Dec 13, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die skielike ontdekking dat iets aan kou klere skort, kan ontsenuend wees. ‘n Prysetiket het dalk weens ‘n oorsig op ‘n strategiese plek bly sit. Nou word aan almal uitgeblaker teen watter afgekibbelde prys jou klerekas by die Oosterse basaar vernuwe is.
Kollega Sarel Venter van Bloemfontein onthou ‘n insident toe Mike de Vries in so ‘n klerepenarie was, na aanleiding van my herinneringe aan ‘n heuglike Oostenrykse reis in my vorige blog.
In 1976, sy parlementjaar, was Sarel en Liesbeth een aand in Stellenbosch se stadsaal vir ‘n opvoering van Ipi Tombi. Hulle had komplimentêre kaartjies, verskaf deur ‘n buurman in Uniepark (Stellenbosch), prof. Roux de Villiers, destyds vise-rektor van Maties.
So sit hulle toe langs die rektorspaar, Mike De Vries en Renéé, ‘n dogter van die Pers se voormalige grootbaas Phil Weber.
Sarel vertel:
“Liesbeth sit toe regs van Mike, en in die skemerlig sien ek, as ek links kyk, kort-kort iets wit beweeg anderkant mý gade. Toe ek mooi kyk sien ek dit is ‘n prysetiket aan Mike se (nuwe) aandpak se linkermou, net bokant die hand.
“Toe ontdek Mike dit ook en begin dit diskreet lostorring. Hoogs geamuseer was ons aandag ‘n hele ruk lank nie juis by wat op die verhoog aangaan nie.
“Jare later, by ‘n dinee in Bloemfontein, dalk was dit met ‘n Volksblad-viering, sit ons toe saam met die De Vriese aan tafel. Hoe het ek nie gebrand om vir hom te vertel van daardie aand in Stellenbosch nie!”
Soos ek die gemoedelike Mike geken het, kon jy gerus maar vertel het, Sarel.
Soms kom ‘n element van moedswilligheid in so ‘n scenario na vore. Een van ons Melkbosse leraars, Francois Hanekom, kom op huisbesoek agter die lidmate betrag hom vraend. Riana het stilletjies agter op sy baadjie ‘n etiket geplak wat van ‘n nuwe kombuispot kom: “slow cooker”.
Herinner my aan een van Rykie van Reenen se stories wat telkens in nuwe gedaante afgestof word vir ‘n nuwe generasie. Dis van die oubasie wat in oorlogstyd op Durban se strand kerjakker met ‘n baaipakkie uit ou meelsakkies vervaardig. Voorlangs, op ‘n ongemaklike plek, word verkondig: “self raising”. (Agter was ook ‘n dubbelsinnige mededeling – kan om die dood nie onthou wat nie.)
Van ‘n dame is nie so lank gelede nie op die nimlike Durbanse strand ‘n vreemde foto geneem en wyd op die internet versprei. Haar baaipak was agterstevoor. Die rug was nogal laag gesny. Twee wippende dubbel D’s ontbloot in die branders!
Gé Korsten het my vertel van ‘n verleentheid op die Aula se verhoog in Pretoria. Hy en Mimi Coertze was in ‘n hartstogtelike toneel in ‘n opera. Hy kom agter onse Mimi loer-loer so suidwaarts van sy naeltjie en maak sulke betekenisvolle kopknikkies. Toe hy afyk, sien hy net die wit pant van sy hemp soos ‘n vlag by sy oop rits uitsteek.
Hy het eenvoudig rug gegee en die rits opgepluk – tot groot vermaak van die gehoor. Geen regisseur kon Verdi se sonore musiek met so ‘n spontane plesiertjie afwissel nie! (HvD)
Sep 29, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
‘n Vriend se broer is ‘n groot man met ‘n gewig (het die woord “massa” ooit wortel geskiet?) wat woes wipplank ry. Vir die wis en onwis hou hy drie stelle klere aan – voorbereid op die twee uiterstes van swaar en lig en darem met ‘n behoorlike verskoning vir die tussenin-fase ook.
Soos die wyse maagde met hul lampies raak hy nie meer onverhoeds betrap as sy gewig na al die swoeg en sweet skielik ‘n onwelkome opswaai toon nie. Wie in ons geledere van gewigtiges ken nie daardie komplikasies met klere wat rek en krimp nie?
Op die oomblik is my broeke die leste een verklein. Die Singer het gesing soos nate “uitgesit” is. Die keuses waarmee ek elke oggend gekonfronteer word, is verbysterend. Broeke wat ek laas Nuweland toe gedra het toe ek nog ‘n losie-bevoorregte was (voor aftrede einde 1997) pas nou weer eksie-perfeksie.
Ook my donkerblou dubbelbors-“blazer” met die rye koperknope, ‘n paar ander variasies op die tema sportbaadjie en onder meerdie swart wolpak met fyn strepies waarin ek op die maat van “Oh Mein Papa” van Eddie Calvert met die bruid gewals het toe my dogter, Marisa, op 30 Desember 2000 getroud is.
Juis hierdie halleluja-ontwikkeling van klere wat skielik weer uit die kas kan kom, voer die gedagtes van hierdie steeds ietwat gesette ou gryse terug na my “begrafnispak”.
My “begrafnispak” was een wat ek in my laaste jare graag kantoor toe gedra het: ‘n geruite grys met ‘n groen skynsel (so deel Tokkie my hulpvaardig vriendelik mee, want ek is mos rooi-groen-kleurswak). By hom het ek graag een van daardie “korporatiewe dasse” aangesit, met ‘n verskuilde kommersiële boodskap in die ontwerp. Hierdie een het ek by wyle Werner Wager, wellewende Duitse fabrieksbaas, gekry. Die ontwerp is van ry op ry groot houtletters, soos daardie wat in die ou dae in koerante en tydskrifte se drukkerye gebruik is om opskrifte met die hand te set (foto).
Ewenwel, daardie geleentheidspak (en passende das) het sedert 1998 in ‘n plastiekjassie in ons kas in Sabiepark gehang – gereed vir ‘n “begrafnis” wat uit die bloute kan opduik terwyl ek daar met my hoofsaaklik kakie-bos-klerekas sit. ‘n Mens sweet nooit …
‘n Paar bruin “begrafnisskoene” het ook in ‘n hoekie in daardie kas tussen my vellies en robuuste stapskoene gereed gestaan.
Hier circa 2009 sê Tokkie honend: “Pas ‘n bietjie daardie pak aan.” Ek reageer aanvanklik kopsku. Die morele dwang is egter geweldig. Natuurlik word die die voorspelbare “ontdekking” gedoen: my mooi pak sou, helaas, nie meer deug as ek skielik “begrafnisklere” nodig sou kry nie. Die hele uitrusting kom toe terug Melkbos toe, das, skoene, die lot.
Oor eerskomende Sondag se kerk-uitrusting kry ek toe ‘n vonkel in die oog. Al word die kerkdrag deesdae gekenmerk deur algemene dasloosheid, pak die bevlieging my om ‘n slag ewe deftig in my “begrafnispak” te klim, das, skoene en al.
“Tokkie. Waar’s daai pak wat in Sabiepark was?”
“Vir Solidariteit gegee.”
“Solidariteit?” Natuurlik. Toe onthou ek. My pak se verwisseling van eienaarskap was nogal met die uwe se instemming. Nie gedink hy sou ooit weer vir HvD, toe op die toppunt van sy gewigtigheid, enige nut of waarde hê nie.
Nou soek ek hom met ‘n seer hart. Tokkie is onwrikbaar: dis neusie verby. “Eens gegeven, dan genomen, is erger as ‘n dief gestolen.” Buitendien, sy gaan in geen omstandighede die verleentheid op haarself haal om eens te gaan navraag doen oor die beskikbaarheid van haar eggenoot se “te groot pak” nie. Selfs die opsie om hom “terug te probeer koop”, het, volgens haar, het geen lewensvatbaarheid nie. Sela.
My mooi pak is Solidariteit toe en finis. Dis die einde van die storie. Die das kan maar, saam met dosyne ander, in die ou sloop kom waar ek daardies bewaar wat ek nooit weer sal dra nie, maar darem nie kans sien om weg te gooi nie, omdat ek aardig sal voel as hulle om sommer enige nek hang.
Die skoene? Die’s opnuut loshande die beste in my kas, ontdek ek toe ek dit uithaal en deeglik ondersoek. Sal Sondag ten minste in daardie “begrafnisskoene” kerk toe opruk, dis nou maar wors. (HvD)