Oct 19, 2019 | Hennie van Deventer se Blog
Ek wil graag nog iets vertel van die land Japan wat nou in sy rol as gasheerland vir die grooot rugby as ‘t ware herontdek word, en oor die stad Kobe waar van die groot wedstryde gespeel is. Ook die Springbokke het daar uitgedraf. Ek en Tokkie was in 1998 in Kobe vir die wệreldkongres van koerantuitgewers – my laaste voor aftrede.
Een groot vraag waarmee ons in Kobe aangekom het, was: hoe heel kan ’n stad wees net drie jaar nadat 100 000 geboue in ‘n reuse-aardbewing verwoes of beskadig is, die padnetwerk (die vernaamste snelweg inkluis) in duie gestort het, en spoorlyne verfrommel is? Die antwoord, het ons gou agtergekom: heeltemal heel. Omtrent al sigbare tekens van die aardbewing wat oorgebly het, was ’n ry windskewe lamppale naby die hawe. Dié is doelbewus so gelaat – as ’n gedenkteken van die stad se 20 sekondes van pyn. Die mooi plek is ook nie net oppervlakkig deur ’n “Glam Guru”-stadsbeplanner kosmeties “oorgemaak” nie. Sy siel was heel.
Rampe skep desperate mense; desperate mense se grypsug ruk maklik hand-uit, hetsy in Afrika, Indonesië, Amerika, Nieu-Seeland of waar ook al. Dit weet elkeen. In New Orleans in die deelstaat Louisiana in die VSA is byvoorbeeld, ná die verwoesting van die graad-vyf-orkaan Katrina in 2005, selfs ’n hele Walmart-winkel (massiewer as ’n Makro) dolleeg besteel. In Kobe het egter, merkwaardig genoeg, geen plundering voorgekom nie. Selfs juwelierswinkels is onbewaak oop laat staan. Dit sê iets van die stoffasie van die Japanners.
- Op die foto is ek en Tokkie by ‘n ysbeeld van die ellelange Akashi-Kaikyo-brug by die Osakabaai wat pas ingewy was. (Die brug is 3 911 meter lank en op die hoogste punt van die boog 300 meter hoog. Dit het ’n rekord-span van 1,991 meter, ’n hoogte wat hom in die geselskap van reuse soos die Tokiotoring en die Eiffeltoring in Parys se 321 meter plaas.) Vir perspektief: die veelbesonge Golden Gate-brug by San Francisco was daardie tyd net nommer 14 op die lys van langste boogbrûe.
- Die verhaal van ons onvergeetlike besoek aan die verre hawe Kobe is opgeteken in my boek “Na verre hawens” wat pas by Naledi verskyn het. Dit is reeds aanlyn te koop by Naledi, en in boekwinkels seker enige dag van nou.
Oct 15, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van die Japanse stad Kobe het rugbyliefhebbers die laaste ruk baie gehoor. Hoe die stad soos ‘n feniks uit die as verrys het, vertel ek in my nuwe boek “Na verre hawens”. Kobe is een van daardie “verre hawens” waaroor ek skryf. Ek en Tokkie was in Kobe in 1998 by die wệreldkongres van koerante.
Die stad was pas herbou na ‘n verpletterende aardbewing. Ons was in die indrukwekkende Oriental Hotel Meriken Park in die hawe en is op daardie einste skippie, die Luminous Kobe 2, soos konings onthaal. Ons bewonderings vir Japanners is omvangryk.
Kobe is ’n aantreklike hawestad aan die voet van die Mt. Rokko-gebergte. Sy bevolking was met ons besoek in 1998 sowat 1,4 miljoen. Op die rampspoedige dag, 17 Januarie 1995, is die stad in 20 skrikwekkende sekondes feitlik platgevee. Altesaam 6 394 mense is dood, 25 000 beseer en 300 000 dakloos gelaat. Die skade was minstens $132 biljoen. Die meting op die Richterskaal was 7,2 – die hewigste in die land sedert die Groot Tokio-aardbewing in 1923 waarin 140 000 mense omgekom het.
in Mei 1998 is die spreekwoordelike “rooi tapyt” is vir die “eregaste” – dis nou ons kongresgangers! – uitgerol. Die asemrowende, ultra-moderne Oriental Hotel Meriken Park was die eerste verrassing. Die gebou word omring deur die oseaan aan drie kante en staan as ’t ware in die water van die baai. Elke kamer het ’n eie balkon. Daarvandaan het hotelgaste ’n onbegrensde uitsig oor die see, op skepe en mega-seiljagte wat kom en gaan, asook op die helder verligte stadsprofiel met flitsende kleure wat van uur tot uur wissel.
Onthale vir die kongresgangers was onder meer ‘n skemervaart. Daarvoor het die Luminous Kobe 2 ons as ’t ware by die Meriken Park se voordeur kom oppik. ’n Mens kon letterlik van die tweede verdieping van die hotel op die dek stap. Ons is verby die Awaji-eiland en die piece de resistance – die ellelange Akashi-Kaikyo-brug wat pas ingewy was; glansend in die laaste karmosynstrale van die sonsondergang. (Die brug het ’n rekord-span van 1,991 meter, ’n hoogte wat hom in die geselskap van reuse soos die Tokiotoring en die Eiffeltoring in Parys se 321 meter plaas.)
Die Luminous 2 is ’n ’n groot, kragtige, vinnige, weelderige en stylvolle skip in eietydse Art Deco-styl. Met ’n lengte van 106 meter en vier restaurants op drie dekke was dit onder Japan se voorste bote vir sulke plesiervaarte.’n Span galante offisiere en elegante Japanse meisies in kimono’s het by die oopswaaideure gewag. Op die silwerskinkborde was kelkies met ’n verskeidenheid van hul eie voorkeurdrankie, sake, maar – verrassend genoeg – ook met cabernet sauvignon, chardonnay en merlot uit eie wingerde in die Kobekontrei. Kobe-wyn is gesog oor die hele Japan, is ons ingelig.
Op die tafels was ’n fees van Japanse geregte: potjies shabu-shabu en soetsuur sukiyaki met verleidelike geure, en die tradisionele visgereg funamori met repies rou vis kunstig uitgestal op ’n bootvormige bord, sashimi, matsuba-kreef – seekos nommer een uit Japan se waters.Die vleisliefhebber uit Suid-Afrika het dadelik gesoek na die Kobe beef met die kenmerkende “marmer”-strepe in die dieprooi vleis. Die sappige filet kom van beeste wat met massering, bier en ryswyn spesiaal vetgemaak is om koningskos te word.
In “Na verre hawens” vertel ek meer
Mar 15, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Skewe lamppale in Kobe - die monument van 'n enorme aardbewing.
More uit Melkbos
Hoe ‘n verpletterde Japanse stad letterlik soos die spreekwoordelike feniks uit die as kan verrys ná ‘n massiewe aardbewing het ek in 1998, in ongeloof, in die stad Kobe, naby Osaka, met my eie oë gesien.
Kobe is op 17 Januarie 1995 feitlik platgevee toe die aarde 20 sekondes lank aan die ruk en beef gegaan het in ‘n skudding wat 6,9 op die Richterskaal gemeet het. Altesaam 6,425 mense is dood, 25,000 beseer en 300,000 dakloos gelaat in die ergste aardbewing in Japan sedert die Groot Tokio-aardbewing in 1923 waarin 140 000 mense omgekom het.
‘n Skrale drie jaar later is die 51ste Wêreldkongres van Koerante in Kobe gehou; ‘n moderne, mooi stad wat met die gewone Japanse doeltreffenheid funksioneer. Die afgevaardigdes kon kwalik agterkom watter verwoesting in sy onlangse geskiedenis plaasgevind het.
Met onverbloemde (en geregverdigde) trots is aan ons CD’s uitgedeel met ’n grafiese uitbeelding van die aardbewing en die merkwaardige rehabilitasie te midde van die uiterste ontreddering, chaos en ontwrigting. Binne ‘n week van wonderwerke was kommunikasiekanale weer op dreef; water en elektrisiteit grootliks herstel en die verkeer aan die vloei.
Ongelooflik! Ek glo die wonderwerk wat in Kobe vermag is, is die model waarop ook die heropbou van die stukkende stuk Japan ná die jongste reuse-aardbewing en verterende tsoenami geskoei gaan word.
Voordat ons in Mei 1998 vir die kongres na Japan vertrek het, is ons met heelwat innligting oor die aarbewing van 1995 gevoer. Ek, en seker baie ander koerrantemense vanoor die wêreld, het met ‘n sekere huiwering in grys onweer op die die Kansai-lughawe afgeklim.
Hoe heel kan ‘n stad wees net drie jaar nadat sowat 100,000 geboue verwoes en beskadig is, die padnetwerk (die vernaamste snelweg inkluis) in duie gestort en spoorlyne uitgeruk en opgevou is (die skade was minstens $132 biljoen)?
Die hoflike Japanners wat hulle met hul knap organisasie van die kongres, wellewendheid en gasvryheid onderskei het, het uit hul pad gegaan om vir die besoekers te wys dat Kobe nie net kosmeties
reggeruk is nie. Hulle het ons gou oortuig: hul stad is waarlik heel.
Die skewe lamppale wat oorgebly het, is doelbewus so gelaat – as gedenkteken.
Ek is daar weg, enersyds, met genoeglike herinneringe aan veral die beroemde “Kobe beef”, die vleis van beeste wat met massering en bier spesiaal voorberei word om koningskos te word. Ek is voorts deur die Japanners se durf, motivering en dissipline begeester.
Geen ander nasie sou hulle kon nadoen wat hulle in Kobe reggekry het nie.
Wat nogal iets sê van daardie nasie se stoffasie is dat in die dae ná die aardbewing geen, maar geen, plundering van winkels plaasgevind het nie. Selfs juwelierswinkels het onbeskermd oop gestaan. Niemand het iets gevat wat nie aan hom/haar behoort nie. Vergelyk dit met wat ná die orkaan Katrina in New Orleans aan die orde van die dag was, en ook aan optredes in ons eie land.
As ‘n mens so kyk na die tonele op jou TV–skerm van die huidige pyn en ellende van Japan wil jy moedeloos voel. As jy die Kobe-ervaring in herinnering roep, kry jy moed. (HvD)