HVD 6: MET HARP EN SITERTONE

Naspers-topbestuur op Melkbos se stoep.

‘n Kwarteeu lank is my adres nou Penguin Place 11, Melkbosstrand  – die Van Deventers se plek van melk(-bos) en heuning met Tafelberg,  ‘n grou kolos, aan die suidekant; die Atlantiese Oseaan in sy wisselende stemminge  wydgestrek voor ons; Robbeneiland net ‘n hanetreetjie weg. Op ons bankie langs die water beleef ons saans, wyntjie in die hand, die skilderagtigste sonsondergange.

In Maart 2023 verskuif ons na Sabiepark vir plus-minus ons 50ste besoek aan ons bosparadys aan die Sabierivier, net twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin, waar wilde diere ons bure is en ‘n vuurtjie elke aand brand.  Ambisieuse planne word beraam om ons verbintenis van 25 jaar saam met vriende te vier.

Maar eers, vroeg in Januarie, bestyg ons die MSC Sinfonia vir ons 12de bootvaart, bestemming Walvisbaai. Die voriges sluit in ‘n vaart op die fabelagtige Queen Mary II na Sydney via Perth en Melbourne – loshande ons droomvaart; een na Venesië; een van Venesië terug Kaapstad toe via die Suezkanaal, en een tussen die Griekse eilande. Ons is lief vir die ontspanne lewenswyse ter see.

Vuurtjie in Sabiepark.

O, die salige niksdoen-bestaan van ‘n lid van die kieriekommando, soos Tukkiemaat Pierre le Roux by aftrede einde 1997 my nuwe status gedoop het. Dit was nogal profeties. My kierie is ‘n vername simbool van my huidige lewe, maar ook ‘n vername werktuig.

Selfs ‘n vernamer werktuig is my drarekenaar. Op hom gesels ek (veels te veel) op Facebook, hou ek my blog by www.hennievandeventer.co.za in stand, skryf ek briefies vir koerante oor alles onder die son – dosyne, dalk honderde al – en af en toe ‘n artikel. Van die briewe was die betekenisvolste sowat 10 om uit die staanspoor my ernstige bedenkinge oor die Bird Island-boek met sy skandelike duimsuigstories te opper.

Van die briewe was in al drie dagblaaie, Die Burger, Beeld en Volksblad. Van hulle was in Rapport. Al die koerante het my ruim geleentheid gegee om my saak te stel, vrae te vra en kritiek uit te spreek. Prominensie is aan die briewe verleen wat bo verwagting was. Ook op Netwerk24. Ek is dankbaar daaroor.

Beeld het een van my briewe geplaas met ‘n sterk verwysing daarna regs bo op die voorblad (foto). Reeds op 9 April 2019, 11 maande gelede, is ek toegelaat om te verklaar: “Vier, nee vyf, spykers is nou in die doodkis van die Bird Island-boek gekap”.

Op Beeld se voorblad.

Rapport het op 14 April ‘n brief van my geplaas onder die opskrif “Vrae en reaksie na berigte oor Bird-Island” waarin ek uitdruklik verklaar dat die geloofwaardigheid van die boek toe reeds “in vlamme afgeskiet” was. Aan die brief het hy sy apologie in sy kommentaarkolom op bladsy 2 vasgeknoop. Die opskrif was, sonder om doekies om te draai: “Bird Island: Ons het ‘n fout gemaak.” In die apologie is die kernswakheid van die boek in een sin kragtig saamgevat: “Vir geen van die skadelikste bewerings kon enige joernaliste bewyse vind wat onafhanklik geveriëer kon word nie”.

Daarop het die koerant sy lesers, Barend du Plessis en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley om verskoning gevra vir die onverdiende leed. Die merkwaardigheid van so ‘n aanvaarding van skuld en uitspreek van berou is waarskynlik nie oral na waarde geskat nie. My bydrae om dit op etiese gronde te help bewerkstellig, was vir my uiters bevredigend en  dubbel en dwars die moeite werd.   Daaroor is meer te lese op die webblad https://www.thelostboysofbirdisland.co.za

In die 25 jaar het ek so tussenin ook die getal boeke (boekies) uit my pen van drie tot 22 opgeskuif.  Koerante, die bos, humor is die hooftemas. Nommer 23 kom hopelik in April. Weer koerantstories. ‘n Oop plekkie wag al op die boekrak in my studeerkamer.

Op ons bankie saam met die tweeling.

Gevorderdheid in jare kan die beste waargeneem word in vier dinge: ou hout om te brand, ou wyn om te drink, ou vriende om te vertrou en ou skrywers om te lees, het Francis Bacon verklaar. Ek kan nie hartliker saamstem nie.

Een van die durende genietinge van die aftreejare is die voorreg om saam met skoolmaats, studentemaats, kollegas en ander vriende, oud en nuut,  te kuier, hetsy op Melkbos, in Sabiepark of waar ook. Reünies met o.a. 1957-matrieks van Volkies, Potch,  mede-Kollegemanne op Tukkies, Volksbladders en Naspersers tel onder die gedenkwaardiges byeenkomste.

As John Vorster een waar ding in sy lewe gesê het, was dit oor klekinkinders: dat kleinkinders die Here se geskenk aan ou mense is. Ek en Tokkie is al 18 jaar lank oupa en ouma. Ons harte loop oor van dankbaarheid oor die seen en die lewensgenot van saam met die nasate lekker dinge te doen.

Onvermydelik kom ook teleurstellings en gebeur ook slegte dinge.  Die algemene agteruitgang van koerante sluk ek maar swaar. Die besluit van Media24 in 2020 om my geliefde Volksblad se gedrukte uitgawe te staak, was vir my verpletterend.

Die stygende jare bring skete.  Die Byl kap in jou bos. Jy treur oor heengegane vriende. Plek-plek verwyt jy jouself oor verlore geleenthede wat nooit weer sal opduik nie. Die geluk is dat jy ook verryk voel oor die voorreg om mense van sulke kaliber te kon ken.

Op 31 Desember is ek en Tokkie 56 jaar getroud. Op 3 Januarie word ek 82.  Die meetsnoere het vir ons op lieflike plekke geval. Hoe “snood ondankbaar” sal ek nie wees nie as ek hierdie skrywe, en die reeksie oor 25 jaar van aftrede, nie met jubelende harp- en sitertone afsluit nie.  Die genade is groot en onverdiend.

 

 

 

(SLOT)

 

SPESIALE HOEKIES

IMG_3631
By die Sani.

Elke tuin het sy spesiale hoekies wat die siel des te meer verkwik. In die Tuinprovinsie Kwazulu-Natal wemel dit van sulke hoekies. Ons kuier in die fraai dorp Hilton was ‘n heerlike ontdekking van die Natalse Middelland tot so ver as die suidelike Drakensberg met sy baie kuierplekkies in die natuurskone Underberg-kontrei.

Ons en die kinders is selfs halfpad die legendariese Sanipas uit tot waar die SA vlag op die grens van die Bergkoninkryk wapper. Ons slaapplek was ‘n sprokieshuisie op pad na die Drakenberg Gardens Hotel met roeibootjies op ‘n dam, perde, ganse en poue.

IMG_3664-001
In die suidelike berg.

Natuurlik het ons die Midmardam gaan verken, waar Jacob die eerste keer lyntjie natgemaak het. Die Howick-waterval is altyd die moeite werd. Die Queen Elizabethpark aan die buitewyke van Pietermaritzburg is ‘n onontdekte juweel. Die landelike toneeltjies met akasiabome en troppe, troppe beeste oral langs die pad is beeldskoon.

IMG_3707-001
Ou gruisgroef.

‘n Staptog deur Hilton is verfrissend. Die dorp is in die hart van die skilderagtige “Midlands Meander”. Dis die ene berge en dale, groot bome, welige tuine en ‘n amper tasbare rustigheid. Die vernaamste sakesentrum is treffend geleë op die rand van ‘n gruisgat met water, bome, gras en blomme. Die dorpshotel is in klassieke Tudorstyl – sou nie ontuis gewees het nie in die Cotswolds of Sussex.

In die hartjie van die dorp is ‘n “Voortrekker Road” . Wat sou ‘n “Voortrekker Road” soek op Hilton met sy Engelse oriëntasie? Die antwoord kry ek op ‘n besoek aan die sogenaamde “World’s View” tussen Hilton en Pietermaritzburg. ‘n Gedenksteen en ‘n netjiese mosaiëk-reliëf verklap ‘n stukkie geskiedenis wat dalk aan vele van Hilton se eie mense van die huidige generasie onbekend is – dat hul dorp vierkant op die Natalse Voortrekkerroete was.

Waens het uit Blaauwkrans, Weenen en elders oor Hilton gekom. By “World’s View”- vroeër bekend as Voortrekkersig – het die Voortrekkers uitgespan om as’t ware die beloofde land voor hulle in te drink. Die panorama van Pietermaritzburg en sy hinterland is indrukwekkend. Later het transportryers en ander pioniers ook die pad gevolg.

IMG_3697-001
Outydse taxi!

Op die mosaiëk-reliëf is ‘n uitbeelding van ‘n kakebeenwa. Christopher het die vreemde gedoente so bekyk en toe vir sy ma, Marisa, gevra: “Dis mos ‘n outydse taxi, né mamma?

Soos Amerika sy “Ivy league”-universiteite het (Harvard, Yale, Princeton, e.a.) spog die Natalse Middellande met skole in ‘n liga van hul eie. Ek sonder twee uit: Hilton College (glo die duurste skool in Suid-Afrika) en Michaelhouse op die ewe mooi buurdorp Nottingham Road. Die karakter, tradisie en eksklusiwiteit straal uit hul indrukwekkende, lowerryke kampusse met geboue, sportvelde, kapelle, museums en in die geval van Hilton selfs ‘n eie natuurreservaat. Die koshuise sou Stellenbosch eer aandoen.

IMG_3754-001
Hilton College se kampus.

Op pad na Hilton het ek deur Michaelhouse se kampus – ‘n klein plasie – gaan ry … en so verdwaal dat ek moes pad vra. Later het die seuns my op ‘n toer van Hilton College geneem. Asemrowend. Hul eie skool, Laddsworth Primary is ook geensins te versmaai nie, en oupa is trots soos ‘n pou dat Thomas in sy rugbymondering op sy skool se advertensie pryk.

Die Tandemuis het ook ‘n draai kom maak tydens ons kuier in Flamingolaan – sommer twee aande na mekaar. Christopher se eerste wisseltand is deur pa, Brent, met ‘n stuk garing uitgelig. Die volgende aand verrig die kordate kerel die takie sommer self met behulp van ‘n waslap. Vir oupa Hennie en ouma Tokkie nogal ‘n bakengeleentheid gewees. Eerste keer dat ons by is as ‘n kleinkind begin haasbekkkie raak.

IMG_3763
Word vinnig groot.

Die kuier by die kinders en kleinkinders het woerts verbygevlieg. Die laaste aand, die vooraand van skoonseun, Brent, se verjaardag, het ons in ‘n gewilde Thaise restaurant op die rand van die gruisgroef gaan eet. Die seuns het hulle uitgevat vir die okkasie. Toe besef ‘n mens skielik hoe vinnig hulle groot word. Van links is Thomas, Christopher en Jacob. Thomas en Jacob is 11; Christopher is ses.

MOEDERLIEFDE VAN ‘N LEEU

1-aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa

Middag uit Melkbos

Op ons eerste oggend in die wildtuin kom ‘n leeumamma na die Honda aangestap met ‘n welpie in haar bek. Agter haar drentel twee kleintjies op waggelbene. Hulle lyk nie juis borrelend gelukkig nie. Ek kon sweer hulle kerm omdat hulle moet loop terwyl boetie/sussie die luukse van ‘n “ma-taxi” het. Dalk was dit is dit sommer romantisering van ‘n gryse ou natuurliefhebber.

Dis die kleinste klein welpies wat ek in al die jare in die wildtuin gesien het. Selfs iemand wat al 19 jaar in Skukuza woon, Lida Pressly, het nog nie sulke klein welpies gesien nie. Hoe oud sou hulle wees?

Op ons laaste rit soek ons met ‘n seer hart ‘n luiperd. Luiperd se kind bly egter weg. Maar net verby die Orpendam sien ons aasvoëls en ‘n aktiwiteit op die grond wat aanvanklik vir Tokkie soos die swaai van ‘n leeu se stert lyk – dis toe vier jagluiperds onder ‘n boom. Ek sit aan die verkeerde kant, verwyder van die opwinding. Gelukkig is kleinseun Jacob (10) ‘n bedrewe fotograaf. Ek prop na ‘n rukkie se gesukkel die nuwe klein Canon in sy hand en hy laat waai. Besonderse foto’s, reken oupa.

Wat ek nie waardeer het nie, is die klein rakker se opmerking dat oupa alles rondom die jagluiperds afgeneem het – net nie vir hulle nie!

IMG_0357

Een van Jacob se jagluiperdfoto’s

Een hoogtepunt op die eerste dag – nog een op die laaste. Al hoogtepunte was dit nie. Ons het weer ‘n keer leeus gesien, troppe olifante, mooi buffels en naby Onder-Sabie vier renosters in ‘n groep. Die olifant wat ons die langste sal onthou, het teen sonsondergang by Granokoppie rondgeloop en vir ‘n besoeker luidrugtig ore geflap.

Ons was op Granokoppie nie om dowe neute nie – wel vir ‘n uitsonderlike piekniek saam met die Presslys van Skukuza. Om van daar bo af die son in die weste te sien sak, was ‘n skouspel van kleur. Wonderlike voorreg. Jimmy en Lida het hulle onderskei met ‘n piekniektafel soos min. Die Van Deventers en die Claassens-seuns kon smul – en het hulle nie! – aan o.m. skaapwors (nogal uit Bultfontein), frikkadelle, gerookte hoender, salamiwors, spanspek, waatlemoen, lietsjies, ‘n eiervrug-pate, agurkies, olywe en tamaties. Jimmy het gesorg vir die heerlike eiervrug gereg en ons verder getrakteer met geurige broodvingers wat met allerlei soute en olyfolie besprinkel is.

Te drinke was daar gemmerbier (met baie rosyntjies, soos Thomas daarvan hou), vrugtesap en wyn met ‘n historiese kinkel. Die naam is Boer and Brit. Die produsente is glo afstammelinge van Paul Kruger en Lord Kitchener. Hoe ook al, om agteroor op Granokoppie met ‘n glasie wyn die sonsondergang te geniet, was ‘n yslike bederf. Dankie, Jimmy en Lida.

Somer 20151

Spesiale oomblik met ‘n spesiale houtjie.

By Sabiepark was die treffertafels van Jacob se tweelingboet Thomas telkens ‘n hoogtepunt, soos ek in die vorige blog vertel. Die seuns het om die beurt vuur gemaak, met Christopher (vandag ‘n ronde 6) altyd op die voorpunt. ‘n Spesiale oomblik was toe Jacob die houtjie in die vuur steek wat hy twee jaar gelede versigtig in kleefplastiek vir oupa en ouma se toekomstige gebruik toegedraai het. Ons het dit gerade geag om dit tvir die regte oomblik te hou. ‘n Beter oomblik kon daar nie wees nie.

Jacob, die fotograaf, het ook verskeie spanfoto’s geneem danksy sy vernuf met tydopnames en dinge waarvan oupa min snap: in die swembad, by die naambord (Tarlehoet) en ingeryg op ons dubbelbed.

Ongetwyfeld die bedrywigste kolletjie in die ganse Sabiepark daardie twee weke was Tarlehoet se bos-swembadjie. Daar was elke aand tot laataand omtrent verkeersknope soos entoesiasties en masse afgekoel is. Die eerste dag toe ons die seil afhaal, kom ons ‘n fris skerpioen tee wat blykbaar ook kom lafenis soek het. Ongelukkig vir hom was sy ontsnaproete versper. Die swembad het sy watergraf geword. Elke seun het ‘n beurt gekry om met “vreesloos” met die dooie skerpioen in die hand afgeneem te word.

Die watergat was vreemd stil, maar het darem ‘n enorme liefdesnessie van ‘n romantiese paartjie skuimpaddas opgelewer. Lyk mos nes ‘n bol skeerskuim – en is altyd bokant water sodat vir die paddavissie-kroos by geboorte darem ‘n sagte landing wag. By die piekniekplek het ons ‘n groterige stokinsek lomp sien aansukkel.

Maar waar was die nagapies? Die eerste keer in al die jare het die piesang-aanbod by Tarlehoet se pendoringboompie nie aftrek gekry nie. Wel, die bos was ook so geil en lowergroen dat die veld seker genoeg van sy eie lekkernye vir elke dier of diertjie opgelewer het.

In Junie/Julie maak ons weer so. Te vroeg om slapies te begin tel. Maar die Kululakaartjies bos toe is klaar gekoop (hvd).

BOS KOM TAFEL TOE

IMG_0425

Middag uit Melkbos

Die bos in al sy heerlike fasette danksy die kreatiwiteit van ‘n kleinseun saans in tafeltemas weerspieël. Dit was ‘n nuwe dimensie van ons somervakansie in Sabiepark saam met die drie Claassens-kleinseuns, Jacob en Thomas (10) en Christopher (5).

Thomas het hom onderskei met sy oorspronklikheid en vindingrykheid terwyl sy tweelingbroer, Jacob, en die jonger Christopher hulle meer op die vuurmakery toegespits het. Maar vele hande maak ligte werk. “Team work” – een van Christopher se handelsmerk-begrippe – was party aande aan die orde van die dag: veral toe die tema die aand “liggies” was, en al wat ‘n lantern, kers of fakkel was, moes brand (foto bo). .

Ouma Tokkie het op die agtergrond gebly, maar deurslaggewende voorstelle het ook uit daardie oord gekom. Net Oupa Hennie was aan die tafelfront ‘n nul op ‘n kontrak.

Temas het gewissel van diere tot voëls tot veld tot bos. Die sebrabreekgoed het hulle goed geleen tot ‘n “sebra-aand”.

IMG_0388

Christopher, Thomas en Jacob by hul “bostafel”.

IMG_0385

Lantern en kerse, driepootpotjie, blaker en blikbekers sorg vir ‘n bosatmosfeer.

IMG_0340

Ons eet op die agterstoep en die tema is voëls.

IMG_0306

‘n Koedoe, ‘n sebra, ‘n seekoei en ‘n klein renostertjie sorg vir ‘n dieretema.

IMG_0256

‘n Mens ruik sommer die veld.

IMG_0255

Die hele span by hul “veldtafel”.

IMG_0234

Thomas by sy “sebratafel”.

IMG_0183

Snuifkalbassies en ander goeters uit die veld.

IMG_0206

Op elke servet het Thomas geskryf: Lekker eet. Ek is lief vir jou.

Ons is lief vir jou ook, Thomas.

SAAM IN DIE KOOI

More uit Melkbos

Met drie seuntjies om 06:30 saam in die kooi het nie eens die boeiende Racheltjie de Beer-storie uit die bekwame penne van gewaardeerde oud-kollegas Ollie en Leo vanoggend in die VanD-huis op Melkbos die aftrek gekry wat dit verdien nie. Maar ek het iets op die hart daaroor. Hou gerus hierdie ruimte dop…

Ek het ook nog iets op die hart oor oumense wie se koppe verreweg nog nie raas nie (Vorige blog: My liewe jong vriend …). Sal ook daarby uitkom.

By die pas ontwaakte Oupa met die verwaaide hare is van links Jacob, Thomas en Christopher Claassens van Welgemoed. Jacob en Thomas is 8. Vra jy Christopher hoe oud hy is, steek hy drie vingertjies in die lug. Slim kind – aardjie na sy Ouvaartjie. (hvd)