om die wêreld so te sien. Kilometers aaneen maak die Karoobossies ruikers.
Jy is eintlik dankbaar as padwerke jou laat stilhou dat jy die skoonheid rustiger kan indrink. Wens ek het die name geken.
Trouens, die hele roete van Laingsburg af Melkbos toe was ‘n fees: die kleurryke vlaktes, uitgestrekte jong wingerde, indrukwekkende berge, koringlande en vreedsame landelikheid met troppe skape en beeste.
‘n Teenoorgestelde ervaring het tussen Brandfort en Bultfontein gewag. Verwoestende veldbrande het gesorg vir benouende verskroeide aarde – die beklemmende pikswart van ‘n kontrei in rou.
‘n Somberheid kom sit swaar in jou gees as jy ‘n allenige duikertjie gewaar sonder ‘n sprietjie groen wat die belofte van kos inhou.
So het ek daardie wêreld ook nog nooit gesien nie. Hopelik was dit ‘n eerste en ‘n laaste.
• Op die foto bo en saamgestelde foto ionder s tonele rondom Laingsburg by twee stop-ry-versperrings waar ons voorgekeer is.
Kan 'n prent van Lewisia wees