Reklame Sonder Grense
More uit Melkbos
Woon my eenmansvertoning by, koop vir jou een van my kookboeke, kom saam op reis – die mees eksotiese bestemmings wag. So nooi omroepers deesdae tot vervelens toe op RSG.
Radio Sonder Grense het Reklame Sonder Grense geword.
Oor hierdie verskynsel het ek ‘n blog geskryf onder die titel Reklame Sonder Grense. Veral Ian Wessels van die gesesprogram Loslip is daarin aangespreek, want in die selfbemarkingswedloop draf hy, na my ervaring, losvoor.
Ek had ook ‘n vermaning oor allerlei slaggate vir koerante, onder meer vir die knap rubriekskryfster Hanlie Retief van Rapport, wat begin toelaat het dat die inisiatief vir rubrieke kom van mense met wie sy dan wel onderhoude voer. Gevaarligte flikker – mense kan haar nader om hul ego’s te poets of om ander minder verhewe redes, het ek gewaarsku. Vir iemand met ‘n dik beursie kan dit nogal ‘n paar rand werd wees om daardie publisiteit te probeer “koop”, kan ‘n mens byvoeg.
In elk geval, daardie stuk moes in Amerika verwyder word in ‘n sogenaamde “terugrol” van my blog om dit te herwin nadat dit onder kuberkrapers deurgeloop het. Dit het o.m. ‘n uurlange oproep na die VSA geverg om ene Tony van Yahoo in staat te stel om by die wortel van die saak uit te kom (sidder oor daardie telefoontrekening wat kom!).
Na alles is ek huiwerig om daardie blog weer hier op te sit. Die duiwel fluister in my oor dis dalk gekontamineer. Jammer, lesers. As u graag “Reklame Sonder Grense” wil lees, moet ek vra dat u daarvoor na my litnetblog gaan. Die adres is http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer
Dankie vir die moeite.
Daarmee afgehandel, sit ons dan die bloggery vandag hier op www.hennievandeventer.com voort.