KOEK, KOEK EN … KOEK

Eerste simboliese sny.

Eerste simboliese sny. Vos Grey en HvD.

.Die tradisionele troukoek maak toenemend plek vir allerlei fênsie konstruksies met kolwyntjies, roompoffertjies, sjokoladebolletjies en selfs droëwors ‘n keer in die Bosveld, hoor ek.

Vir die ouer garde is die troukoek egter ‘n ernstige saak.  Van die sny daarvan word ‘n seremonie gemaak. ‘n Mens is as ‘t ware nie behoorlik getroud as die koek nie gesny is nie.

Die sny van enige koek – op Engels “cutting of the cake” – bly vir hierdie ou ‘n oomblik van betekenis. By Orpen – by die saamtrek van gryse oud-Kollegemanne –  is die koek nie minder nie as drie keer gesny.

Op die koek, ‘n gewone wit vanieljekoek, was die beeltenis van Sarge Bourke, gelukbringer van Tukkies se Kollegetehuis waar ons span van agt in die jare 1958/1959 ingeval het, in A4-formaat. Die koek kom uit baasbakster Kristie Thompson van Skukuza se oond, soos sovele vorige dekoratiewe koeke. Die planne is in Maart al gesmee.

Die eerste, simboliese sny is met grasie behartig deur Vos Grey, wat in die tweede helfte van 1960, in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter wasEerste seremonie. Hy is die oudste lewende oud-voorsitter van Kollege.  Die uwe, voorsitter in 1962, het Vos tersyde gestaan. Die oudste en die naasoudste voorsitters so saam by die koek is uit alle hoeke gefotografeer.

Die Kollegekoek was op ‘n wit tafeldoek op ‘n tafel op Orpen se grasperk. Ons koshuismaats en hul gades was vir die plegtige okkasie in ‘n eerbiedige halfmaan op allerlei kampstoele versamel. Vos het ‘n gevleuelde woord gespreek. Orpen 1 het amptelik afgeskop. (Die vorige vyf jaar se saamtrekke was by Balule aan die Olifantsrivier.)

Die koek is nie geproe nie al was die versoeking groot. Uit die kombuisie van huisie nommer vier het immers al die heerlike geure van die aand se skaapskenkel-potjie begin kom. Ons ken die kosmaakvermoëns van Cas en Nella Jacobs!

Tweede sny- eerste proe.

Tweede sny- eerste proe.

Die volgende oggend is van simboliese sny tot die volgende stap oorgegaan: Cas het op huisie nommer agt, tuiste van die Van Deventers, met ‘n broodmes (vermoed ek) en sy legendariese sin vir presisie stewige stukke koek vir die teenwoordiges gesny. Weer het kameras geflits. Daarna is geproe en saamgestem: die koek was so lekker soos dit mooi was.

Wat van die lekker koek oorgebly het, is die volgende oggend saam via die boomryke S39 (Timbavatipad) al langs die Timbavatirivier af na die Timbavati-piekniekplek.  Daar is op gasbraaiers wors gebraai, spek gebak, eiers geroer en die laaste krummeltjies van Kristie se Kollegekoek geniet. Ek het doelgerig gesorg dat die “K”  van Kollege na my kant toe kom. Die koek was immers Tokkie se idee.

By die amptelike AJV (algemene jaarvergadering) die laaste middag langs ‘n lekker vuurtjie was almal dit roerend eens dat in die winter van 2018 ‘n Orpen 2 moet plaasvind.Die bekikbaarheid van huisvesting en die beweeglikheid van die span pioniers is al moontlike struikelblokke.

Piekniek by Timbavati

Piekniek by Timbavati

Ons gemiddelde ouderdom is 75 plus. ‘n Mislukte droom is egter verkieslik bo geen droom nie, soos Tokkie tereg herinner.

Vanselfsprekend sal daar weer die een of ander verrassing en simboliese inwyding van ons oues se saamkuier moet wees. Daarvoor, oor na mev. Van Deventer.

(Naskrif: Die teenwoordiges was, in huisievolgorde: (1) Proppie en Lettie Goosen van George, (2) Pierre en Esther le Roux van Mosselbaai,  (3) Manie Steyn van Krugersdorp, (4) Cas en Nella Jacobs van Centurion,  (5) Vos en Magdaleen Grey van Ermelo, (6) Johan en Antoinette Bekker van Jacobsdal, (7) Willie en Joan Paulsen van Bloemfontein en (8) Hennie en Tokkie van Deventer van Melkbostrand.  Vir die Bekkers en die Paulsens was dit ‘n heuglike kennismaking met die mooi tradisie van Kollege-“bosberade”.)

BOLS EN BITTERBALLE

Middag uit Sabiepark

By ons Sabieparkvriende uit Nederland, die wellewende Gert en Caroline Pols van Heerhugowaard en hul kinders, is Woensdagmiddag heerlike Hollandse happies (ook Suid-Afrikaanse biltong!) op hul ekstra-ruim stoep in Gwarrieboslaan geniet – met Hollandse rookwors en “ge-importeerde” mosterd ongetwyfeld die pièce de rèsistance (verskoon die Frans as Sabiepark die dag Hollands is!)

Die middag kry vir die uwe des te meer gedenkwaardigheid toe Marleen, skoondogter, ‘n pakkie Deventerkoek te voorskyn bring, wat sy al die pad via Amsterdam en Londen vir dié Deventer-“emigrant” saamgebring het.

Sommer sulke hierjy-koekies is hierdie Deventer-lekkernytjie geensins. As ‘n Van Deventer wil roem op iets van die stad waarvan die familie die naam dra, is die keuse amper vanselfsprekend. “Wie Deventer zegd, noem ook die koek.” Só spog die Deventeraars met hul bekende uitvoerproduk.

Die Van Deventers se se stamvader, Gerrit Jansz, het hom in 1687 as vryburger by Stellenbosch gevestig, net 35 jaar nà Van Riebeeck se historiese suidwaartse vaart. Toe was Deventer Koek en die bakker, J.B. Bussink al ou nuus in Deventer en elders. Bussinks bak dit self sedert 1593. Voor 1593 is egter al tienduisende Deventer Koeke o.m. na Noorweë, Duitsland, Portugal en Engeland uitgevoer.

Dit is nogal ‘n versoberende gedagte as jy aan ‘n koekie met sy pikante kruiesmaak hap: haai, my ou voorvader, Gerrit, seun van Jan, kon dalk presies dieselfde smakie geproe het terwyl hy 350 jaar gelede op die keisteentjies van hierdie “gastvrije Hanzestad” aan die Ijsselrivier rondgestap het!

Trouens, het oupa Gerrit nie altemit selwers by die sjarmante Deventer Koekhuisje aan die Brink (een van die mooiste stadspleintjies in Holland) vir koffie en koek aangesit nie – nes hierdie afstammeling toe ek self in die 80’s? Ek het in die bekoorlike Deventer ‘n draai gaan maak om my wortels te soek? Toe was daar nog ‘n Deventer-dagblad (nou’t hy ‘n ander naam). Daar was ook ‘n Jacob van Deventerstraat (ongelukkig Jacob met ‘n c!). Ek het my ewe breed by albei laat afneem. Maar dit terloops.

Die koekies wat die mooie Marleen (eggenote van Nick) gebring het, is pragtig verpak. Jammer dat die ontvanger op die foto aan die kleurryke “boksje” afbreuk doen! Die presiese resep is ‘n geheim, maar wel word verklap dat heuning, rog, lemoensnippers , kruie en speserye tot die ietwat onverwagte smaak bydra. Die Koekhuisje beveel dit sterk aan omdat “Deventer Koek een product is dat enorm lekker is, praktisch geen VET bevat en een delicatesse is om te krijgen maar ook te geven”.

Die “geen vet” maak dit ideaal vir hierdie ou man! Ek gaan weldra enetjie smeer vir ‘n “spesiale tractatie”, wat Bussink soos volg aanbeveel: “Besmeer een plakje Deventerkruidkoek met roomboter. Snijd het plakje diagonaal door, en leg de besmeerde kanten tegen elkaar. U hebt dan een Deventer Koeksandwich, waarmee u eer inlegt by uw huisgenoten en gasten.”

Net ‘n paar dae tevore had ons die voorreg om by ander Sabieparkers uit die verre tuisland, Anne en Ria Weilandt, die heerlikste krokette (‘n rolletjie murgsagte beesveisies in ‘n krummelkors, wat vinnig in kokende olie gedoop word) te geniet.

Gert Pols vertel my jy kry kroketjies ook in ronde bolletjies soos frikkadelletjies. In hierdie vorm is hulle bekend as bitterballe. Vir ‘n kroegkuiertjie in Amsterdam, Rotterdam, Deventer, Heerhugowaard, Utrect, Groningen of waar ook al, is Bols en bitterballetjies net die regte ding vir die skemeruurtjie! (HvD)