Sep 18, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die Krugerhek van die Wildtuin is die poort tot ‘n natuurparadys – ook ‘n simboliese poort tot sielerus en ‘n volkome breuk met die daaglikse sleur van die “beskawing”.
Bedink die opwinding om by die bedrywige hoofhek van die park deur olifante of renosters verwelkom te word of dat ‘n spannetjie leeus jou vaskeer terwyl hulle ‘n troppie rooibokkies bekruip en toeriste se voertuie vernuftig as skanse inspan. Dit gebeur nie elke dag nie, maar dit gebeur wel. Gelukkige toeriste het die foto’s.
Enigeen van die Vyf Grotes – leeu, luiperd, olifant, renoster en buffel – asook die nie-amptelike sesde, wildehond, kan jy net duskant of net anderkant die hek teenkom. Ook allerlei konfrontasies en diere-insidente.
Voorbeeld: kort voor sluitingstyd in ‘n skoolvakansie dam voertuie net binne die hek ongekend op. Veldwagters staan oral met gewere gewapen. Toe sien ons die rede: ses leeus is in die sterk skemer agter ‘n troppie rooibokkies aan, wat agter die hek wei. Die motors verskaf gerieflike skuiling, en word vernuftig as skanse ingespan. Ons kon ongelukkig nie wag om te sien of die jagters welslae behaal nie.
Dat die Krugerhek en die private natuurreservaat Sabiepark se hek as’t ware bure is – net twee kilometer uit mekaar – skep vir ‘n Sabieparker die potensiaal van droom-ervarings as ‘t ware op sy drumpel. En Sabiepark is die plek waarheen ek al ‘n kwarteeu lank vir die Kaapse winter vlug. Deur daardie hek is ek al honderde kere. En elke keer hou ek die kamera byderhand.
My selfoon lui een oggend terwyl ek kaalvoet op my stoep koffie drink. ‘n Vriend op pad Hazyview toe, via die Wildtuin, rapporteer agt leeus op die teerpad, net ‘n kilometer binne die hek. Nege minute later later klik my Canon … en klik … en klik.
‘n Uur lank behoort die pad daardie oggend aan “Koning Leeu” se manskappe. Elke motor word besnuffel en besnuif. ‘n Verkeersvoertuig wat dwars geparkeer staan, word intensief geïnspekteer! Die leeus val uiteindelik in die pad hek toe met ‘n konvooi voertuie agterna. Net voor die hek kom ‘n motor darem te naby. Die groot katte swaai veld-in, buite sig.
Om só gou op die toneel te wees, is natuurlik ‘n uitsonderlike bonus van die voorreg om Sabieparker te wees. Waar anders kan jy, nadat jy op jou eie stoep nog gou eers jou skoene aangeslof het, binne tien minute in die Krugerwildtuin stilhou, tussen die olifante, langs die leeus, onder die boom waarin die luiperd skuil? Op geen ander plek op aarde aan my bekend, is dié voorreg ‘n doodgewone mens beskore nie.
As jy wakker en gelukkig is, kan jou Wildtuin-ervaring begin selfs voordat jy die Kruger binnery. Dit is raadsaam om stadig en rondkyk-rondkyk te ry sodra jy die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik.
Allerlei verrassings is moontlik, byvoorbeeld ‘n klomp olifante plas uitbundig in die water, ‘n trop van by die duisend buffels steek lui-lui die rivier oor, ‘n streep drawwende wildehonde (daar is selfs ‘n waarskuwende padteken!) , ‘n leeumamma met ‘n welpie in die bek of ‘n luiperd in ‘n rumoerigheid met bobbejane – ‘n gelukkie wat ons een Sondagoggend op pad Skukuzakerk toe oorgekom het. Amper was ons nie betyds vir die laaste gelui nie.
Skaars twee kilometer vn die huis gewaar ons die luiperd op ‘n rots in die Sabierivier, skuins voor die Hotel Kruger Gate. Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid. As hy maak of hy mik, retireer die sekelsterte met ‘n spoed. Staan hy stil, skuif die ou lot arrogant nader met die hoofman oor honderd handeviervoet op die voorpunt.
Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend. Die luiperd vererg hom, en gee ‘n elegante sprong in die bobbejaan se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor.
Die granietbeeld van pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid. Op sy kop sit die voortvlugtiges naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.
Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby. Die toonbeeld van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug. Toe moes ons aanstoot.
Olifante kom gereeld hierlangs voor. Die rivier by die bedrywige Krugerhek is, ondanks sy nimmereindigende kom en gaan van toeriste, taxi’s, busse en swaar vragmotors, ‘n “uithangplek” waar die grootvoete graag hul slurpe laat sak. Hier het besoekers al hope olifante afgeneem. Selfs teenaan, en in skynbare “gesprek” met, die forse granietfiguur.
Twee keer het olifante ons ingewag langs die groot bord wat lui: “Welcome to the Kruger National Park”. Twee ander kere weer verdwaalde renosters aan Oom Paul se voete.
Party haastige mense jaag blindelings oor die brug. Hulle besef nie wat hulle alles kan miskyk nie. By die hek se ontvangstoonbank herken ek een middag ‘n jong man se melodieuse Franse aksent. Hy en sy vroulike metgesel kom van Parys. Hulle is pas haastig by ‘n witrenoster op die gras voor die beeld verby. Ek groet en verduidelik: “In die wêreld moet jy stadig ry en deeglik rondkyk, vriend.”
Ek vertel hom van die renoster waarby hulle, woeps, verby is. Hy betuig innige dank oor die vriendelike advies – “Thank you, thank you” – maar: “We have already seen a rhino in Hluhluwe.” Jy kon hierdie Suid-Afrikaner met ‘n tarentaaldonsie omtik oor daardie nonchalante respons.
Nonchalantheid van ‘n ander aard kom jy ook teë. In my verbeelding sien ek een oggend ‘n peloton Joodse soldoedies doelgerig van ‘n gepantserde David-voertuig spring om ‘n Palestynse vesting in die Gasastrook stormenderhand in te neem. In werklikheid was dit nie dienspligtiges nie, maar ‘n spannetjie jong Israelse toeriste – mooi meisiekinders in ontspanningsdrag.
Die voertuig is ook nie vir militêre doeleindes ontwerp en gebou nie, maar is ‘n donkergroen Toyota wat as ‘n safarivoertuig dien met ‘n wildtuinerige embleem op die kajuit se deure. Die ”vesting” is ‘n groot olifant – donker en dreigend in die sterk skemer skuins na 06:OO. Ek sit in my 20 jaar-oue Honda en wag. My vrou, Tokkie, staan in die tou om vir ons ons Wildkaart-permitte te registreer.
“Elephant,” kreet ‘n swartkop in ‘n wit bloes en donkerblou jeans skielik. Met ‘n akrobatiese sprong is sy van die agterbank op die Toyota se bak op die grond en agterom die Honda. Toe haar selfoon flits, bemerk ek die olifant onheilspellend naby.
Dis of haar maters ‘n opdrag van ‘n streng sersant-majoor gekry het. Almal tuimel van die Toyota af en woerts voor en agter verby my kar die bos in. Flits, flits, flits.
Sal ek op die vlug slaan, wonder ek, want as die ou kwaad raak en storm is die Honda klaarblyklik op die onveiligste plek buite daardie hek op daardie oomblik. Die volgende oomblik raak hy inderdaad kwaad. Hy trompetter luid en swaai die ore. Jy sien net meisiekinders retireer. Ek klou net die stuurwiel al hoe stewiger vas.
Gelukkig is die vinnige aftog van die meisies vir die olifant genoeg van ‘n ego-stimulant vir die dag. Hy storm nie regtig nie. Vinnig is almal terug op hul plekke op die groen Toyota. Die olifant gaan rustig voort met sy aktiwiteit en Tokkie kom uit die kantoor met ons papiere in die hand, onbewus van die insidentjie waarby haar doodonskuldige man amper betrek is.
Nie onverwags nie, wag ellelange toue motors soms in vakansies en langnaweke om by die hek in te kom. Veral op Kersdag, Nuwejaarsdag en spesiale vakansiedae stroom al hoe meer dagbesoekers na die Wildtuin, en raak toegang weens die streng beheer oor die getalle (en hul drinkgoed) soms moeilik. Die beste raad is om vroeg te roer of te bespreek. Laasgenoemde kos jou ekstra.
Goeie kontrole is egter te verwelkom. Ek het al gesien hoe twee opportuniste met die Ster van Dawid op hul lapelle ‘n jaggeweer verby die hekwagte probeer insmokkel (stropers?). ‘n Wakker Sjangaanse vrou het haar, tot haar eer, nie om die bos laat lei nie. Sy het koppig volgehou sy “wil sien”. Die twee moes onwillig die geweer te voorskyn bring. Deesdae word drank partymaal met dieselfde ywer uitgesnuffel as daardie dame daardie skietding. Vir sommige dagbesoekers laat dit knor as hulle hul voggies kwyt is,.
Snelstrikke is veral smiddae nie ongewoon tussen Skukuza en die Krugerhek nie. ‘n Fris boete is nie die lekkerste manier om ‘n Wildtuinvakansie mee af te sluit nie. Hou dus maar die horlosie fyn dop.
Daardie strik is in die jare 90 meesal deur wyle Cas van der Walt van die Parkeraad (nou Sanparke) beman. Een middag hoor hy takke kraak. Hy verstyf, maar dit is nie ‘n roofdier wat hom bekruip nie. ‘n Vrou met hare wat in toutjies hang en krapmerke op haar kaal arms en bene, beur haar pad deur die sekelbosse oop. Dit blyk sy en haar man het ’n verskilletjie gehad. Dit was naderhand só hewig dat hy haar uit die motor smyt. Sy was briesender as ‘n leeu, het Cas vertel.
Nov 24, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Hier onder is my resensie. op versoek van Beeld, van Tol Pienaar en span se magtige bakenboek oor die geskiedenis van die Laeveld en die ontstaan van die Krugerwildtuin, Neem uit die verlede (Protea, 2007).Die resensie het helaas ook verlore geraak.
Die ensiklopediese boek beslaan 767 groot bladsye plus vyf los kaarte. Al was ek 15 jaar jonger, moes ek lees, hoor, om daardie resensie betyds te kon lewer!
SOOS SPORE BY ‘N WATERGAT
Soos die see van spore by ‘n watergat in die Krugerwildtuin lê die voetspore in hierdie boek van mense wat ‘n wilde landstreek – nie om dowe neute nie nog tot 1930 bekend as die “witman se graf” – kom tem het.
Die San, magshonger swart “koloniste”, die Voortrekkers van die roemryke Trichardt-era, voorposmense soos die Portugees João Albasini, ontdekkingsreisigers, sendelinge, goudhonger fortuinsoekers, transportryers, beroepsjagters, wildstropers, smokkelaars, Crooks Corner se alle soorte swartskape – almal duik op, doer van die Steentydperk af. Dan, na ‘n jammerlike “eeu van uitdelging”, oplaas ook die heldegalery van stoere Wildtuin-pioniere wat Paul Kruger se grootse ideaal moes vergestalt.
Ons leer ken in-diepte natuurbewaarders soos die fanatiese James Stevenson-Hamilton – die nimlike Skukuza (die “een wat skoon vee”) – wat bestem was om so ‘n reuse-rol te speel; Harry Wolhuter, legendariese oorwinnaar oor ‘n leeu in ‘n kaalhand-geveg, en sy seun, Henry; Lou Steyn, wat sy hand in ‘n gewonde leeu bo-op hom se bek gedruk het om sy tong vas te gryp, Bert Tomlinson wat nooit weer ‘n leeu vir ‘n bondel hout sou aansien nie….
Om al hierdie diverse voetspore – van deurlugtiges tot ongures – uit ‘n romantiese waas te ontrafel en in ‘n sober historiese konteks te verpak, is die enorme taak wat Tol Pienaar en sy span aangedurf het. Die resultaat is ‘n boek van ensiklopediese omvang, heerlik leesbaar, keurig versorg en beslis ‘n baken in die stelselmatige oopskryf van ‘n stuk van die aangrypendste Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Ervare reisigers dons nie sommer net met dwase moed in nie. Hulle weet: hoe grondiger die huiswerk, des te vrugbaarder die reis. ‘n Vinnige oriëntasie het my bv. die kans gebied om twee keer stil te staan by J.B. de Vaal se ontroerende klein kamee oor Dina Fourie – ‘n verhaal van ‘n vrou van staal se leeuemoed en die opperste trou van haar swart Samaritaan, Makakikiaan, indoena van Chabana, in ontberinge wat die hart vasgryp (p.206). Dit was die moeite werd.
Ook aan die sjarmante fotoskat uit ‘n Wildtuin van weleer kon ek my in dié voorlopige vingeroefening al verkneukel: dowwerige tweespoor-paadjies, eenvoudige rondaweltjies in uiters basiese kampe, ponte oor riviere, piekniekplekke in die bos… Ons het weliswaar die gerief; ons voorgeslagte het die romantiek gehad (vergelyk die jong manne wat by Onder-Sabie in die rivier was en skeer op p. 603)! En – wrintiewaar! – kyk daardie kansvatters op die dakke van hul tjorries (p. 574). Hulle kyk leeus in die 1930’s.
Op p. 541 skryf Pienaar: “So is die goeie aarde wat vandag die Krugerwildtuin is …. met bloed gedoop.” Dit is ‘n sleutelsin in dié meesleurende boek. Baie het immers in die Wildtuin hul bloed vir ‘n ideaal gestort. Nog meer het op ander altare hul lewens opgeoffer vir hul ideaal van ‘n beter, toegankliker Laeveld vir hulleself en hul nasate.
Impi’s se bloedige kampanjes; veldslae van die Anglo-Boereoorlog; die gevreesde malaria; leeus, luiperds, olifante, seekoeie, buffels, krokodille en slange; hongersnood, watergebrek, hitteslag, brande en vloede; moord en doodslag – niks kon hierdie opmars na ‘n nuwe beskawing stuit nie. Die nasate kan hul safarihoede in dankbaarheid hoog lig vir daardie vasbyters, soos Pienaar-hulle dit so waardig doen.
‘n Nuwe dimensie in dié gedugte boek is hoe ingedelf word in die verre verlede toe die Laeveld (nog) woes en leeg was (hoofstuk 1, p.11.) Die San-faktor kry uitgebreide erkenning en rotsskilderkuns word omvattend gekarteer. Historiese integriteit word verder gedien deurdat swart veldwagters van formaat verdiende eer kry. Een is Mankoti Nkuna wat hom 36 jaar na die Wolhuter-insident ook alleen in ‘n leeu vasloop. ‘n Feitlik identiese sage speel hom af. Mankoti was minder gelukkig as sy eertydse baas. Sy eie pa het die volgende dag sy lyk gekry.
Partikuliere uitdagings en verwikkelings vir die Wildtuin na die koms van demokrasie is vlugtig bygewerk. ‘n Mens wonder egter: moes die boek nie tog – al was dit net met ‘n ekstra voorwoord – t.w.v. nog groter eietydse relevansie sterker by die eise van natuurbewaring in die 21ste eeu aansluiting gesoek het nie?
Foto’s sorg vir ‘n sterk visuele element. Die Singapoerse kleudrukwerk is egter wisselvallig en party foto’s is eenvoudig te klein. ‘n “Unieke natuurtoneel” (p. 529) kan nie tot een kolom gereduseer word nie. Meer dierefoto’s soos op p. 687 (swartwitpense) en p. 569 (wildbeeste en sebras) sou ‘n aanwins gewees het. Die dramatiese omslagfoto is kennelik op die buitengewoon historiese waarde beoordeel (kyk p. 635). Ongelukkig ly die impak met vergroting skade.
Die boek volg kort op die hakke van Salomon Joubert se prag-trilogie, The Kruger National Park – A History, wat spesifiek op natuurbewaring gefokus is. Neem uit die verlede en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ‘n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” (p.610).
Jan 28, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kerk in Skukuza.
Sondag toe ons die unieke doopvont – ‘n knoetsige stomp hardekool op wieletjies (omdat dit so swaar is) – voor die kansel sien staan, besef ons dadelik: vandag word hier gedoop in Skukuza-kerk.
Doop is, raar maar waar, ’n seldsaamheid in die wildtuingemeente. Sondag was maar ons tweede in die oor die 20 jaar dat ons in Sabiepark kom kuier. Dit beteken natuurlik geensins in al die jare is net twee keer gedoop nie, genade, nee – maar ds. Carl Louwrens bevestig: die doop is ’n sakrament wat in sy kerk nie aldag bedien word nie Hoekom, weet hy nie. Sy eie plig het hy immers nie in die verband versuim nie, gee hy met ‘n vonkel in die oog die versekering.
So min word, trouens, gedoop dat hy elke keer skaars sy lus kan bedwing om die hele uitvoerige doopformulier woord vir woord te lees voordat hy die gebruiklike vrae aan die doopouers stel.
Sondag het die doopouers, Conrad en Maya Booyens van Letaba, hom as ’t ware gesystap – darem met sy goedkeuring. Die doop-belofte was ’n intieme selfgeskepte dokument. Mamma Maya het dit voorgedra – plek-plek met ’n bewende onderlip. Pappa Conrad, trots soos ‘n pou, het uit die Bybelboek Sagaria ’n stukkie voorgelees.
Klein Hugo Booyens was ’n regte meneertjie so met sy deftige kruisbande en al. Stroopsoet en geduldig het hy in sy ma se arms gesit terwyl ’n video van hom in ’n verskeidenheid monderings in verskillende omgewings vertoon is. Op een skyfie was hy op ’n antieke wakis, het dit gelyk. Op ’n ander weer op ’n moderne smuktassie. Elke grootouer het kans gekry om vir die kamera die kleinkind vas te hou.
Wat my en Tokkie betref, was hierdie karaktervolle doop ’n tradisie wat voortgesit is. Ook ons eerste doop in hierdie intieme boskerkie in die personeeldorp, waar vlakvarke soms die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom by die trappe hul eie koorsang aanhef, was iets om te onthou.
Die meisietjie se rokkie was die ene donsige tarentaalveertjies. ‘n Kinderkoor het haar toegesing, ‘n CD is gespeel en in die voorportaal was ‘n reuse-tietiebottel: een waarmee wees-olifantjies gevoed word. Na die diens was daar ‘n kreunende koektafel onder die bome wat elke kerkbasaar eer sou aandoen. Die dooptee was vir almal in die kerk – ook vir die uwe in sy sportiewe vakansiedrag wat toe nog ‘n volslae vreemdeling vir die liewe mense van Skukuza was.
Ds. Carl het altyd ‘n boodskap wat tref. Sondag het hy almal weer diep laat nadink oor die voorbeeld wat hulle stel vir hul kinders wat hul voetspore sal moet volstaan. Hoor julle kinders julle byvoorbeeld ooit hardop bid? Sit julle ooit saam om ‘n tafel en lees uit die Bybel?
In April doop hy ‘n eie kleinkind – sy tweede dogter, Madge, se dogter – in die gemeente Blouberg in die Kaap, ons buurgemeente. Vir seker gaan die Van Deventers die geleentheid bywoon, Wonder net of die hele formulier dan gelees gaan word. En of ds. Carl dalk ‘n bietjie bewoë gaan raak, soos sy vrou, Sarah, stellig verwag.
Mar 2, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Hartverskeurend as “custos naturae” “verwoestos naturae” word.
Ongelukkig is die hofverskyning van die vier uniformdraers van Sanparke in verband met renosterstropery nie die eerste omkering van rolle in die laaste jare in die geliefde Kruger-wildtuin nie.
Ek onthou nie alle onderduimshede nie, maar ‘n besonder pynlike geval was toe arme rooibokkies wat in die kampong van die KNP staan en wei het, op ‘n Sondagmiddag na ‘n fuifparty met stokkie en ysters getakel is en pap gemoker is vir die pot.
Die skuldiges is aan die man gebring, maar die hantering was tog maar ietwat suutjies-suutjies. Ook die media moes, na my oordeel, gerus maar hul knaldempers oor hierdie insident meer afgehaal het.
Of daardie “sagte benadering” ‘n rol gespeel het dat Sanparkmanne toenemend voor die versoeking swig om hul missie onder die mat in te vee ter ere van die god Mammon, kan ‘n mens maar net raai. Die vrees om vasgetrap te word, skrik ‘n sekere seksie nie juis af nie.
Toegewyde natuurbewaarders soos die Stevenson-Hamiltons, Wolhuters, en later ook die Salomon Jouberts en Tol Pienaars sou seker lang trane stort oor die verwording van die nasionale bate van die Krugerwildtuin wat hulle met liefde, sorgsaamheid, sensitiwiteit en doelgerigtheid opgebou en uitgebou het.
Ek kry ook die huidige geslag leidsliede jammer. Hulle moet moedeloos en tam voel. Taakspanne neem deel aan die stryd, weermag-eenhede word ontplooi, helikopters woer-woer in die lug, swaar militere vragmotors woerts by wildkykers verby op anti-stroper-sendings, ekstra veldwagters word aangestel, maar stropery duur op groot skaal voort.
Selfs veeartse neem uit gierigheid lustig deel ter wille van vulgere selfverryking.
Die koste van die operasie om ons kosbare renosters teen die bose aanslag te beskerm, moet miljoene der miljoene bedra. Op die foto is van die plakkers wat Desember/Januarie by die hekke van die NKP in pakke uitgedeel is, en wat self ‘n mooi klompie moet gekos het. Van die huidige span wetsoortreders was skynbaar so sinies (uitdagend?) dat hulle safarivoertuie vir hul duiwelswerk verrig met sulke plakkers op prominente plekke opgeplak!
Die idee om daardie gewetenlose vente in die openbaar van sekere van hul eie bates te stroop, raak vir my al hoe aantrekliker.
G’n renosterhoring sal daarna as plaasvervanger kan dien nie! (HvD)
Jan 23, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Oor “Duisend dae in die Sabie” het Vrydag ‘n “gulle”* resensie in “Die Laevelder” verskyn. Die resensent is Marius Bakkes, ‘n media-raadgewer en redakteur van reis- en toerisme-tydskrif in die Laeveld, en bestempel homself o.m,. as “bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word.”
Bakkes skryf:
“Oud-koerantman Hennie van Deventer se “Duisend dae langs die Sabie” is ‘n hedendaagse werfjoernaal wat veral tot baie in die Laeveld sal spreek. Dis die aantekeninge en kant-aantekeninge van etlike jare se gereelde verblyf by sy vakansiehuis in Sabiepark.
“Hierdie is ‘n uitsoek- private ontwikkeling op die walle van die Sabierivier digby die Krugerhek. Talle bekende Suid-Afrikaners en wildliefhebbers het oor die jare daar vakansieplekke en woonhuise gehad. Ek dink aan Mimi Coertse en die sakeman Werner Ackerman. Die bekende Afrika-wildlewe-kinematograaf David Hughes en sy fotograafvrou het op ‘n stadium permanent hier op Sabiepark gewoon. Oor hulle het ek weer ‘n SAUK-televisiedokumentêr kom maak na die bekendstelling van Hughes se suksesvolle National Geographic-produksie “The last feast of the crocodiles”. Die bekende argitek, kunstenaar en bewaringskundige, Hannes Meiring wat onlangs dood is en sy vrou, die joernalis Martie Retief het my en ‘n paar vriende een slag die eksklusiwiteit van Sabiepark laat beleef. Hannes en Martie het hulle lieflike Afrika-huis hier op die rivierwal vir ‘n naweek tot ons beskikking gestel nadat hulle weer op ‘n keer my wegbreekhuisie op Rhodes in die suidelike Drakensberge besoek het.
“Van Deventer was onder meer redakteur van Volksblad in Bloemfontein. Hy het as uitvoerende hoof van koerante by Naspers afgetree. Sy vol lewe as persbaas het hom egter nie verhoed om talle publikasies, meestal herinneringskrifte en vertellings die lig te laat sien nie. Duisend dae langs die Sabie is die jongste en handel oor die ervarings wat van Deventer en sy mense oor die jare hier beleef het. Die van Deventers wissel woonplekke met ‘n aftree-strandhuis by Melkbosstrand af.
“Hier op Sabiepark is hy en sy vrou Tokkie fyn waarnemers. Synde oorkant die rivier van die Krugerwildtuin bly Sabiepark met sy woonhuise verskuil van mekaar tussen die bosse die ideale plek op die wildbedrywighede te bestudeer en van naby te beskou. Dikwels is dit sommer van die stoep af, en dis dit wat van Deventer hier raakvat.
“Sy poging is ‘n goeie voorbeeld vir enigeen van ons wat graag veldnotas maak. Hy dra sy belewenis gul oor en maak mens lus om net weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar.
“Vir my as bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word, is dit ook ‘n belangrike publikasie. Dit is nog ‘n ervaring aangeteken en ‘n tydgees vasgevang. Dikwels is dit daardie enkele eenvoudige herinneringskrif bedoel net vir familie wat die geheim van mens en plek soos dit eens op ‘n tyd was die beste ontsluit. Hier is dit ‘n deurwinterde Afrikaanse joernalis aan die woord.
“ ‘Duisend dae langs die Sabie’ is te kry by die Park Shop-winkels in die wildtuin. Dis ook beskikbaar by Protea Boekehuis in die Tarentaalsentrum in Nelspruit. “
*Ek leen die woordjie “gul” by die resensent, wat bevind dat die skrywer sy belewenis “gul” oordra en ‘n mens “lus maak om weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar”. Die opskrif is: “’n Unieke werfjoernaal”. (HvD)