DROEWIGE STORIE

Valentine Weigl.

Valentine Weigl.

Van al die droewige stories van ontreddering en verlies in die onlangse Knysnabrande  is die verhaal van Sabieparker Hans Weigl seker een van die aangrypendste.

Sy huis is in vlamme op met al sy besittings  (ook dokumente) terwyl hy in Mosselbaai in die hospitaal was ná ‘n drieledige hartvatomleidingsoperasie. Daardie terugslag moes hy stoksielalleen verwerk. Sy jong vrou, Valentine, is in Oktober verlede jaar skielik in raaiselagtige omstandighede oorlede.

Die leed lê vlak in Hans se oë toe ek hom in Sabiepark  raakloop, en –onbewus van Valentine se dood – oor haar welstand navraag doen.

“I am alone now,” antwoord hy stukkend.

“And she was only 47.”  Asof hy dit self nie kan glo nie, herhaal hy die woorde saggies: “She was only 47”.

Die opvallende paartjie was jare lank bekendes in Sabiepark:  hy, die vriendelike Duitser, sy die vrolike jong Swazivrou aan sy sy.     Die twee was lief om te stap, sulke ver ente in die ongerepte  boswêreld  van die private natuurreservaat aan die Sabierivier,  met die ryke norring bosveldbome, knoppiesdorings,maroelas, jakkalsbessies, blinkblaar-wag-‘n-bietjies, rooiboswilge, haak-en-steke  en andere, en ‘n periodieke luiperd-kuiergas uit die Krugerwildtuin of die Sabi-Sand.

Hulle het die begin van elke Julie die algemene jaarvergadering in ‘n groot markeetent by die piekniekplek bygewoon, al kon hulle seker nie veel verstaan van die Afrikaans wat meesal daar gebesig word nie. Agterna het hulle saamgekuier rondom die groot potte stywe pap en sheba (‘n geurige tamatiesmoor).

Na die jaarvergadering, het ons geweet, het altyd ‘n besoek aan Swaziland gevolg waar stewige bande met Valentine se familie gehou is.

Geen wonder nie dat die nuus van haar dood en Hans se daaropvolgende brandskade met soveel skok in Sabiepark begroet is –  by die kantoor  waar hulle gereeld ‘n welwillendheidsbesoekie gebring het, asook by eienaars wat altyd graag met hulle ‘n woordjie gewissel het, hetsy op een van hul staptogte, by die TV-kamer of elders.

Ek onthou hoe sprankelend en gesond Valentine in Julie 2016 nog was, en betuig saam met my medelye ook my verbystering teenoor Hans oor haar onverwagte heengaan.   Die oorsaak was algemene orgaanversaking, deel hy mee; ‘n vreemde, vinnige agteruitgang ná ‘n ongesteldheid wat uit die bloute toegeslaan het, en waaroor hy ook maar net kan wonder en bespiegel. “Strange things happen in Africa, you know…”

Die brand en verlies van alles wat in sy huis was, bring opnuut troebelheid in sy oë as hy daarvan vertel – dit terwyl hy nog besig was om in die hospitaal op die nabygeleë  Mosselbaai aan te sterk ná die hartoperasie.

Om sy annus horribilis te kroon, moes hy doktersopdragte in die wind slaan en die lang pad Johannesburg toe per motor aandurf om nuwe ID-dokumente te bekom, vertel Hans.

“What could I do? I am alone now.”

PAD NA “AFRIKA”

More uit Melkbos

Suid-Afrikaners is só bederf met die ryke oes aan natuurwonders in ons mooi land dat party daarvan totaal onderskat word.

Een onderskatte wonder is die sogenaamde Kaart van Afrika, naby Wildernis. Ek wonder hoeveel mense stop daar. My eie inklinasie was om verby te ry, Toe laat sak ek, tog nuuskierig, die Honda se voorruit om ‘n vrywillige gids, Helene, te vra hoe ver ‘n mens moet stap.

Haar antwoord het verras: “Jy sien dit sommer van hier af.” Sy het met haar regterarm na ‘n houtrelinkie gewys. Ek klim uit, eers sonder kamera. Dadelik roep ek vir Tokkie om ook te kom kyk … en “bring sommer my kamera, asseblief”.

Twee riviere, die Kaaimans en die Silwer, het in die vallei voor jou die replika van die Afrikakaart uitgekerf, al die kontoere … wel, amper al die kontoere, en die boggel op die koop toe.

Die Amerikaners, meesters in bemarking soos hulle is, sal jou ver laat ry om na so iets te gaan kyk, met groot kennisgewingborde vol beskrywings in flambojante hiperbole wat jou lok. En jy sal nie agterna voel jy’s geflous nie.

Ons is dalk te beskeie, of eenvoudig vrot bemarkers.

Maar gaan kyk self. As jy van Wildernis af ry, soos die uwe, draai jy by die hotel links, rigting George. Die grondpad klim en kronkel deur Wildernishoogte todat jy die bord “Kaart van Afrika” kry. Dan draai jy links in Remskoenlaan.

Ongelukkig is op die hoek ‘n onaantreklike plakkers-kolonie, maar sluit maar daarvoor jou oë. Net enkele kilometers se ry bring jou by die stilhouplek. Boonop sien jy Wildernis en sy kuslyn van bo af buitengewoon skouspelagtig doer ver onder. Hou net dop vir die plaasnaam “Forever wild” en vertoef by daardie naambord ‘n paar oomblikke om die beste hoek vir jou foto te kry.

Helene en ‘n vriendin “doen diens” by die “Kaart van Afrika”. Hulle versorg liefdevol ‘n tuintjie wat hulle daar gemaak het, en hou die plek sindelik, ‘n taak wat ná naweke veral avontuurlik kan raak. Onderkleertjies word glo meermale daar uitgeskop … “forever wild”!

Na links sien jy die N2-verkeer in die Kaaimansrivierpas en voor jou, in die verte, die Outeniekwaberge, waar juis die Silwerrivier ontspring. Ook na link is is ‘n groot woonstelblok, maar, lig Helene in, geeneen van die woonstelle van R3.5m elk is nog verkoop nie. Erge verspoelings kom gereeld daarlangs voor, en die versekeringsmense wil nie byt nie, dankie. Boonop is daar ‘n onopgeloste dispuut oor ‘n deel van die grond.

Remskoen loop dood. Jy ry op jou spore terug “grootpad” (Whitesweg) toe. As jy steeds links hou, sluit die pad aan by die ou George-Knysnapad deur geil bosse, welig begroei met varings. Jy steek ook twee keer die Silwerrivier oor stewig gemesselde brûe oor. Jy ry, net buite George, verby die Saasveld-kampus van die Nelson Mandela-universiteit (voorheen die bosboukollege) wat uit eie reg ‘n besoek werd is. Die Amerikaners sou ‘n manier gevind het om dit onweerstaanbaar te laat klink!

Jy kan ook by ‘n T regs draai Knysna toe met die “pad van die sewe passe”. Dit wil ek ‘n volgende keer doen.

Ons sal net moet roer, mense. Tyd is nie aan ons kant nie. ‘n Stuk van die ou pad is baie erg verspoel, en vir hierdie leek lyk daardie skade ongelukkig onherstelbaar, tensy jou geld jou brand. (HvD)

Naskrif: As jy van George se kant kom, draai op pad uit na Knysna links Saasveld-kampus toe, later regs na Wildernishoogte en weer regs in Remskoen.