UIT MELKBOS, DESEMBER 2021

Liewe vriende

Die jaar 2021 galop die pylvak binne. Voordat ons hom finaal aftik enkele kantlynaantekenings uit hierdie oord:

Dit was ‘n jaar vol allerlei bakens: HvD se 80ste, TvD se 75ste, Johan en Brent se 50ste, Pfizers-prikke en Jacob en Thomas se verwerwing van leerling-rybewyse. Die twee het ook vir Oupa en Ouma laat asem ophou deur van Dreunkrans, by Hermanus, 18 meter na benede in die see te spring.

HvD het twee boeke gepubliseer, Bure van nature by Protea en Koerantkamerade by Naledi. Daarmee sak daardie gordyn.

Soos 2020 was 2021 ‘n Koronajaar. HvD en TvD is dankbaar dat hulle, anders as in 2020, wel in die winter by Sabiepark kon uitspan. Toe kom drink ‘n avontuurlike kameelperd jou werklik die eerste keer in 23 jaar by Tarlehoet se watergat. Ekstase soos min.

Op George het die Legacy Centre – Migael (eintlik sy ma, Mariza) se skool – ‘n uiters geslaagde eerste gholfdag op sy kerfstok geplaas.  Die vloede het by die skool skade aangerig, gelukkig nie erg nie.

Die nuwe jaar sou begin met ‘n vaart op die MSC Musica na Walvisbaai vir die Oppiwaterkunstefees. Helaas nie.  Te lugtig vir Omikron en kie. Na verre hawens se vertraagde  “bekendstelling” ter see is natuurlik nou finaal gekelder.

Jacob en Thomas (sy skool, Stellenberg, se verteenwoordiger op Die Burger se gesogte Jeugleierskonferensie) durf matriek aan, albei as leiers en met goeie akademiese verwagtinge. Christopher pak sy laaste jaar op laerskool.

Mediese uitdagings in ons geledere word meer, nie minder nie.  Ons gaan 2022 nietemin positief tegemoet en droom oor goeie dinge vir ons almal.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense.  Kom ons mik na die maksimum-kontak in 2022.  Die tyd stap aan, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut herinner het.

Hennie & Tokkie 

 

 

 

UIT MELKBOS

kersfees

Liewe vriende

Die tradisionele Kers-CD uit Melkbos het gesneuwel in 2016, die jaar toe Tokkie 70 en ek 75 geword het.  Die tradisionele Kers- en Nuwejaarsbrief uit Melkbos met ‘n verslag (en selfs ‘n foto of twee) van die jaar se wel en wee in die Van Deventerkamp het voortgeleef.

Dalk sou dit ‘n netjieser afronding gewees het as ons die brief tot 2021 bly stuur het.  Tokkie bereik dan die geseënde baken van 75 en ek die ouderdom van 80 – die jare van diegene wat “baie sterk is,” aldus Die Bybel (D.V.)   Ons het egter van sulke ambisies afgesien.

Vanjaar dus geen uitvoerige epistel uit die Van Deventerhuis nie.  Ook in daardie opsig het die tyd na ons oordeel aangebreek om, soos op ander terreine,  ‘n streep te trek.

Wel kan ons, ondanks enkele stampe en stote,  dankbaar van vele seëninge in 2019 getuig. Ons gaan met dankbare harte Kersfees tegemoet.

Ons hoop is dat ons almal oorvloedige seën sal geniet en in hierdie uitdagende tyd vir Suid-Afrika tog wel vrede en vreugde sal ervaar.  Mag die nuwe jaar gelukkig, gesond en voorspoedig verloop.

Hennie en Tokkie

GESEËNDE KERSFEES

christmas-greetings-2016By die Kerswense in vele tale op hierdie “internasionale” kaartjie uit Spanje van ons Nieman-vriende José Antonio Martínez Soler en Anna, sy vrou uit New Hampshire, voeg ek graag in Afrikaans by: Geseënde Kersfees. Sal graag José se kommentaar wil hoor as hy sou weet in hoeveel SA huise sy kaartjie op hierdie manier kom. Felices Fiestas, amigo!

ENGELTJIE OP DIE DUIN

1219988821512034089little%20angel4_svg_medVIR KERSFEES 2016 – Piet Cillië se mooi Kersverhaal: Die engeltjie wat agtergebly het (met erkenning aan die outeur en onbekende verwerker).  

Daar was eendag twee meisietjies  wat elke jaar saam met hul ouers by Willie-se-Baai vakansie gaan hou het.  Hulle name was Anna en Susanna.  Op ‘n dag speel die twee op die hoogste duin.  ‘n Seuntjie kom nader en vra of hy mag saamspeel.

Natuurlik laat die dogtertjies hom saamspeel.  Hulle het hom nog nooit gesien nie en vra wie hy is en waar hy vandaan kom.  Die seuntjie sê hy is ‘n engeltjie.  Die meisietjies lag, en sê hy bedoel sekerlik hy is figuurlik gesproke ‘n engeltjie.  Nee, sê die seuntjie, en lig sy hempie op om sy goue vlerkies te wys.

Wat maak hy dan op Willie-se-Baai?  Wel, hy het eeue gelede saam met ‘n groot koor hier aangeland.  Hy was een van die beste seun-soprane.

Nou hoekom het hy nie saam met die engelekoor teruggegaan nie? Die seuntjie vertel hy het die aarde liefgekry en van die mense begin hou.  Ja, hy verlang soms terug, maar hulle moenie bekommerd wees nie want dis nie so ver na sy blyplek as wat mense dink nie.  As die mense net kon weet hoe naby dit alles is.

Anna wil weet of hy dan verlof gekry het om op die aarde te bly.  Ja, solank hy net nie sing nie.  Dit is streng verbode.  Sodra hy sing, moet hy dadelik terug.   Dis baie swaar om nie te sing nie, want hy doen dit graag.

Susanna het dadelik ‘n plan.  Hulle hou die volgende aand ‘n Kersboom in die saaltjie by Willie-se-Baai.  Daar sal ‘n kinderkoortjie liedere sing.  Die engeltjie moet kom saamsing.  Sy stem sal meng met die stemme van ander, en sy hemelse mense sal nie eens weet hy sing nie.

Die engelseuntjie twyfel eers, maar die meisietjies praat hom om.  Hy het in elk geval baie lus vir sing, veral Kersliedere.

Die volgende aand staan hy tussen die kinders by die Kersboom op Willie-se-Baai.  Hulle sing die mooiste Kersliedere.  Meteens styg ‘n goue kinderstem bo al die ander uit in ‘n onbekende lied, so mooi soos nog nooit op aarde gehoor is nie (behalwe een keer by ’n krip).  Die kinderkoor raak stom van verbasing en almal sien dit is die vreemde seuntjie wat alleen sing.

Anna fluister vir Susanna die seuntjie sal nou moet teruggaan.  Maar die engeltjie sing voort, vir die eerste keer in tweeduisend jaar.

Skielik word oor Willie-se-Baai die geruis gehoor van ‘n magtige koor wat niemand kan sien nie.  Hulle val in by die pragtige stem van die engeltjie en hulle sing ‘n lofsang asof die hemel oopgegaan het.  Hulle sing: Eer aan God in die hoogste hemele!

Die stemme sterf weg en stilte kom oor die strand.  Die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie. ….

Daarmee: ‘n geseënde Kersfees vir almal.

(Na ‘n taamlik soektog op die internet het ek hierdie verwerkte weergawe van die koerantman Piet Cillië se Willie-se-Baai-Kersverhaal raakgeloop in ‘n Kerspeek van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth.  Merwe Scholtz het dit, so ver ek weet , opgeneem in Vertellers 2.  Rykie van Reenen wat gewaag het om hom as “’n grommende ou MGM-leeu” te beskryf, het na aanleiding van die verhaal opgemerk: P.J.C. is eintlik self “’n agtergeblewe engeltjie – toegegee, swaar vermom, die klei maaifoerie”.)

‘n KERSFEESDROOM

Pictures6

More uit Melkbos

Dreaming of a white Christmas. Dit was wat ons Kersfees 1976 gedoen het. Sommer halfpad deur November het ons immers daar in Cambridge, Massachusetts, ons eerste ligte voorsmakie gehad.

Maar Kersdag kom en Kersdag gaan sonder teken van sneeu.

Op 26 Desember – Boxing Day – is ons geskeduleer om vroeg in die pad te val, na die sonskynstaat Florida vir ‘n kort vakansiebreuk. Ek staan vroeg op en loer by ons kamervenster op die grondverdieping in Crimson Court uit. Die boompie dra swaar aan sy sneeukleed.

Oral wag ‘n wit wonderwêreld. In Harvard Street voor Crimson Court kom selfs ’n meisie op ski’s aan met ‘n inkopiesak aan die arm.

Florida en die lang pad daarheen eers vergete ry ons uitgelate in Cambridge se strate rond en neem net foto’s – eintlik skyfies, wat toe nog aan die orde was.

Ons ry in woonbuurte rond en later ook na die skilderagtige Mt. Auburn-begraafplaas waar die sneeutonele ons asems wegslaan. Eers laat die middag druk ek die swaar gelaaide Corona-stasiewa se neus suidwaarts.

Die groot foto is in Mt.Auburn geneem (die skyfie is agterstevoor afgedruk!). Regs bo is die meisie op ski’s in Harvard Street voor ons woonstelletjie. Regs onder is die kinders, Johan en Marisa, in hul sneeubaadjies teen ‘n spierwit agtergrond. Hulle het hul aan die vreemde taferele verwonder en ywerig help sneeuman bou langs die gevriesde Charlesrivier.

‘n Nieman-genoot uit Oregon het niks van sneeu gehou nie. Hy het telkens sneeuvlokkies onvergenoegd van hom afgeslaan terwyl hy deur dun lippe uitsis: White shit! Daardie winter was later in die media bekend as die Big Freeze. Ons het berge sneeu beleef. Maar ek het elke keer seergekry as John so lelik van die besonderse natuurbelewenis praat.

* Seënwense uit Melkbos. (hvd)