May 10, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Volledige weergawe van my brief oor Covid 19 wat Saterdag in verkorte vorm in Die Burger verskyn het.
‘n Hardnekkige virus wat die wệreld in ‘n wurggreep het, ‘n deurmekaarspul met regulasies wat nie altyd sin maak nie, magsdronk wetstoepassers en vrot kommunikasie. Roer hierdie vier elemente saam in ‘n pot. Die resultaat is ‘n brousel van verydeling, moedeloosheid, kommer en, uiteindelik, opstandigheid.
Die publiek, aanvanklik so gewillig om saam te werk en op te offer, raak toenemend vervreem. Sosiale media gons van onhebbelikhede wat dese en gene weens masgevergrype en swak oordeel moes verduur.
Hoe stoei jy jou pad oop uit so ‘n moeras? Kitsoplossings bestaan ongelukkig nie. Om eenvoudig net voort te ploeter, is egter geen manier om die moreel te lig en groter vertroue in die hantering van die krisis te vestig nie.
Skerp in die eerste plek jou kommunikasie op – ook intern, want tussen die “bevelsraad” se insigte en die uitvoering op grondvlak is opsigtelik reuseklowe. Om onderlinge wanbegrip en teenstrydighede te probeer stroomlyn, verg sterk leierskap wat ongelukkig op die oomblik ontbreek.
‘n Komitee (kollektief) kan nie aan die spits wees in ‘n krisis nie. Cyril Ramaphosa sal sterker, meer dinamies na vore moet kom, nie net dan en wan op TV verskyn (altyd ‘n rukkie laat weens allerlei konsultasies) en dan 40 minute lank ‘n motiveringsrede van ‘n skerm lees nie. Die land smag na die ferm hand van ‘n kaptein.
Nogal vreemd vir ‘n regering wat so lief is vir “spokespersons” het sy korona-kampanje nie ‘n bedrewe eie kommunikeerder in daardie rol nie. ‘n “Meneer (of Mevrou) Covid 19” is onontbeerlik om regulasies, veranderinge en beweegredes daagliks helder en bevatlik (nie mompelend) aan die publiek oor te dra.
Die aksie het ewe dringend ‘n eie ombudsman nodig – nie een wat lang ondersoeke van stapel laat loop nie, maar wat vinnig, met gesonde verstand, in onsekerhede en dispute uitsluitsel kan gee.
Ten laaste bestaan behoefte aan ‘n klagtelyn, 24/7 soos hulle sệ. ‘n Amptelike uitlaatklep kan van die venyn wat nou op sosiale media vloei, in vrugbaarder kanale stuur.
Apr 2, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Masker of nie masker nie – dit is die vraag. In Die Burger se meningskolom gister blyk verwarring, teenstrydigheid en frustrasie oor onsekerheid.
Met die lewenservaring van amper 80 jaar wil ek voorspel ons gaan hieroor bly stry en mekaar oor en weer begluur, oor ons maskers of daarsonder.
Ekself dra nie masker nie. Gaan ook nie, tensy ek, al niesende en proesende, strydige strenge mediese opdrag ontvang. Volgens my leke-insigte kan ‘n masker, veral die self-geprakseerdes, ongemaklik, jeukerig, sweterig en selfs teenproduktief wees.
Vir my anti-masker-standpunt – terwyl ek, toegegee, genadiglik nog spekvet en gesond is – kan ek dankbaar op die uitsprake steun van minstens drie gesaghebbendes, internasionaal en nasionaal.
Kenner een: Die Wêreldgesondheidsorganisasie. Dié draai nie doekies om nie: “WHO officials do not recommend mask wearing for healthy members of the general population. Masks should be worn by those with the disease or those in close contact with those infected.” As iemand my nie wil glo nie, lees hier: https://www.weforum.org/agenda/2020/03/who-should-wear-a-face-mask-30-march-who-briefing/
Kenner twee: Die Wes-kaapse department van gesondheid. “Die departement waarsku mense dat hulle juis met die koronavirus besmet kan word eerder as om dit te keer as hulle die gesigsmaskers verkeerd dra … Indien jy nie siek is nie en nie nabye kontak het met iemand wat die koronavirus het nie, is dit nie nodig om ‘n masker of handskoene te dra nie,” volgens dr. Beth Engelbrecht, hoof van die Wes-Kaapse department van gesondheid. (DB, Maandag 30 Maart, p.2).
Kenner drie: Die Gautengse eweknie. “Beskermende drag soos maskers, handskoene en skermbrille moet nie onnodig gebruik word nie. Die departement sê baie mense plaas hulself eerder in ‘n groter gevaar om die korononavirus op te doen deur bogenoemde op die verkeerde manier te dra.” (DB. Woensdag 1 April, p. 8).
Hiermee, soos ons geleerde vriende in die hof hul sake met ‘n swierige handgebaar sluit: “I rest my case”. Nie dat ek veel hoop het dat sulke gesaghebbende getuies verbete maskerdraers tot ander insigte gaan bring nie. Die masker-mite gaan hom nie sommer laat ontmasker nie.
(Die brief van my was vanoggend op Netwerk24 en in Volksblad)