SCOOP: DOOD OF NIE DOOD NIE?

Vir die tradisionele koerantscoop kan ons saam met die gedrukte koerant vaarwel wuif. Dis een van die sware totsiense wat op papierverknogte koerantlesers wag.
Met scoop bedoel ek daardie klas trefferberig met die sterk skok- of verrassingselement wat jou soos ‘n klipharde hamerhou tref as jou oog op die opskrif val.
Rapport is in die opsig ‘n skynende lig. Sedert die Sondagblad se ontstaan in 1970 het hy – te veel keer om te probeer onthou – gereeld met nuus uit die bloute hierdie toegewyde leser soos ‘n weerligstraal getref. Om net enkeles te noem: ‘n gewese staatspresident – nogal uit huis uit Gereformeerd – wat sy vrou los vir ‘n minnares, ‘n eerbiedwaardige kerkleier wat in sy voorkamer deur ‘n sluipskutter afgemaai word, en ‘n minister wat in ‘n geheime liefdesnessie allerlei avontuurtjies met ‘n waardige (vroulike) senator beleef.
Op Sondag 15 Februarie 1998 – nogal die dag ná Valentynsdag – het Suid-Afrika met skok verneem dat FW de Klerk (61) sy vrou vir 39 jaar, Marike (60) gaan verlaat. Dit vir ‘n jonger Griekse minnares, Elita Georgiades (46), vrou van ‘n Griekse skeepsmagnaat. ‘n “Valentynsdagbom” eksklusief op die voorblad van Rapport – ‘n droom-scoop. Dae, weke, lank is die storie in al wat koerant en tydskrif is, ge-”spljes”, soos die koerante-idioom lui.
Waar en hoe Rapport die sappige brokkie bekom het, is nie aan my bekend nie. Dat die indertydse redakteur, Chris Moolman – ’n voorslag-joernalis met ’n gesonde eerbied vir joernalistieke standaarde en waardes – soos met verskeie ander scoops van daardie era ‘n enorme rol gespeel het, weet ek wel. Dis hoe hy by sy redaksie die bynaam Super(mool)man verwerf het.
Moolman moes self die stang stewig vasbyt om die storie van hul huweliksverbrokkeling uit die onwillige FW en Marike te pers. Dan was dit sus en dan weer so. Presies op die regte oomblik het die redakteur die troefkaart gespeel: Rapport weet dat ’n derde party betrokke is en dat haar naam met ’n E (vir Elita) begin.
De Klerk se reaksie was: “Nou is ek geskok.” Maar die koeël was deur die kerk. Hy het dit onmiddellik besef. ‘n Scoop is op die harde manier gebore.
Ook in die tweede geval – die steeds onopgeloste moord op die kerkleier prof. Johan Heyns – was Rapport se indertydse redakteur ‘n sleutelfiguur. Maar op ‘n heel ander manier. Moolman se voorganger, Izak de Villiers, gewese man van die kleed, was die Saterdagaand reeds tuis toe sy telefoon op 5 November 1994 – Guy Fawkesdag – skuins voor middernag lui.
Aan ander kant was ‘n predikante-makker, ds. Henno Cronjé, met ‘n vuurwarm nuuswenk: prof. Heyns is net ure tevore met ’n enkele skoot uit ’n jaggeweer deur ’n venster in sy huis in Waterkloofrif doodgeskiet terwyl hy met sy kleinkinders sit en rummy speel.
‘n Geskokte De Villiers het dadelik die bittereinders op kantoor gebel. Die wiele kon in die hoogste rat begin draai. Ds. Cronjé, ‘n huisvriend van die Heynse en van De Villiers, se vriendskapsgebaar het gelei tot die scoop-hoofberig: “Johan Heyns vermoor”.
‘n Scoop is nie altyd onder groot swart letters op die voorblad nie. Op 21 Januarie 2018 was dit, van alle plekke, op bladsy twee van Rapport-Weekliks weggesteek. In stomme verbasing kon lesers, veral Vrystaters – soos Van Deventer op Melkbos – amper uit hul beddens val by die lees van joernalis Herman Lategan se grafskrif vir die vuurvreter-politikus van die Paarl Adrienne (Kuki) Koch (82). ‘n “Minister se skelmpie” word Koch op die man af in die opskrif genoem.
En wie se naam duik toe verrassend in daardie delikate konteks op? Dié van niemand minder nie as wyle Kobie Coetsee, minister van Justisie en Vrystaatse leier van die Nasionale Party, ‘n voorloper in die toenadering tot Nelson Mandela. Dat Coetsee en Kuki vurige minnaars was en lank ‘n liefdesnessie in Seepunt gedeel het, word met vers en kapittel onthul.
Dadelik het die vraag natuurlik ontstaan: waar het Lategan sy inligting oor die buite-egtelike Koch-Coetsee-verbintenis gekry? Die antwoord het nie lank geheim gebly nie: Kuki se dogter, Judy, het die hele verhouding – al die intrige, passie, avontuurlikheid – ook al die bitterheid ná die opbreek – in opdrag van haar berouvolle moeder in ‘n boekie met die veelseggende titel An Adulterer’s Prayer haarfyn opgeteken.
Nie net Sondagkoerante sorg vir scoops nie. Waar die onderwerp ter sprake kom, doem die naam Alf Ries, legendariese politieke beriggewer van Die Burger, Beeld en Volksblad, dadelik op. Ries was dekades lank doyen van die parlementêre persgalery; ’n scoopmasjien sonder weerga wie se stroom trefferberigte mededingers telkens radeloos gelaat het.
Binne 48 uur nadat dr. HF Verwoerd op 6 September 1966 in sy bank in die Volksraad vermoor is, kon Suid-Afrikaners byvoorbeeld sien hoe die skuldige, die immigrantebode Dimitri Tsafendas, lyk – danksy ‘n Ries-scoop. Dit was ongehoord – eintlik onwettig – maar spesiale vergunning vir ’n uitsondering met publikasie van die foto is deur Ries beding. Die Burger was die eerste in die land met twee groot foto’s van Tsafendas op die voorblad van 8 September.
Die kosbare foto’s se herkoms was amptelike leggers van die parlement. ’n Bevriende amptenaar, een van vele in Ries se kring van kontakte, het hom dit stilletjies in die hand gestop. Gewapen met die foto’s, vat hy toe die spoor van John Vorster, minister van justisie, na die wandelgang van die Volksraad toe. Die minister het aandagtig na sy betoog geluister. Ja, hy stem saam dat die foto van groot openbare belang is, sê hy naderhand. Maar die wet is die wet. Hy sien swarigheid om oor die struikelblok te kom.
Net toe stap Jim Fouché, minister van verdediging, verby. Die boer van die plaas Babel, distrik Rouxville, was bekend om sy aardse wysheid en praktiese benadering tot ’n probleem. Kom ons vra Oom Jim wat dink hy, stel Vorster voor, en wink sy ouer kabinetskollega nader. Fouché, latere staatspresident (van 1968 tot 1975) het nie lank gedink nie. Sit dit in, sê hy, en toe met nadruk: die mense sal wil sien hoe die vark lyk. Sy oordeel gee die deurslag.
Vandag se nuus vandag. So het middagkoerante graag in hul gloriedae gespog. Selde is aan die motto beter reg laat geskied as op 2 Februarie 1989 met die verkiesing van FW de Klerk as hoofleier van die Nasionale Party in die plek van ‘n ongestelde PW Botha. Die onverwagte verkiesing het in die grootste geheimhouding geskied.
Ries het buitengewone aktiwiteit by die NP-koukuskamer waargeneem, en dadelik snuf in sy politieke neus gekry. Daardie middag was die nuus Die Volksblad se voorblad vol. Toe ’n Vrystaatse LV, wyle Piet Steyn van Winburg, ’n Bloemfonteinse vriend, wyle prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan alles in Die Volksblad”!
Dan ‘n rêrige groot scoop: die eerste foto’s van die eerste ontmoeting tussen Botha en Nelson Mandela op 5 Julie 1989 in Tuynhuys. Op die ingewing van die oomblik, en met instemming van die twee hooffigure, het kapt. Ters Ehlers, knap gewese private sekretaris van mnr. PW Botha, met sommer ‘n dood-gewone mik-‘n-druk-kameratjie die foto’s geneem. Eintlik sommer net ‘n paar kiekies.
Om politiek-sensitiewe redes het Ehlers se foto’s lank ongepubliseer gebly.
Toe op Donderdag 15 Februarie 1990 verskyn Die Volksblad eerste met die “foto’s waarvan die wêreld nie geweet het nie” op sy voorblad. Hoekom juis Die Volksblad? ‘n Vername rede was dat redakteur een van die min mense was wat van die bestaan van die foto’s geweet het. Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, het dit in ‘n private gesprek laat glip.
Vanselfsprekend het hy (die redakteur) nie ophou torring om die foto’s as ’n scoop los te wikkel nie. Aan die begin van Februarie 1990 het hy, al half moedeloos, die kwessie weer oor die telefoon aangeroer. Die eerste keer het Botha sy gewilligheid laat deurskemer. Ná intensiewe onderhandelinge, onder meer ook deur ‘n bemiddelaar met Mandela, wat toe in sy laaste dae in die Victor Verster-gevangenis was, is tot publikasie ingestem.
Wie daardie bemiddelaar was? Niemand minder nie as die nimlike Kobie Coetsee, hierbo in ‘n ander verband genoem ‒ “my vriend Kôbie”, soos Mandela hom waarderend bly noem het.
Met die ooreenkoms beklink, is ‘n verslaggewer per motor na Pretoria om die kosbare pakkie te gaan haal. Nog twee foto’s is per koerier na Bloemfontein gestuur. En op Donderdag 15 Februarie, verskyn die koerant toe met sy eksklusiewe foto’s – inderdaad ‘n wêreld-scoop.
Maar so lekker dit is om te scoop, so bitter is dit om gescoop te word. So ‘n wrange scoop vir die koerante van Media24 – – om meer as een rede – was die eksklusiewe (digitale) berig uit die bloute op die internetmaatskappy Moneyweb se blad oor die voorgenome sluiting van belangrike Media24-koerante se gedrukte en / of digitale uitgawes.
Die beroering wat dit veroorsaak het, het gewys watter sensitiewe snaar hier getokkel word, met ingrypende implikasies vir hope mense – van joernaliste tot koerantverkopers op straathoeke – inderdaad vir die ganse Afrikaanse kultuur. Wat opvallend was, is dat die geloofwaardigheid daarvan nooit vir ‘n enkele oomblik in twyfel getrek is nie, nie deur ander media nie en – belangrikste – ook nie deur Media24 self nie. Ná aanvanklike swye moes die maatskappy lammerig erken: Moneyweb was in die kol.
Die tydraamwerk hoe gebeure ontvou het, dui op ‘n snelle lekkasie van die ingrypende stappe aan Jeremy Maggs van Moneyweb. Skere sleutelmense by Media24 was nog nie eens in kennis gestel nie toe die skokberig op hul rekenaarskerms flits.
iDalk maar ‘n voorspooksel daarvan dat die papier-scoop (amper) dood is, lank lewe die digitale scoop!
- Die artikel verkyn vandg in die laaste uitgawe van Rapport-Weekliks.