WAG IS VERBY VIR WAG-‘n-BIETJIE

Blinkblaarboom, jou fraaie nooi, jou lentekleed in groen getooi …
Saam met die voorposblare aan rosyntjie- en aartappelbosse , blinkblaar-wag-‘n-bietjies (foto), knoppiesdorings en wat nog hier op Tarlehoet se werf in Sabiepark kom die blye nuus uit die Kaap: Wag-‘n-bietjie (foto) is klaar gedruk. Vandag begin hy sy pad loop. Mooiloop, my boek.
Saam met die opgewondenheid wat elke skrywer seker met die koms van ‘n nuweling ervaar, kom ook die effense teleurstelling dat juis my verkeer tussen die bome in die bos my eie kennismaking met die finale produk noodwendig gaan vertraag. Lesers wat die boek voor my sien, moet tog maar laat weet hoe dit hulle geval. Wat ek kan verklap, is dat Karen Cronje, ontwerper, buitengewone moeite met die uitleg gedoen het. Die Wag-‘n-bietjie-tema loop deur die boek.
In ‘n voorwoord verduidelik ek die rol van Tarlehoet se wag-‘n -bietjies in die keuse van die titel. Hier is nogal ‘n paar van die spoggerige bome met die geniepsige dorings. Dis van daardie dorings wat die subtitel kom: Stories wat gryp. Op die foto versier ‘n onlangse gas, Marlene Duvenage, die robuuste stam van ‘n wag-‘n-bietjie vlak teenaan die stoep.
Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.