Apr 5, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Nee, allemagtig, wat te erg is, is te erg. So kan ‘n mens Sakkie van Zyl, oud-advertensieman van Die Burger, se verontwaardigde brief in vanoggend se koerant parafraseer oor die uitsonderlike hamburger-advertensie Vrydag wat deel van die mashoof vorm. Kyk foto 1.
As ’n oud-redaksieman moet ek my emosionele gewig by Sakkie inwerp. Nuus se plek in die koerant is immers met sorg afgebaken en moet eerbiedig word. Sela.
Twee aspekte wil ek egter noem om die afwyking dalk effe rustiger te beoordeel as kollega Sakkie – en die uwe en seker baie ander koerantmense – se instinktiewe afgryse.
Een is dat advertensies die rekeninge betaal en dat daardie prominente advertensie die adverteerders seker ‘n arm en ‘n been moet gekos het. As koerante so sukkel om te oorleef dat gerespekteerde titels soos Rapport, Beeld en Die Volksblad nie meer in druk verskyn nie, is dit laat in die dag. Om Die Burger – en sy lojale lesers – daardie lot te spaar, moet ons ons dalk maar klaarmaak vir meer sulke avontuurlike geldmaak-pogings – of ons daarvan hou of nie.

‘n Tweede is dat oor die plek van advertensies en die volume daarvan nog maar altyd ‘n toutrekkery was. Een opskudding wat ek veral onthou, was in die 90’s toe wyle Naas du Preez, ironies genoeg ‘n oud-redaksieman, uit die nasionale advertensiekantoor die nuutjie van “eiland- advertensies” aan redaksies wou verkoop. Dit is advertensies wat rond en bont tussen die nuus sou staan, baie soos die hamburger-advertensie in Die Burger. Naas se idee is verwerp. Hy sou gister breed geglimlag het.
Laat ons ook nie vergeet nie dat tot in 1932 (meen ek) geen nuus op die voorblad van Die Burger verskyn het nie. Dit was eksklusief advertensies se plek. Kyk foto 2 van Die Burger se eerste voorblad in 1915.
Toe ek koerante van binne leer ken het, in die laat 50’s, was die voorblad gelaai met nuus. Advertensies se plek was vasgemessel. Langs die mashoof was twee “oortjie”- advertensies aan weerskante en regs onder op die blad ‘n dubbelkolomadvertensie. Die eerste pogings om daardie dubbelkolom ‘n driekolom te maak, is deur ons redaksiemense met hand en tand beveg. Die advertensiemense het uiteindelik gewen. Later het advertensies in die ongewoonste groottes daar begin opduik.

Wanneer presies die “oortjies” gesneuwel het , kan ek nie onthou nie. Met die verskyning van Beeld in September 1974 staan die mashoof egter skoon en trots alleen – geen “oortjies”nie. Kyk foto 3. Teken dit aan as ‘n veldslag wat deur redaksie gewen is.
Eras kom en gaan dus – en dit geld ook nuushantering. My kennismaking met koerante was toe die strewe sterk was om as sg. “newspaper of record” gereken te word. Jy moes enigiets maar enigiets in ‘n bepaalde uitgawe kon gaan naslaan. Ook die voorblad was die ene opskrifte. Vyf of ses meerkolommige stories was aan die orde. Daarby ‘n rits enkelkolom-“toppies”.
My voorganger as redakteur. Oom Bart Zaaiman, was lief vir baie “toppies”. Vir hom was hulle “rosyntjies”. Hy hou na my wete die rekord vir ‘n hoofsubredakteur met iets in die 20 berigte op die voorblad. Kollegas wat nie sulke sterk “rosyntjie”-mense was nie, het dit agter sy rug “bokdrolletjies” genoem.
Die voorblad was min of meer volgens ‘n vaste struktuur; ‘n hoofberig, tweede d/k, driekolom onder die blok en “stoepie” was vaste spyse. D/k staan vir dubbelkolom. ‘n “Stoepie” was oor vier kolom of meer onderaan die blad, hoofsaaklik ‘n ligte (dalk humoristiese) storie. Later het die klem meer op tipografie begin val. Inhoud is opgeoffer vir voorkoms , meen ek.
Deesdae kry ons – wat nog bevoorreg is om ‘n papieroerkoerant te lees – soms ‘n voorblad met net twee stories en ‘n klompie verwysings na binne, die sogenaamde ”lusmakers” of “aptytwekkers”. Ons het sulke goeters in my
dae “plugs” genoem.
Wat is my punt? In Engels: “The times they are a-changin”, soos Bpb Dylan sing. In Afrikaans: “Niks is so seker soos verandering nie.”
Het die era van Naas du Preez se “eiland- advertensies”dalk nou ‘n dekade of meer na sy dood aangebreek? As dit het. dan het dit, al stuit dit tradisionaliste teen die bors. (Lees Sakkie se brief by
https://www.netwerk24.com/…/hamburger-burger-is…
Apr 2, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die Niggiemoord in Januarie 1966 op Odendaalsrus lok enorme belangstelling uit, op TV, in koerante en tydskrifte, op, sosiale media, in private gesprekke, oral. Vanaand gaan derduisende – nee, der-tienduisende of der-honderdduisende – om 20:00 op Kyknet ingeskakel wees vir episode twee.
Vir my as koerantman uit daardie era is een redelik algemene reaksie verbysterend. Dit is die wye onkunde oor hierdie moord en andere. Mense wat oud genoeg is om op ‘n manier daarvan kennis behoort te dra, is stomgeslaan.
“Ons het nie van die moorde geweet nie,” hoor ‘n mens uit een oord. “Ons was nie bewus van sulke moorde toe ons jonger was nie,” kom dit uit ‘n ander. Op Facebook lees ek selfs dat misdaad destyds maar onder die bed ingevee of weggesteek is.
Dan dink ek hoeveel kere ek as koerantman gekapittel is juis oor te veel moord en doodslag in die koerant. Dis net bloed, bloed, bloed op die voorblad, is ek meermale verwyt. En ek skud maar net die kop.
Dadelik kom ‘n klomp bekende moorde uit daardie era by my op: die Niggiemoord (of Murasiemoord, soos dit ook genoem is), die Verwoerdmoord natuurlik, die Tasmoord (afkop-vrou in Boksburgmeer), die Groesbeekmoord, die Vontsteenmoord, die Wahl-moord, die Clack-gesinsmoord, die Robert Smit-moorde …. Dis maar enkeles uit my koerantloopbaan.
Ek onthou egter moorde van lank voor my koerantloopbaan. In Kimberley is, nog in my laerskooljare, twee oujongnooi-tantes in hul huis vermoor. Ons kinders het nuuskierig die “moordhuis” gaan opsoek en was verras dat dit so doodgewoon lyk.
My wetenskap-onderwyser op Volkies, mnr, Stompie Steyn, is deur sy tuinman (desyds anders genoem) vermoor. Dit was nogal ‘n opskudding.
Maar waarvan ek einlik wil vertel, is van die moord waarmee my koeranteloopbaan as’t ware ingewy is. My eerste plakkaat as waarnemende Goudveldse verteenwoordiger. Dit was in die universiteitsvakansie van 1961/ 62. Ek as beurshouer sou vir die vakansie in Bloemfontein gaan werk. Aan die vooraand kry ek ‘n oproep: nee, ek moet Goudveld toe. Die Goudveldse verteenwoordiger, Willie Coetzee, gaan met langverlof.
Die eerste dag gaan wys kollega Willie my toe rond. Hier’s die hof, hier’s die brandweer en so aan. By die polisiehoof (Jeff Greeff) gekom om my voor te stel, lig hy ons vriendelik in oor die ou wat op Kroonstad in sy ouers se voordeur as’t ware in woede sy broer doodgeskiet het. Ons is voet in die hoek soontoe.
Die feite van die saak is dat albei broers op die Spoorwee gewerk het. Broer A was ‘n stoker. Hy had geruime tyd n spesmaas dat broer B vir sy vrou gaan kuier wanneer hy saans vir ‘n nagskof padgee, Die ongetroude Broer B was tuis by sy ouers, enkele huise van broer A se tuiste af in dieselfde straat naby die stasie. Een aand stel broer A vir broer B ‘n strik. Hy verras hom in ‘n oomblik van passie met sy vrou in sy eie slaapkamer.
Toe hy sy rewolwer uitpluk, kies broer B hasepad na sy ouerhuis toe. Die veronregte broer A hardloop agter hom aan en skiet ‘n skoot of twee in die lug. Net toe broer B die voordeur van sy ouerhuis ooppluk, val nog ‘n skoot. Dis ‘n dodelike rugwond. Hy syg sterwende in die voordeur neer.
Willie besluit toe om die jong student vir sy vuurdoop alleen in te stuur om by die bedroefde ma te gaan foto’s vra, wat dikwels maar ‘n taai toffie is. Hy sit in die Volksie en wag terwyl ek senuweeagtig gaan aanklop.
Die jong abjater kom egter nie uit nie. Hy bly weg en bly weg. Later kan Willie dit nie meer hou nie. Hy kom klop ook aan die voordeur om sy kollega te kom “red” as daar moeilikheid sou wees.
Maar waar tref die verbaasde Willie die jeugdige Van Deventer (toe nog net 20) aan? Hy kry hom plat op die vloer in die sitkamer omring deur foto-albums sodat hy kan kies en kleur. Die bedroefde ma is byderhand om name en konteks te verstrek, wat sy hoegenaamd nie onwillig is om te doen nie.
Langs Van Deventer op die vloer is selfs n koppie tee en ‘n fris stuk sjokoladekoek wat aangebied is om hom tuis te laat voel. Willie Coetzee was totaal uit die veld geslaan oor die prentjie voor hom.
Daarna was ek vier dekades by koerante. Nooit weer by enige moord is ek so met ope arms verwelkom en getrakteer nie. Nooit weer was daar ‘n moeder van ‘n slagoffer en/of beskuldigde wat soveel behae uit publisiteit geskep het nie.
Seker ook maar gevoel dat sy nou “famous” gemaak is soos Joshlin se ma, Kelly. En laat ek maar erken: ek het selwers taamlik “famous” gevoel toe ek daardie uitgawe met my handwerk oopslaan.
Jan 8, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Bekerwenners in 1996. Die koerantesektor en Die Burger maak skoonskip. Ek, Jean le Roux en Ebbe Dommisse spog met ons trofees.
Jean le Roux se kinderlike opgewondenheid in die goue jaar 1996 toe Die Burger die Cape Argus se sirkulasie verbysteek om die markleierskap van die Wes-Kaap te verower, is een van vele herinneringe aan die uiters bekwame, toegewyde en innemende kollega wat met sy heengaan by my opkom.
Jean, oud-hoofbestuurder van Die Burger, is gisteraand in die Durbanville Medi-Kliniek oorlede ná kolon-chirurgie weens kanker – presies 425 dae ná die dood van sy sprankelende skryfstervrou en reismaat, Mariël, wat vir hom ‘n enorme slag was.
Jean was die laaste paar jaar van sy loopbaan hoofbestuurder van die suidelike koerante en later van die noordelike koerante wat Beeld ingesluit het. Dit is egter as generaal van Die Burger se voortreflike “offisierspan” in die 90’s dat hy in my oë veral uitgemunt het.
In 1996 het die koerantsektor wat my verantwoordelikheid was, die Nasionale Pers se DP de Villiers-trofee gewen – ’n gesogte huishoudelike prys vir die beste presteerder in die Pers. Dit is weens blink vertonings oor die spektrum, veral die wins wat snel opgeskiet het. Aan die begin van die ’90’s was die wins R6 miljoen. Gou was dit R20 miljoen. Toe word dit R40 miljoen. Daarna klim dit in 10 miljoene tot oor die R70 miljoen, nogal ’n aardige profyt daardie tyd.
In koerantgange is gejubel. Die Burger, ‘n pryswenner uit eie reg, was een van die hoekstene in hierdie era en Jean le Roux was ‘n rots van Gibraltar aan ons ander se sy.
In hierdie goue jaar vir koerante verwerf Die Burger voorts die markleierskap in die Wes-Kaap – ’n ideaal wat in ’n stadium amper onbereikbaar gelyk het. Sy weekdagsyfer styg tot 76 000 en sy Saterdagsyfer tot oor die 100 000. Om dié doel te bereik, is ’n tamaaie voorsprong van die Cape Argus stelselmatig weggevreet. ’n Jaar tevore was Die Burger nog 16 000 agter, twee jaar vroeër 28 000, en drie jaar vroeër 34 000.
Jean was ekstaties. In my studeerkamer pryk nou nog ‘n koffiebeker waarmee Die Burger die nuus uitgegalm het. Fred Mouton het vir die illustrasies gesorg.

Klink ‘n koffie: Die Burger word die markleier in die Wes-Kaap.
Vir nog ‘n Burger-prestasie in daardie tyd was Jean die dryfkrag. Die Burger (Oos), Afrikaanse spreekbuis vir die Oos-Kaap ná sluiting van Oosterlig in 1993, het naamlik sy sirkulasie in drie jaar verdubbel ‒ ’n unieke groeilyn in die geledere van alle Suid-Afrikaanse koerante.
Net ’n jaar later het Die Burger en Beeld hul Engelse mededingers nog ’n opstopper gegee. Hulle word die markleiers in die primêre fokusgroep vir adverteerders, die wit, bruin en Asiër-lesers, volgens Amps. Hul ontnugterde mededingers kon net in ongeloof hul wonde lek.
Jean se persoonlike rol om aan verskeie fronte so skouspelagtig deur te breek, was groot, soos sy gestalte. Hy het ‘n slag gehad met syfers en met mense. Hy kon die gordel styf trek as dit moet, maar was nie skaam om doelgerig te belê in ‘n saak waarin hy glo nie. En hy kon sy span as ‘n gedugte eenheid saam met hom neem.
Dat hy en sleutelmense in daardie span al die jare steeds elke drie maande saam gaan eet het, illustreer die gehegtheid wat daardie tyd geheers het.
Jean se eerste koerantspore was op Worcester met die Worcester Standard. In die 80’s het die Nasionale Pers die Standard gekoop. Jean het by Die Burger ingeval en dadelik sy merk gemaak. Ton Vosloo, oud-Persbaas, bestempel hom nie om dowe neute nie as ”een van die beste van die Persfamilie”.
Van die ink in sy are getuig die kritiese oog waarmee hy tot die einde sy koerant gelees het. Oor elke foutjie was hy gepynig nes toe hy die mantel gedra het. Op my selfoon lees ek met ‘n glimlag verskeie wrang kommentare as ‘n berig herhaal is – soos helaas soms gebeur – of iets anders skeefgeloop het.
As mens was hy joviaal, rustig en altyd vriendelik; ook geseënd met ‘n besonderse humorsin, meermale ten koste van homself. Hy kon met smaak die storie vertel van ‘n “kollegiale kenmekaar” op die stasie van Koeala Loempoer waar hy op ‘n trein na Bangkok staan en wag het.
‘n Medepassasier het vir hom alte bekend gelyk. Toe die man ook aaneen in sy rigting loer, staan hy nader.
“Meneer,”sê hy op Engels, “ek ken jou.”
“Ek ken jou ook,” sê die man.
“Ek kom van Kaapstad.”
“Ek kom ook van Kaapstad.”
“Ek werk by die Nasionale Pers.”
“Ek ook.”
“Aangename kennis. Ek is Jean le Roux van Die Burger. “
“Aangenaam. Ek is Jürgen Fomm van Tafelberg-uitgewers. “
Die twee het mooitjies kort tevore by ‘n Pers-ete langs mekaar gesit.
Ten slotte: ‘n waarderende woord oor ‘n kragtige sangstem. ‘n Hoogtepunt by Pers-geleethede was wanneer Jean en wyle Louis Fourie van Tydskrifte saamgespan het met die immer gewilde duet “Datte we toffe jongens zijn”.
“Toffe jongens” inderdaad.
Jan 6, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Knorrige oud-Rapport-lesers takel my gister oor ‘n “vreedsame” koppie Sondagkoffie oor hul verlies op Sondae. Oud-redakteurs, soos ekself, was te gedweë oor die ingrypende koerante-slagting wat tot die einde van Rapport en Beeld as papierkoerante, asook die einde van as Rapport, Beeld en Volksblad as PDF’s gelei het, verwyt hulle. (So asof ekself nie die verlies intens ervaar nie.)
In my verweer kon ek wys op die verklaring van veertien voormalige redakteurs oor vier dekades waarin hulle hul sterk teenkanting oor Media24 se ingryende planne met koerante uitspreek. Media24is gevra om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.
Die 14 – en dit ag ek as van kritieke belang – het ook onomwonde die wens uitgespreek dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.
Die omvang en betekenis van daardie eendragtige toetrede tot die debat is ongelukkig nie volledig raakgesien nie, glo ek.
Daardie 14 oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 af. Dit was die eerste en enigste keer in die bestaan van die Nasionale Pers (later Naspers) van langer as ‘n eeu dat oud-redakteurs so kollektief optree – dus ‘n gedenkwaardige en unieke gebeurtenis.
Ook agter die skerms is hard gewerk aan meer as een inisiatief. Ek dink nie om hulle (ons) kwalik te neem vir die beperkte welslae en die gevolglike pynlike toedrag van sake is korrek en billik nie.
Die gesprek het my genoop om tuis te kom bestek opneem oor my eie bydraes in artikels en briewe oor die sluiting van koerante en PDF’s. Die bestekopname lyk soos volg:
Artikels in Rapport- Weekliks:
Die scoop is (nie) dood nie – 22/12/24
Koebaai koerantplakkaat: ‘n Onbekende leegheid wag nou in strate – 15/12/24
Ag nee, Koos, te veel word verswyg – 3/8/24
Koerante: sewe heildronke … en ‘n huildronk – 19/12/24
Hoekom my hart so bloei oor koerante – 4/12/24
Projek T en die verowering van die Noorde – 29/7/24
Herman le Roux se plakboeke vertel ‘Volksblad’ se storie – 22/11/24
Saluut aan loodsoldate van ‘Volksblad van weleer – 16/8/24
Volksblad: Dankie dat Volksblad kon wees – 20/12/24
Beeld: Koerant se lot is Pienaar gespaar – 20/12/24
Beeld: 2024 se reuseverliese vir Afrikaans – 28/11/24
Volksblad: Eer Volksblad met ‘n naam in Bfn – 16/9/24
Beeld: Verslind brieweblad eerste – 18/8/24
Volksblad – Samelewing sal armer wees sonder koerante – 26/7/24
Die Burger – Media24 moet Afrikaanse joernalistiek bly dien – 21/6/24
Volksblad – Netwerk24 moet Volksbladgemeenskap toegewyd dien – 20/6/24
Ook met die sluiting van Volksblad as papierkoerant vier jaar gelede het ek die pen in Rapport en die drie dagblaaie opgeneem. Verskoon my dat ek dit self sê, maar ek voel werklik nie dat ek ooit my gevoelens weggesteek het of my onbetuig gelaat het oor die treurige ontwikkeling nie. My vriende skuld my ‘n rustige koppie koffie en ‘n ekskuus. (Hoop hulle lees hier.)