GEAGTE STER-KINEKOR

ster-kinekor

More uit Melkbos

Het vandag die volgende briefie aan ene Lynette by Ster-Kinekor gerig n.a.v. haar mededeling dat my klagte oor Khumba se Engelse sebras na die betrokke teater (Tygervallei) verwys is.

Beste Lynette

Ek hoor niks van Ster-Kinekor Tygervallei oor my klagte nie. Die bestuurder het die middag na die vertoning aan my gese sy het nie die jurisdiksie om iets aan die saak te doen nie, omdat ons nie opgestaan en uitgestap het nie. Sy meen klaarblyklik die saak is afgehandel.

Hoekom sou ons egter uitgestap het? Dan was al ons moeite om van Melkbos Tygervallei toe te ry vergeefs, al sou ons dalk (?) ons geld teruggekry het.

Dit is nou vir my duidelik hoe die verwarring ontstaan het.

Ons het in Die Burger se advertensie (aangeheg) die Khumba-advertensie gesien vir ‘n Afrikaanse vertoning om 17:15. Die advertensie is in baie klein druk en uiters moeilik om te lees. Toe my oog val op Khumba, Afrikaans en 17:15 is ek nie verder met ‘n fynkam deur die advertensie nie. Hoekom sou ek verder bly soek? As ongereelde fliekganger was ek nie bewus van vier verskillende weergawes van die betrokke animasieprent nie.

By die kaartjieskantoor is ‘n groot bord met die name van die flieks wat vertoon word. By Cine10 was Khumba om 17: 15. Die woord “Afrikaans” het aan en af geflits – hoekom weet nie (dalk ‘n kortsluiting). Ons was oortuig ons koop kaartjies vir die regte vertoning totdat die eerste beelde op die skerm verskyn het – toe praat die sebras tot ons ontnugtering net Engels.

Die bestuurder het ons ervaring as “horrible” beskryf. Maar sy is blykbaar nie bereid om iets aan die saak te doen nie? Ster-Kinekor was ook nou sy hande in onskuld. Ek sal my maar moet berus, hoewel ek my verbasing oor julle gesindheid teenoor klante wat ver gery het en ‘n klomp geld bestee het om hul kleinkinders te bederf nogal verbasend vind. Verbasend en insiggewend.

Neem dan asseblief net kennis dat julle te klein advertensies deesdae (blykbaar om geld te spaar) , die in-die-blik-drukkery van kaartjiekopers by die kaartjiestoonbank en die aan en af flitsery van die woord “Afrikaans” op die elektroniese bord groot verwarring veroorsaak het. ‘n Melkbosse vriend van my, Thys Slabber, se kinders het presies dieselfde oorgekom as ons. Ek sou ons nie as dommer mense as die gewone beskou nie!

En laat weet darem net of daar inderdaad om 17:15 ‘n vertoning in Afrikaans was, soos geadverteer. In watter teater dan, asseblief?

Sodra ek van u verneem, sal ek die feite op my blog verstrek, waar my ongelukkige ervaring met Khumba en Ster-Kinekor nogal heelwat aandag getrek en heelwat skerpe reaksie op Ster-Kinekor se dienslewering uitgelok het. Gaan lees gerus by http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer
(hvd)

SEBRAS PRAAT NET ENGELS

More uit Melkbos

Op grond van ‘n advertensie in Die Burger is ons gistermiddag van Melkbos oor Tygervallei toe om die animasiefliek Khumba in Afrikaans te gaan kyk.

Ons het ons kleinkinders in Welgemoed opgelaai en ons kaartjies gekoop nadat ons ook op die bord by Ster-Kinkekor seker gemaak het die 17:15 -vertoning is wel in Afrikaans.

Wat was ons verbasing toe Khumba in Cine10 begin rol – die sebratjies (en ander diere) het net Engels gepraat, party nogal met ‘n sterk Amerikaanse aksent. .

Agterna het ek by die bestuurder gekla. Ons het ver gery en duur betaal vir kaartjies – R265 vir ons spannetjie – weens ‘n misleidende, inkorrekte advertensie en misleidende, inkorrekte inligting op die bord by die kaartjieskantoor.

Sy het ons ervaring as “horrible” beskryf maar tog haar skouers opgetrek. Geen sprake van kompensasie nie, jammer, al stem sy saam ons het nie gekry waarvoor ons betaal het nie.

Ons fout, volgens haar, was dat dat ons nie opgestaan het en uitgestap het nie. Maar as ons uitgestap het, wat dan? Moes ons doodeenvoudig die teleurgestelde kinders by die huis gaan aflaai en terruggery het Melkbos toe – al die moeite, koste, tyd en energie dus maar op ons maag skryf en met ons hemp doodvee?

Ten tweede, as ons uitgestap het,sou ons en ons kleinkinders nooit saam by enige Khumba uitgekom het nie, wat nog van by die Afrikaanse een. Ek sou nie weer daarvoor van Melkbos af ry nie. Die kinders se program is boonop te vol.

Ten derde, as ons uitgestap het en kompensasie is steeds geweier, wat dan? Dan het ons R265 plus al die ander koste (petrol, springmielies en wat nog) in die water gegooi.

Klaarblyklik was die vertoning van Khumba in Engels om 17:15 ‘n ligte mistykie. Iemand het ‘n verkeerde knoppie gedruk. Ster-Kinekor het geen poging aangewend om die fout te verduidelik nie.

Is dit maar net nog ‘n geval van minagting vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes? Moet ons maar sluk en stilbly?

Ek is beswaard, en ek dring aan op ten minste ‘n verskoning vir sulke onbeholpenheid. Of ‘n bewys dat ek weens ‘n eie misgissing met my spannetjie in ‘n verkeerde Cine sit en kyk het. Dan is ek die een wat om verskoning moet vra.

(hvd)