KREEF OP DIE KOLE

Kreef op die kole by Sabiepark se piekniekplek.  Vir ons was dit iets nuut. Waarskynlik  ook ‘n eerste vir Sabiepark.

Johan en Mariza het die begeerlike seekos saamgebring toe hulle die laaste week van ons lang wintervakansie uit Oudtshoorn kom saamkuier het.  Die kreef kom uit Sedgefield se waters. Mariza het in die biezondere omstandighede die braaigereedskap oorgeneem en die heerlike happies tot perfeksie gebraai – so ‘n goue roesbruin, as so ‘n kleur bestaan.

Met die saamkuier – gekenmerk deur groot vure, bobaas-braaigeregte (dankie, Johan) en rojale rooiwyn-verbruik – is die vieringe van ons verbintenis van 25 jaar met Sabiepark feestelik afgesluit.

Danksy Jimmy en Lida Pressly was die tradisionele skemer-piekniek op die Granokoppie op die program. Ook ‘n lekker ontbyt by die gholfklub, gevolg deur ‘n wildrit na Leeupan wat stillerig verloop het.  By die piekniekplek het ons darem mooi olifante gesien en ‘n luiperd net-net misgeloop.

Teenspoed het nie uitgebly nie. ‘n Bosluis of twee het Mariza bygekom. Bosluiskoors was die gevolg. ‘n “Sportbesering”, noem sy dit filosofies.

By Tarlehoet het twee baardspegte ons die laaste middag plesier verskaf met ‘n verbete aanslag op die maroela by die stoep. Die stryd teen die vlermuise is ongelukkig nie met welslae bekroon nie. Ons is redelik raad-op, Alle rate is uitgeput. Dalk trek hulle vanself. Hoop maar so.

Die reis na die Kruger-Mpumalanga-lughawe was nogal iets om te onthou. Eers het ek my amper misreken met die tyd.  Ons was net betyds.  Ten tweede het die immobiliseerder se batterytjie by die Phabenihek gekalf.  Ons dag eers ons is gestrand. Toe onthou Tokkie gelukkig van die sleutelgat in die deur.

Die amperste moles was egter Cielie Versfeld van NSTBC se blaps om skoon te vergeet van die laat haal van die Honda. Tokkie moes vinnig spring om parkeerplek te gaan soek terwyl ek, kierie en al,  met die bagasiewaentjie by die vertrektoonbank gaan inval.

‘n Laaste woord oor die nege weke se verblyf raak die lees van die nege A4-boeke. ‘n Boodskap wat werklik sterk daarin deurkom, is die rol van  kleinwild soos duikers (nou baie minder)  en vlakvarke (nou afwesig) om by die kleinkinders ‘n verknogtheid te kweek en ‘n boskultuur te vestig.  Ons mis die ou dae se veel drukker wildverkeer – veral die gereelde koedoebesoeke om die voëls se pitjies te gaps.

Ek en Tokkie stem saam dat die regte resep vir Sabiepark radikale ontbossing is ten einde meer weiding te skep. Om eenvoudig net gedurig wild minder te maak, werk nie. Dit skep nie waarde nie, maar takel waarde af. Ernst Bezuidenhout, nuwe parkhoof, het al van my verskeie kommunikasies ontvang. Nog is op pad.