DIE KUNS VAN ‘N DOEDELMEESTER
As om te krabbel of skribbel (Engels “doodle”) een van jou gewoontetjies is en skilder jou na aan die hart lê, kan ‘n kombinasie van die twee verrassende resultate lewer. Kyk maar die foto hierby.Die hand aan die pen was die van niemand minder nie as prof. Piet Cillié, eerbiedwaardige redakteur van Die Burger voordat hy Joernalistiek-professor aan die Universiteit van Stellenbosch en voorsitter van die direksie van die Nasionale Pers (later Naspers) geword het. Dit is sorgvuldig bewaar deur Andrew Marais, skakelhoof wat notule by direksievergaderings gehou het. Ek kry dit by Andrew se vrou, Pietie.
Volgens Wikipedia word die produk van skribbel ‘n skrabbel genoem. Baie mense gebruik sommer doedel (soos die Engels) as werkwoord en selfstandige naamwoord. Hoe ook al, is dit ‘n tekening wat gemaak word terwyl ‘n persoon se aandag elders is – in hierdie geval seker by ‘n meer of minder boeiende betoog van ‘n ander direkteur.
Gewoonlik is die die prentjie bra eenvoudig: dikwels net lukrake, abstrakte lyne of ‘n stokmannetjies sonder om die pen/potlood van die papier te lig. Nie Piet Cillie s’n nie. Kyk byvoorbeeld die detail van medaljes en knope op die offisier se uniform of golwende berge en netjiese pad.
Die hooftema is die yslike sampioen (paddastoel) en die grootbek-padda daar onder. Volgens Marais was Cillie lief om sampioene en paddas te teken. Maar wat sou dit beduie? Trouens, wat sou die simboliek van die geheelbeeld tog kan wees? Dalk wil iemand bespiegel?
Cillie was ‘n “genie met die groot hart”, aldus adv. DP de Villiers wat voor Ton Vosloo besturende direkteur was. Skilder was die “genie” se ander dalk verrassende stokperdjie naas musiek. In die middel 1950’s het spotprent-tekenaar TO Honiball die toerusting vir hom geskenk: kryt, kwassie, ’n eseltjie, die lot. Waar die Cillié’s uitgespan het, het die skildergereedskap uitgekom: op Montagu en Prins Albert, in die Swartberge, op Florabaai, by Houtbaai, in die Karbonkelberge en uiteindelik op Bloubergstrand. Toe hulle daar intrek, is Tafelberg uit elke moontlike hoek verewig.
Daardie talent skemer hier deeglik deur, meen ek. Dit is die kuns van ‘n doedelmeester.

As hy nie aan’t teken was nie, het Cillié graag speel-speel-versies opgetower. In sy parodie op die parodie van AG Visser op Jan F. Celliers se bekende gedig Die Ossewa bemerk ek nogal fyn selfspot. (Kyk foto)
Die versie kom ook via Pietie Marais by my uit. Albei word vandag hier die eerste keer gepubliseer. Ek is haar dankbaar.