RIZZ EN ZIRR

Kobus (links) verduidelik vir my die betekenis van ‘zirr’ oor ‘n ‘kuil’ of twee.
Die woordjie ‘rizz’ se bekroning as die Oxford University Press (OUP) se woord van die jaar vir 2023 voer my gedages terug tot die woordjie ‘zirr’ wat in die jare 60 in die Lugmaggimnasium in Pretoria se woordeskat ‘n ereplek beklee het.
Die twee woorde – die een amper ‘n spieëlbeeld van die ander – is amper ook vinkel en koljander wat betekenis betref.
Van ‘rizz’ lees ek in die koerant (DB, 11 Desember) dat dit afgelei is van die woord charisma. Inbegrepe is eienskappe soos “styl, sjarme en aantreklikheid”. Jy het ‘rizz’ of jy het dit nie.
Oor die betekenis van ‘zirr’ maak ek staat op die verduideliking van wyle Kobus Louw, joernalis en skepper van TV-trefferprogramme soos Slampampersirkus en Drama-Drama. Met die stigting van die koerant Beeld in 1974 is hy genader om vir Beeld vryskut-bydraes te lewer. ’n Rubriek is gebore waarin Kobus oor die doen en late van sy vriend Andries, sy alter ego, berig. Andries was begaan om ’n bietjie ekstra ‘zirr’ in sy huwelik te sit.
‘Zirr’ watseding, wou ek as nuusredakteur benieud weet. Dis toe dat hy my vir ‘n bier nooi – ‘n ‘kuil’ het hy dit genoem, soos in ‘n ‘paar kuile trek’ (foto – hy is links). Die woord kom uit sy jaar in die lugmag in 1963, het Kobus my vertel.
As die manne die slag Pretoria ingevaar het agter ’n goeie tyd aan, het hulle altyd gesê: ‘Laat die byle huil’ of ‘laat die wille irre zirr’ (wat dit ook al mag beteken).
‘Zirr’ was, soos Kobus dit gesien het, tekenend van die uitstorting van energie. ‘Von’k is dalk ’n Afrikaanse alternatief. Die Engelse woord pizzaz vat ook iets van die betekenis saam: “An attractive combination of energy and style; sparkle, vitality, glamour,” soos dit in die woordeboek Collins opgeteken is. Dit is eienskappe wat sy vriend Andries gehad het of bepaald graag sou wou besit.
Soos in die geval van ‘rizz’ het jy ‘zirr’ of jy het dit nie. Ek dink as ek kon kies, sou ek liewer ‘zirr’ wou gehad het as ‘rizz’, Dit klink eenvoudig net dinamieser,