Oct 4, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vra iemand my waar my hart vandag is, is die antwoord nie Twickenham in Londen nie. Ja, daar ook, maar eintlik in Pretoria waar my koshuis in my Tukkiedae, Kollege / College, sy 110de bestaansjaar feestelik vier.
In daardie plek het ek vyf van die gelukkigste jare van my lewe deurgebring en vir hom is ek na meer as ses dekades steeds brandend lief.
Ek was in 1958 eerstejaar in die ou Kollege (toe nog met ‘n K) skuins oorkant die Ou Letteregebou op die kampus en was een van die pioniers wat in 1960 die Groot Trek na die Proefplaas meegemaak het.
In 1962 was ek huisvoorsitter – so plus-minus die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd. Ek is nou die oudste lewende lid van daardie spesie.

Oumanne van opeenvolgende generasies vier hul band van broederskap vandag met ‘n la-a-a-ang dinee wat vroegmiddag al afskop. Ek is die eer aangedoen om ‘n stemboodskap by te dra. Daarin roep ek die Kollegemanne so op: Wees trots op julle plek. Julle het rede. Bly lojaal aan hom, hy verdien dit. Bly lief vir hom. Dit bied ‘n lewenslange vreugde.
Op een foto is ‘n skyfie wat vir die okkasie voorberei is met enkele foto’s uit my studentedae en ‘n foto by my 80ste verjaardag, vier jaar gelede. Die ander foto is van die HK van 1962.
Op die HK-foto, ongelukkig van onbevredigende gehalte omdat dit agter glas is, is is nou net ‘n skamele drie van die agt oor: die uwe (sittende in die middel), Pierre le Roux (regs van my) en Piet Theron (agter my en Pierre). Die oorledenes is van links Arend de Waal, Oom Chris de Wet (huisvader), Naas du Toit, Hennie Smit en Jan-Jacob de Jager (heel regs).
May 27, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Toe ek vanoggend my kruisie trek, kom die gedagte onwillekeurig op: Is dit dalk my laaste?
Miskien is die gedagte gestimuleer deur die wete van my vriend Pièrre Theron wat in die waakeenheid op Mosselbaai is en so graag “vir oulaas” wou stem. Ek en hy is ewe oud: 83.
Vanoggend was ons by die Melkbosse biblioteek ‘n handjie vol seniors wat vir spesiale stemme geregistreer is. Van net een party was daar buite ’n teenwoordigheid. Die DA het ‘n blou tentjie opgeslaan, beman deur twee jong vroue van Atlantis. In ‘n bottel op hul tafel was ‘n hoop blou lekkertjies. Daar was ook ‘n blou ballon of twee.
Woensdag sal dit ongetwyfeld anders lyk, maar voor my siel weet ek ‘n gedoente soos my eerste verkiesing 63 jaar gelede sal dit nie naastenby wees nie. Kulture het te veel verander.
Daardie verkesing was op 18 Oktober. Dit was die eerste ná Republiekwording.
Omdat ‘n mens brandstofkoepons (en iets te ete) verwerf het, het ek die dag klasse afgegee en met my Peugeot 203 (1953-model) vir die Nasionale Party gaan kiesers aanry. Van my passasiers was duidelik verras met die toestand van hul rytuig.
Watter miernes was dit nie nie by die stembus nie. Die NP, Verenigde Party, die Progressiewe Party en die Nasionale Unieparty van Japie Basson en oud-regter Henry Fagan het elk ‘n goed bemande tent gehad. Oral het mense met groot party-rosette op die bors geparadeer.
Vroue het lustig pannekoek gebak, en dalk ook worsbroodjies gemaak, maar oor laagenoemde is my geheue vaag.
Die NP onder dr. HF Verwoerd het ‘n groot sege behaal. Van die Japie Basson-party was dit net hyself wat verkies is. ‘n Betekenisvolle ontwikkeling in die opposisiepolitiek was die verrysenis van Helen Suzman wat tot 1974 die enigste Prog-LV sou wees.
Die Nasionale Party het ‘n borsbeeld van CR Swart, eerste staatspresident, uitgeloof aan die Tukkie-koshuis wat hom die beste ondersteun het. Kollegetehuis het gewen.
Dr, Nic Diederichs, minister van finansies, het die beeld die aand met die huisdinee kom onthul, Magtie, maar die man kon nie ophou praat nie. Die keelvol Kollegemanne het later uit frustrasie met hul vingers op die glasies se rande begin vryf. Al hoe luider het die glasiemusiek opgeklink, maar dr. D laat hom nie van koers bring nie.
Van Deventer neem die aand oor as huisvoorsitter by Vos Grey. Die gedrag van my mede-Kollegemanne ontstem die nuwe voorsitter. Hy is op en af tussen die tafels en pleit om stilte.
Dr, D kry uiteindelik tog die boodskap en gaan sit vies. Mev. Marga D – altyd maar “high” en “mighty” – lyk of sy wil moord pleeg. Die Kollegemanne skink dat dit klap en drink hul heildronke op al wat roer.
Wat my Sapvriende van die hele besigheid gedink het, het ek hulle nie gevra nie. Nou leef net een van wie ek nog weet.
Foto: Die aand van die woelige huisdinee. My meisie is Donelle du Toit. Voor is Daan van der Merwe, SR-voorsitter, en Oom Chris en Tannie Rina de Wet, huisouers. Daan het mettertyd politikus geword, eers LV van die NP en later LV van die KP.
Jan 30, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Liedjieboer Piet Henning (regs agter met kleurbaadjie) was ook aktief in koshuisrugby. Die foto dateer uit 1961.
In 2022 Jannie of Sannie in die klaskamer; vanjaar meneer of mejuffrou in die lesingsaal. Vir derduisende jong mense – iemand praat van 250 000 – begin ‘n splinternuwe in hierdie dae. Gaudeamus igitur – hul studentelewe breek aan.
Studentelewe kan van kampus tot kampus hemelsbreed verskil. Koshuislewe en woonstellewe is ook nie eenders nie. Trouens, tradisies en praktyke in selfs buurkoshuise is eiesoortig. Hoe ook al, jou studentelewe kom net een keer in ‘n leeftyd. Dit bring weergalose ervarings (o, al die ondeundhede) en skep herinneringe wat jy tot jou oudag vertroetel.
Vriendskappe byvoorbeeld – en romanses. Die woorde “studentemaat” en “studentekêrel“ of “studentenooi” (“aster” in my tyd) bevat magiese kwaliteite. Die durendheid van studentevriendskappe beskou ek as een van die beste onverdiende vreugdes wat in my 82 jaar oor my pad gekom het. Studenteromanses was in my eie geval kortstondig. Maar vir derduisende vorder dit van die kampus tot in die kieriefase.
Aan die begin van die nuwe akademiese jaar 2023 deel hierdie oudste lewende voorsitter van Tukkies se Kollegetehuis (nou College) met sy versamelde binnekennis van vyf jaar se verbruik van blouerige koshuiskoffie graag enkele onthou-dinge en -stories met die nuwe generasie – in die hoop dat hul studentelewe in hul partikuliere omgewings, hoewel waarskynlik baie anders, nie minder onvergeetlik sal verloop nie.
Hopelik sal hulle byvoorbeeld ewe gereeld en hartlik sing. Raai, die woorde van allerlei lawwe liedjies kom ná 60 jaar nog spontaan by my op. Dit is so
onverganklik as die Vrystaatse volkslied s’n.
As ons Kollegemanne van ouds saamkom in die wildtuin of waar ook al – ons is gek na reünies – is dit nie lank nie of ons lig ‘n glasie en hef die koshuislied uit volle bors aan sodat selfs die seekoeie hul trombone ‘n wyle bêre en die kikvorse ophou kik: Aan het oever van het Schelftzee / tussen Delft en Rotterdam / Zat een verie luid te wenen / met een Matie vuur en vlam /Zag het verie aan het Matie/ Ziet je daarde Kollegeman? / Ben de moord’naar van je vader/ Neuk hem op so goed jij kan/ “Ag verdomme,” zeg de jonge / heeft de donder dat gedaan / Wag maar tot ik even groot ben / Zal hem op zijn donder slaan!
Dink ek aan liedjies, dink ek aan wyle Piet Henning van Louis Trichardt (voorheen Makhado) wat in 1958 met ‘n besonderse liedjieskat van St. John’s College in Johannesburg af by Kollege opgedaag het. Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as Brasso maak jou stêre blink en so aan voort wat ons ander op skool gesing het.
Een van die liedjies het herinner aan Horatio Nelson se stoflike(?) oorskot wat in ‘n vaatjie gevul met brandewyn op ‘n lang skeepsreis bewaar is: And when I die, and when I die, don’t bury me at all, don’t bury me at all, just pickle my bones, just pickle my bones, in alcohol, in alcohol. Sy repertorium het ook gesofistikeerde liedjies soos hierdie ingesluit: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less of Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantlepiece and bouncing off her t**s.
Nog ‘n lied met ‘n sterk vroulike dimensie handel oor die meisies van Rodean High, St. John’s se buurskool in Houghton, Johannesburg: We are the girls from Rodean High, we take pride in our virginity, we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.
Ons het ook graag gesing: Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. In ‘n tweede strofe kom gevleueldes ter sprake: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.
Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me… …And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird … the ostrich … the ooh ah bird… Dan word o.m. uitgewei met watter moeite elke soort haar eiers lê.
Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net “oee-aaa!”
Weet nie wie se kinders of kleinkinders sing Hasie Vaaljan nie. Ons het en het ons verkneukel aan die bekoorlike lirieke: Hasie, Hasie Vaaljan / olifant speel kitaar / slakkie blaas die saksofoon / en skilpad sê net poing-poing …poing-poing. Die tweede versie is ook oulik: Hasie, Hasie Vaaljan / walvis het gelam / snoekie was die nursie / sardientjie was die baba … baba … baba.
Deel gerus met eerstejaars wat julle ken. Later gesels ons verder oor die studentedae. .
Dec 31, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Raid ,,,Jong Tukkie … modderbad … HK-aflos
Laat elke ou Tukkie sy glasie vol maak ….Die vyfde en laaste era van my jongmensdae was die vyf goue jare in Kollegetehuis op Tukkies van 1958 tot 1962. Die heerlike era kom vandag aan die beurt in my reeksie mymeringe oor vergange tye aan die vooraand van my 80ste Sondag.
‘n Jaar van groot nederigheid was jou eerste in die dierbare Kollege. Maar as dit verby was, na ‘n ordentlike modderbad aan die einde, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n mooi nooi lief geword vir die plek, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.
Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.
In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”. Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.
Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.
Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.
In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.
In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”
“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”
“Nou hoekom wys jy hy was oor?”
“Omdat hy amper oor was!”
In 1961 word ek vir die tweede keer in my lewe redakteur: nou van Die Perdeby, die studentekoerant.
Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam. Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen.
Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.
Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie die redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het, tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant versier.
Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lofuitend van hom laat hoor: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”
Hoofsaaklik seker maar vir my bedrywighede aan die joernalistieke front, meer bepaald Die Perdeby, is Dux -erekleure einde van 1961 aan my toegeken – ‘n hoogs gewaardeerde belonging.
By Die Volksblad was toe al ‘n sekere grimmigheid oor die beurshouer wat eenvoudig nie genoeg kan kry van student-wees nie. Laat 1962 net eers verbygaan, het ek gepleit, want die huisvoorsitterskap van Kollege het vir my voorgelê — die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd!
Toe kom boonop sommer ook die kans vir ‘n bietjie akademiese rehabilitasie. Oor die bietjie regskennis wat ek in LL.B 1 opgedoen het en oor daardie ekstra jaar in die algemeen was ek nooit spyt nie. In 1963 het ek by Die Volksblad ingeval. Van toe af moes ek my eie potjie krap tot einde 1997 toe ek in die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad my kantoordeur vir oulaas agter my toegetrek het.
Die finale era – die Melkbos-era van toe af tot nou – duur reeds reeds 32 jaar. Wat ‘n wonderlike voorreg. Om die voorreg nog saliger te maak, was Sabiepark van die begin af deel daarvan. Hoe lief is ek nie vir daardie bosplekkie van my langs die Sabierivier nie! Maar dis ‘n ander storie. Lees gerus “Bure van nature” wat in Mei 2021 by Protea Boekhuis verskyn.
Jan 28, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sarge Bourke – hier in versiersuiker op ‘n koek!
By die begin van die nuwe akademiese jaar 2018 aan ons universiteite gaan die gedagtes van hierdie Tukkie-kalwer van 1958 ver terug: na die dae van ienk-wees in die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.
Kollegetehuis was toe nog op die hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou. Al die meisies moes daar verbystap klas toe. Spitsvondige kommentare het nie uitgbly oor al die vietse en minder vietse lyfies lyfies wat deur ‘n waarderende gehoor waargeneem is nie.
In Kollege is ’n ienk toentertyd behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons moes gereeld voor die eetsaal (lankal die slagoffer van vooruitgang) in gelid aantree.
Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.
Dit was die tyd van modderbaddens, die “pil” (’n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” – elkeen ’n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ’n element van weerbarstigheid te tem!
Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.
‘n Ienk moes maar weet: vir ‘n jaar lank is hy lyfeiene vir ‘n veeleisende senior. Jy het honderde pare sweterige sokkies gewas. Een senior het selfs geverg dat ‘n ienk op ‘n koue wintersoggend vir hom die toiletbril gaan warm sit.
Die arme ienk sou ‘n paar keer moes inpak en trek (met al sy klere, al sy koffers, al sy boeke) en “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot met die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.
Tot daardie welaangename dag het jy ‘n geel knopie op die bors gedra met die letter “K”. Nogal snaaks gewees toe daar vroeg die jaar een Sondagaand ‘n kerksleep was saam met Asterhof. Daar sit ons toe in Pretoria-Oos se kerkbanke: Kollegeman (K), Asterhoffer (A), Kollegeman (K), Asterhoffer (A) ……
‘n Jaar van enorme nederigheid was dit. Maar ons het oorleef, het seniors geword en op ons beurt die pyn uitgedeel. Hopelik ook die liefde vir Kollege aan ons opvolgers oorgedra.
Van die tradisies het ses dekades bly voortleef, verneem ek dankbaar. Die gelukbringer, Sarge Bourke, ’n beton-polisieman wat by ’n huis in Gezina geskaai is, bestaan steeds. Nuwes tradisies het bygekom. Party bo hierdie begrip. Tye verander.
In Junie trek nege Kollege-tydgenote uit daardie era weer saam in die Orpenkamp in die Krugerwildtuin – ‘n wonderlike tradisie wat nuut posgevat het. Ons sal vir seker ‘n heildronkie of twee geniet op die 60 jaar wat sedert 1958 verloop het.
Helaas sal dit maar met al die skete en so aan sukkel-sukkel gaan om te “haaitjokkelorum, haasbekpatrollum ….”