Feb 9, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Drie Volksbladders wat geliefde rubriekskrywers by Beeld geword het: Tom Ferreira, Wilhelm Jordaan en Johan van Wyk. Die foto is deur Volksbladman Tobie Wiese by ‘n groot Beeldparty in Januarie in Kaapstad geneem.
‘n Moontlike laaste woord van my kant oor Beeld en Die Volksblad – die twee primêre koerante in my lewe – is hoe vrugbaar die een deur die ander bestuif is. Die rol van Die Volksblad, oudste koerant in die ou Nasionale Persgroep, in die bestaan van 50 jaar van die jongste, Beeld, was met een woord formidabel.
Uit Vrystaatse bodem het noorde toe gekom twee redakteurs, ‘n gerf adjunkte en assistente , ‘n sportredakteur, bekroonde spesialisskrywers, ‘n grondlegger van sy avontuurlike tipografie, geliefde rubriekskrywers, top-bestuurslui en ander bouers.
Een van die rubriekskrywers is Wilhelm Jordaan (hy skryf Mens tot Mens wat later Deurloop geword het en nog later Van Alle Kante in Die Burger, reeds vir 38 jaar ononderbroke). Nog ‘n Volksblad-veteraan, Tom Ferreira, het die sportrubriek Dwarslat vir 13 jaar behartig, en Johan van Wyk – beroemd weens Stop van Myne – die geselsrubriek Potjiekos vir 10 jaar.
Wilhelm het al iets soos 1 800 rubrieke agter die blad. Niemand het ‘n langer werkverhouding met Beeld nie.
Jordaan – en dalk ook die ander twee – is in die 80’s deur Willie Kühn vir Beeld gewerf nadat hy – ‘n vorige woonstelmaat van my in Bloemfontein – as assistant-redakteur van standplase verwissel het. Daardie eerste in Junie 1987 onthou hy goed, sê Jordaan. Dit is gelewer onder die speurende oog van Willem Wepener, redakteur, wat dit duidelik gestel het dat hy nie ”akademiese stront” in sy koerant wou hê nie.
Willie het later sesde redakteur van Beeld geword, later ook van Huisgenoot. Sy opvolger by Beeld was Johan de Wet, ook uit die Volksbladstal.
‘n Beeldnaam wat deur dekades sy bekendheid behou het, is Quintus van Rooyen wat met die begin, in 1974, uit Bloemfontein rugbyskrywer in Pretoria geword het. Quintus was twee keer Sportskrywer van die Jaar – een van net twee of drie wat dit kon regkry. Sy naam pryk ook op die SAB (Suid-Afrikaanse Brouery) se ererol van sportskrywers.
Die grootste roem of berugtheid van hierdie verbete (fanatieke?) Loftus-lojalis was dalk dat hy oor die Blou Bulle nooit van objektiwiteit beskuldig kon word nie. Die bynaam Quintus van Blouwen het nie uit die lug geval nie.
As Quintus in die persbank opgewonde geraak het, moes sy bure koes. Hy kón sy span om die beurt luidkeels toejuig en aanpraat. Stampe en stote was nie uitgesluit nie.. Daardie persbank heet nou nog amptelik na hom.
Sy toewyding het tot die bittereinde geduur, selfs toe hy al ernstig siek was aan die kanker wat op 31 Januarie 1998 sy lewe sou eis. Letterlik weke voor sy dood het hy steeds sy selfoon by hom gehad om daagliks uit sy hospitaalbed met sy kontakte te praat en stories na Beeld deur te bel. Ondanks erge ongerief het hy tot laataand vasgebyt om oproepe te ontvang en te verwerk. Selfs wedstrydverslae van Noord-Transvaal se Britse toer daardie Januarie is in die hospitaal saamgeflans. So was die kranige Quintus se toewyding.
Die hoog aangeskrewe Herman le Roux wat byna veertig jaar saam met Quintus vir Nasperskoerante oor sport verslag gedoen het, is in die laat 80’s ook van Volksblad na Beeld – as sportredakteur. Soos Quintus was hy Sportskrywer van die Jaar en pryk sy naam op die ererol. Le Roux (nou 89) sorg al 35 jaar vir ‘n omvattende jaarlikse lys van sportlui se dood.
Hoe diep hy in mense se harte kruio, het ek ’n middag in 1987 op ‘n besonderse wyse beleef toe ek ‘n geskokte Steve Strydom, rugbybaas van die Vrystaat, in sy losie in die Vrystaat-stadion inlig dat kollega Herman Johannesburg verplaas is. Strydom was amper in trane. Die Saterdag daarop kondig Johan Botes, uitvoerende beampte van die bond, ook ‘n goeie vriend van Herman, die nuus oor die luidspreker aan. Daarna speel hy Now is the hour. Ek het hoendervleis gekry; my kollega waarskynlik nog meer
Met die stigting van Beeld in 1974 is die uwe as eerste nuusredakteur aangestel (ná ‘n jaar as Niemangenoot in die VSA het ek adjunk-redakteur geword voordat ek terug Bloemfontein toe is.) Ek het aan die begin onder andere Ben van Rensburg, Chris Karsten, Piet Gouws, Pedro Diederichs, Thinus Prinsloop en Jannie van der Merwe gewerf om saam met my die Vaalrivier oor te steek. Almal het diep spore getrap.
Ben van Rensburg, eerste nagnuusredakteur, het ‘n veel bekroonde motorskrywer geword. (Hy is, terloops, deur sy eerste vrou, Tina, in die pos opgevolg – ‘n eerste vjr ‘n vrou,)
Chris Karsten, deesdae een van die voorste skrywers van spanningsverhale, was die eerste assistent-hoofsub en later adjunk-redakteur van Rapport.
Die goedige Piet Gouws, eerste Wes-Randse verteenwoordiger, het ‘n gewilde nuusredakteur (nogal ‘n rariteit!) en later assistent-redakteur geword. .
Pedro Diederichs (later dr. Pedro) was die eerste hoof van die Pretoriakantoor. Hy het ‘n hoogleraar in die joernalistiek geword en vele latere Beeldjoernaliste opgelei.
Thinus Prinsloo het ‘n assistent-redakteur geword – ook by Die Volksblad.
Die vroeg gestorwe Jannie van der Merwe,. ‘n kettingroker, het sy stempel as uitlegkunstenaar afgedruk en Beeld uit die staanspoor treffend anders as sy mededingers laat lyk.
In later jare het knap Volksbladmense soos Francois Lötter, Gallie van Rensburg en Wilma de Bruin by Beeld kom naam maak.
Aan bestuurskant was Daan de Bruin, Johan Vosloo en Maans van der Westhuizen sleutelmense by Beeld.
(Soos gewoonlik maar gebeur, word name waarskynlik misgevat. By voorbaat my apologie aan dese en gene.)
Sep 25, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op my stoep op Melkbos in 2007. Van links is Helgaard Raubenheimer, HvD, wyle Eric Wiese, wyle Salie de Swardt en Ton Vosloo.
As ek ‘n kollega sou moes kies met wie ek die graagste op ‘n verlate eiland uitgespoel sou wou raak, sou die innemende Salie de Swardt ‘n sterk kandidaat gewees het. Talryke gedeelde ervaringe sou oorgenoeg raakpunte oplewer vir gesprekke om die lang ure sonder ander geselskap mee om te kry.
In die jare 70’s met die stigting van Beeld in Johannesburg was ons jare lank ‘n tweeman-saamryklub vir die sowat 20 km uit die noordweste na Doornfontein, hy uit Fairland en ek uit Randparkrif Uitbreiding 3. Ons was albei stigterslede.
In die 80’s toe die politieke tumult in Afrikanergeledere op sy ergste was, was hy redakteur van Beeld en en ek van Die Volksblad. Ons koerante was van die primêre teikens van ver-regse wrewel weens ons sogenaamde “liberalisme”. Ons kon heelwat nota’s vergelyk.
Later was ons saam in die direksie van Nasionale Koerante. Vir direksievergaderings in die Kaap het ons albei in die Hotel President in Seepunt tuisgegaan. Saam-eet op die vooraand van die vergadering was ‘n tradisie.
In die 90’s was hy hoof van tydskrifte en ek hoof van koerante. Ons was in buurkantore op die 18de verdieping van die Nasperssentrum aan die Heerengracht. Ons P.A.’s, Willa Joubert en Lizette Hanekom, was in ‘n gemeenskaplike kantoor met ons aan weerskante.
As lede van Naspers se bestuurspan het ons by allerlei eksotiese bestemmings vergader, bv. Die Hotel Elephant Hills by die Victoria-waterval in Zimbabwe, die Namibwoestyn by Swakopmund in Namibië en Skukuza in die Krugerwildtuin.
Ons plekke in die Naspers-losies by die twee Nuwelande – rugby en krieket – was net in uitsondelike omstandighede leeg.
Ons kon saam ‘n glasie lig by die notering van Naspers op die Johannesburgse Beurs in 1994. Op die Boeing terug Kaap toe het ons, al hoe vroliker, saam met Andrew Marais, hoof van die skakelafdeling, die een heildronk op die ander op die heuglike geleentheid geklink.
Ek was Nieman Fellow aan Harvard in die VSA in 1977 en hy in 1983. Een van die agternavreugdes van Niemanskap was ‘n jaarlikse aandpak-dinee op plekke soos die Wild Coast Casino, die Swaziland Spa en die Mmabatho Inn. Dobbelplekke was toe nog taboe binne Suid-Afrika se grense.
‘n Feestelikheid was die bywoning van die Nieman Foundation se glansryke 50ste verjaardagfees in Cambridge, Massachusetts. Die besoek is afgerond met ‘n gerugmakende reis per huurmotor van Boston na Washington saam met ons gades, Lisa en Tokkie.
Deur die jare het ek en Salie vele pret saam gehad. Die pret op daardie reis kan ‘n bundel vul. In daardie motor is baie gelag. Een insident was toe ons, met my aan die stuur, in die deelstaat Maryland ‘n verkeerde afrit vat en tot afgryse van ‘n klompie mense by ‘n buitelug-restaurant rakelings verby hulle
skuur.
In Washington is ons koninklik in die SA ambassade onthaal. Piet en Lulu Koornhof was die ambasadeurspaar. Hul kleuter-kleinkind was op besoek. Speelgoed was oral op die ambassade se vloere gesaai.
Einde 1997 het ek afgetree. Salie het nog ‘n dekade by Naspers gebly en die hoog geagte besturende direkteur van die nuwe Media24 geword. Die sien het minder geword. Die De Swardts het wel ‘n keer in Sabiepark kom kuier. Elke jaar in Desember is ‘n braai vir oud-Beeldmense by hul pragplasie Akkerdraai buite Stellenbosch aangebied. Die het ek graag bygewoon solank dit vir my moontlik was. By sovele ander onthale was ons tafelgenote.
Van Salie sou ek by sy skielike heengaan in ‘n hotel in Londen hope anekdotes kon uitryg. Hy was by al sy gravitas iemand met ‘n onblusbare humorsin. Waar hy was, was luimigheid nooit ver nie.
Ek gaan my twee tot twee stories beperk. Die een is in besonderhede opgeteken in mede-Nieman Michael Green se memoires Around and About. Die geleentheid was ‘n Nieman-banket by die Wild Coast Sun. Dit gebeur toe dat Salie laataand by sy suite se skuifdeure uitstap vir vars lug. Hy betrap ‘n paartjie op die helder verligte grasperk voor hom volstoom gemoeid in wat Green Ugandan discussions noem – dit n.a.v. ‘n Ugandese gesant en sy sekreterasse wat in ‘n lastige situasie betrap is. Sy verduideliking was: We were having discussions.
Nietemin, Salie wat ‘n storie met oorgawe kon vertel, is daardie naweek telkens oogeroep om sy waarnemings met ons ander te deel.
By sy afskeid by Beeld het hy aangeknoop by ‘n rubriek van Albert Crafford in Die Beeld oor die week se dinge by die parlement. Een vermeldenswaardigheid was die besoek van ‘n Rus, ene Popof. ‘n Ander was die Spoorwegbegroting waarin die minister, Ben Schoeman, telkens die Duitse digter Goëthe aangehaal het. Schoeman het hom Gooth genoem.
Craffie sluit toe sy rubriek af: Wel, Goothbaai, ek moet nou Popof. So het Salie ook sy toespraak afgesluit. So sluit ek hierdie skrywe af: Goothbaai, Salie, dierbare vriend en kollega.
Feb 3, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die Pers se bestuurspan (minus die baas, Ton Vosloo) in die 90’s. Eric Wiese sit voor in die middel. Ek staan agter hom. Voor is van links Philip Meyer, Robert Crowther, Eric, Conrad Sidego en George Coetzee. Agter is Andrew Marais, die uwe, Helgard Raubenheimer en Salie de Swardt.
Die notering van Naspers op die Johannesburgse Effektebeurs toring ongetwyfeld uit as een van die hoogtepunte in die vyf-jaar-skof aan die einde van my loopbaan by die Nasionale Pers.
Sal ek die opwinding vergeet om op die vloer van die Beurs te kon staan toe die klok lui en die verhandeling in Naspers begin? Daardie middag op die Boeing Kaap toe het ek (koerante), Salie de Swardt (tydskrifte) en Andrew Marais (skakelafdeling) die heildronke ingeryg.
Enorme waarde is deur daardie notering vir ‘n groot gros aandeelhouers ontsluit. “Waardelose” sertifikate in kluise het oornag stewiger bankbalanse en selfs welvaart beteken. Vir die uwe met die joernalistieke bloed van drie dekades in sy are was dit egter geen onvermengde seën nie.
Skielik was daar die nuwe uitdaging van intense blootstelling aan finansiele analiste, selfs van oorsee. Van Deventer wat tot die einde maar gesukkel het om van ‘n balansstaat kop of stert uit te maak, moes nou met ‘n vertoon van groot selfversekerdheid die priemende vrae van die kenners hanteer!
Gelukkig was daar iemand soos kollega Eric Wiese om op terug te val. Hierdie nederige gewese finansiele direkteur van die Pers is inderdaad een van die gesiglose helde van sy tyd, nie net weens sy eie formidabele bydraes nie, maar ook in die rol van ‘n Aäron en Hur sommer in een wat wankelende Mosesse soos ekself se arms moes orent hou.
Sondag vier Eric sy 80ste verjaardag. By die bereiking van die baken kom saam met die voorspelbare strome goeie wense uit alle oorde aan ‘n uitmuntende mens en kollega, uit Melkbos opnuut ook weer ‘n opregte woordjie van dank vir die kokon van bestuursbeskerming wat hy altyd so gewillig aan die minder syferslim kollega gebied het.
Eric se deur oorkant die gang op die 18 verdieping was altyd oop en sy geduld met dom vrae het nie opgeraak nie – nooit so dat jy dit sou agterkom nie in elk geval!
Ek salueer graag vandag een van die mees ewewigtige, besadigde en onversteurbaarste mense wat ek ken.
Het ek gesê onversteurbaar? Wonder darem of die beskrywing ook sou geld vir die stel wat hy en twee kollegas in 1997 op die dorpie Victoria Falls in Zimbabwe afgetrap het – en hul verlee reaksie.
Die bestuurskader van die maatskappy was daar saamgetrek vir die jaarlikse bestuurskonferensie, en die here Wiese, Andrew Marais en Tim du Plessis, destyds nog adjunk-redakteur van Beeld, het afgesit Valle toe om daardie indrukwekkende natuurskouspel in die magtige Zambezi te gaan besigtig.
Skielik is hulle asof vanuit nêrens deur ‘n spannetjie geldsmouse omring. Die bied drie Zimdollars vir R1 aan teenoor die werklike wisselkoers wat sowat 2,3 is. Alle waarskuwings oor die klas aasvoëls vergete, het die vername Pers-leiers – ‘n finansiele direkteur wat hom nie deur die slimste C.A. laat ore aansit het nie, ‘n wêreldwyse skakelhoof en ‘n deurwinterde koerantman – in ‘n oomblik van swakheid geswig.
Hulle besluit toe om elk R100 om te ruil (‘n bedraggie wat toe nog nie te versmaai was nie). Marais sou die transaksie hanteer. Maar net toe hy die geld oorhandig, sê een van die smouse: “Pas op, hier’s die polisie.” Die drie Naspersmanne spring in ‘n stegie in. Toe hulle uitkom, is daar niks. Niks polisie. Niks smouse. Niks R300!
Wiese het darem die teenwoordigheid van gees behou om toe ‘n straatkind hom nader, vir hom ‘n onvergeetlike antwoord te gee: “Nee, ek het klaar die geld vir jou pa gegee!” Die res van ons het ons aan die episode verkneukel!
Eric se antwoord belig ook ‘n ander faset van die man: sy instinktiewe, droë in-die-kol-humor. Nog ‘n insident wat daardie eienskap goed weerspieël, was gekoppel aan sy rotsvaste lojaliteit aan Afrikaans en sy handhawing van sy taal in alle omstandighede.
Veral op sy gereelde heen-en-weer-vlugte Johannesburg toe vir bestuursverpligtinge is Eric se ingesteldheid oor taal telkens uitgedaag met SAL-kajuitpersoneel wat verseg om ‘n woord Afrikaans oor die lippe te neem. Op die betrokke aanvlug weer. Ete word bedien, maar al die aankondigings kom net in Engels.
Eric gaan tot die irritasie van die lugwaardin voort om sy koerant te lees met sy skinkbordjie onoopgevou in die rakkie. Die meisie spreek hom direk aan in Engels maar hy reageer nie. Naderhand pers sy teësinnig oor dun lippe: “Eet u nie, meneer?”
Toe kom dit vintage Wiese: “Ek is nie genooi nie!”
Ek skuld Eric nie geld nie, maar ek wil hom tog net nog ‘n pluimpie gee. Geen ander syferman in my ervaring was so sterk op korrekte taalgebruik ingestel nie. Soos ek by Eric kom aanklop het oor somme, het hy dikwels by my kom aanklop oor taal. Hy doen dit nou nog en jaag my gereeld na Anton Prinsloop se idiomeboek om die betekenis of oorsprong van dié of daardie idioom bo alle twyfel te bepaal.
Die verskil tussen ons is dat ek hom nooit kon vasvra oor somme nie; hy vra my, vervlaks, meermale vas oor taal!
Aug 15, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
As ek die horlosie 20 jaar kon terugdraai, sou uit die redakteurspen van Die Volksblad drie buigings na kollegas verskyn het op die kennisgewingbord, wat spesiaal deur die uwe in die lewe geroep is om pluimpies uit te deel en doringdraad deur sekere agterente te trek.
Ek sou vir Chris Karsten, kreatiewe hoof van tuiskoerante (destyds), ‘n pronkveer wou gee vir sy benoemings vir twee ATKV-Woordveertjies: die prys vir ¬spanningslektuur én die grote, die ATKV-prosaprys.
Toe ek lees “’n reeksmoordenaar met ’n ding vir sagte, maagdelike, vroulike vel het vir Chris Karsten die Woordveertjiebenoemings in die sak gebring”, het ek dadelik gedink: “Ja-nee, dis onse Chris”. Tipies ‘n tema waarmee die amper inkennige seun van Morgenzon sou kon woeker!
Stille waters, diepe grond …
Chris is die enigste skrywer wat in twee kategorieë benoem is. Die benoemings is vir Abel se ontwaking, die eerste aflewering in sy trilogie oor die reeksmoordenaar Abel Lotz. Abel se lot het onlangs by Human & Rousseau verskyn.
‘n Pronkveer sou ook gaan aan die jong verslaggewer Deon Meyer, ’n naam wat daardie tyd op Die Volksblad se voorblad geboer het soos vandag in die wêreld se boekwinkels, danksy sy slag om ‘n ding raak te sê en ‘n storie te vertel.
Deon Meyer, in wie se toonkaste, al hoeveel internasionale pryse pryk, het hierdie soveelste benoeming te danke aan sy nuwe boek Spoor (ook Human & Roussseau).
Ek sal op 9 September wanneer die wenners op Nooitgedacht buite Stellenbosch aangekondig word, hier op Melkbos duim vashou vir daardie twee top-oud-kollegas en my ook so ‘n stukkie trots laat welgeval oor die klein bydraetjie wat HvD se kommentare van destyds – nie altyd net lof nie! – dalk bygedra het om hul talente te laat blom.
‘n Derde pronkveer sou ek wou uitdeel aan die uitblinker-verslaggeefster Henriette Anderson (nou Henriette Loubser), wat in die joernalistiek soos ‘n sweefstokarties van hoë baken tot hoë baken sweef. Nadat sy as groentjie by Die Volksblad gou haar merk gemaak het, was sy onder meer nuusredakteur van Huisgenoot en senior-assistentredakteur van Sarie. Nou word sy adjunk-redakteur van Die Burger, vlagskip-dagblad van Media24.
Dis ‘n groot uitdaging wat sy aandurf, maar ek ken Henriëtte se staal – en sy kom darem ook ‘n uit ‘n “fabriek” wat vir die Pers groot kanonne opgelewer het. Geluk, Henriëtte, en voorspoed – ek gaan jou stempel soek as ek soggens my Burger by die voorhekkie optel (of, liewer, as Tokkie dit vir my bed toe bring!)
Onthou net die ou man se leuse: nuus, nuus, nuus – dis die hartklop van ‘n koerant!
Naskrif: Nog ‘n Volksbladder, Jaco Jacobs, word deur die ATKV vir jeuglektuur bekroon. Ek sal darem nie só voorbarig wees om vir my eer op te eis nie. Jaco het ná my tyd daar aangekom. Nietemin ….. (HvD)