UILE VAN VOLKIES

Die Uile van Kranskop is eintlik die Uile van Volkies. Dit het ek – self ‘n oud-Volkie van Potchefstroom – darem so half en half geweet. Vandag het ek die bevestiging gekry in Erika Terblanche se ATKV|LitNet-Skrywersalbum oor die vrugbare jeugverhaalskrywer.

Uit Erika se profiel – so omvattend en insiggewend soos altyd – kom ek toe sommer ‘n paar nuwe brokkies te wete, soos dat Dirks koshuisvader was van Jack Pauw – die koshuis waarin ek self vier vervullende jare geslyt het, van 1954 tot 1957.

Verder: Vaatjie – een van die Uile – was in die werklike lewe Vaatjie Botha. Ek het geglo die ou grote was Vaatjie du Toit wat in matriek was toe ek in 1953 in standerd ses op Volkies aangekom het – die eerste jaar nie as koshuiskind nie.

Hoe klein die wêreld is, kom ek weer agter toe ek lees dat dr. Justus Dirks Cor Dirks se seun was. My magtig. Justus was saam met my in Kollegetehuis aan Tukkies. Ons was ‘n paar keer die vleuels in dieselfde koshuisspan. En ek wis nie sy pa was die skepper van Die Uile van Kranskop wat ek in standerd vyf so verslind het, en sy opvolgers nie.

Die gesoute onderwysman en gewild skrywer van jeugverhale was van begin 1938 af leerkrag by die Volkies (die Hoër Volkskool), hoofsaaklik as geskiedenisonderwyser, maar ook vir Afrikaans. Hier was hy dertien jaar lank werksaam. Hy het afgetree as hoof van die Hoërskool Linden in Johannesburg.

Hy was self lank in ’n koshuis en was ook koshuisvader van Jack Pauw. “Dit het gesorg dat ek die jong knape se streke baie goed leer ken het, en toe ek eers begin boeke skryf het, het ek sommer nog ’n paar streke uit my eie verbeelding bygevoeg,” haal Erika Terblanche hom aan.

Terwyl hy skoolgehou het, het Cor nooit in skooltyd geskryf nie, maar altyd in die vakansies en het later só geoefend geraak dat hy sommige boeke sommer in tien dae kon klaar skryf. Ander het ’n bietjie meer werk geverg en moes dan maar tot die volgende vakansie oorstaan.

Die Uile van Kranskop, wat in 1949 verskyn het, was die eerste in ’n reeks van dertien boeke wat die wel en wee van ’n bende van standerd ses tot in die militêre akademie gevolg het. Van 1992 tot 1996 is die Uile-reeks in vier omnibusse deur Perskor uitgegee.

Gretel Wÿbenga het oor Die Uile-omnibus 1 die volgende kommentaar gelewer: “In ‘n tyd toe Afrikaanse kinderboeke min was, lank voor die televisie alle leestyd opgeslurp het, het kinders gefloreer op Die Uile-boeke. Hierdie boeke was inderdaad kop en skouers beter as die ander reekse van dié tyd (die jare vyftig, so om en by), soos die Keurboslaan- en Maasdorp-boeke of die Saartjie- en Trompie-reekse.

“Ag, die bekoring darem van daardie geheimsinnige ge-‘hoe-hoe’ van die vyf bendelede: die sterk en goeie leier, Philip; ronde Vaatjie, petieterige en bebrilde Jorsie (die’’nerd’ in vandag se terme); hakkelende Hennie en Berrie.
Cor Dirks is op Sondag 15 Oktober 2000 ná ’n siekte van twee maande op Barberton, Mpumalanga, by sy seun, die nimlike dr. Justus Dirks, oorlede. Hy was daar om ná ‘n heupoperasie aan te sterk.

Hoewel Dirks meer as 40 boeke geskryf het, het hy in sy lewe min erkenning ontvang. Die jaar voor sy dood is ’n Akademie-oorkonde op die Aardklopfees op Potchefstroom aan hom oorhandig. “Ons was so bly dat hy darem ’n bietjie erkenning gekry het,” het sy dogter gesê. “En die lekkerste was dat dit oorhandig is deur een van die Uile, Vaatjie Botha.”

In daardie stadium het twee ander Uile nog geleef – Flip (in die werklike lewe dr Philip Smith) en Hennie Pretorius (eintlik Putter).

Hoe ‘n lekker band ervaar ek nie opnuut met my liewe skool daar tussen die rotskoppies en doringbome langs die Mooirivier nie wanneer ek so van die Uile, hul skool, hul koshuis en hul skepper lees.