‘N FOOITJIE, ‘N BONUS EN ‘N BELL’S

More uit Melkbos

Vir die energieke, entoesiastiese en kundige kelner wat so mooi Afrikaans praat by die Hussar Grill in Willowbridge sal die fees-seisoen (wat ook uiteet-seisoen is) hopelik ‘n sakvol fooitjies meebring. Mense, moenie skaam wees om ‘n ruim persentasietjie by te sit vir iemand wat plesier aan sy werk het en ook vir ander plesier verskaf met die bekwame wyse waarop hy sy taak (of sy haar taak) met lekkerkry klaarkry nie.

Teenoor die knaap by Durbanville Hills se wynlandgoed voel ek minder welwillend. Dit is nogal ontnugterend as ‘n kelner nie weet watter soort vis die dag se lynvis is nie. Die basiese navraag is met so ’n botte stilte begroet, dat ons vir ‘n moedswillige oomblik wou wonder of hy hoegenaamd weet wat lynvis is. Arrie-nee. Hoe beloon jy iemand wie se bedenklike koskennis duidelik op dieselfde vlak as sy kennis van Afrikaans en sy arbeidsgenot is?

My vriend Theuns Otto van Mtunzini glo die woordjie “tip” staan vir “To Improve Performance”. Selfs ‘n sukkelaar is dus, volgens hom, sy fooitjie waardig, soos een aand by die gewilde Orca op Melkbos (wat nou, na my wete, ‘n flink span het.) Ja, jy kry vrot kelners soos elke ander beroepsvertakking sy swart skape het (jy kry selfs vrot dokters!). Theuns het hom daardie aand in ‘n buitengewoon vrotte vasgeloop.

My gewoonlik uiters mensliewende en geduldige vriend (allesbehalwe ‘n vrot dokter) het nie nagelaat om sy verklaring van die woord sonder omhaal en met beklemtonende misnoegde handgebare en al by Orca se onderpresterende kelner tuis te bring nie.

Theuns se teorie staan egter op wankelende bene. Goeie ou Google noem dat verskeie sulke akronieme (soos “To Improve Performance”) verkeerdelik met die fooitjiekultuur in verband gebring word. Ander is o.m. “To Insure Prompt Service”, “To Insure Proper Service”, “To Inspire Promptness” of “To Insure Promptness.”

Aldus die Oxford English Dictionary het “tip” as slêngwoord ontwikkel. Dit kom waarskynlik al van die 16de eeu af. Die huidige betekenis word sedert die 18de eeu daaraan geheg. Maar waarom ons oor dinge soos historiese herkoms moeg maak? Feit is: dis ‘n kultuur wat in die hede diep ingegrawe is. In sekere lande kan fooitjie-etiket nogal rigied wees. As jy kort van die norm presteer, moet jy keer vir jou “wickets”, boeta! Jy loop jy die risiko om jou skamele munstukkies met mening in jou rug teruggeslinger te kry of ‘n stywe skrobbering op die lyf te loop.

‘n Bostonse taxibestuurder (vroulik) was nie juis geimponeer met hierdie oorblufte passasier se aangebode paar “quarter”-tjies nie. Een vuil kyk. Toe: “Well fuck you, mister!”

Kom ons eindig op ‘n positiewe, hoopvolle noot. Wanneer oor kelners gesels word, roep ek telkens die aand in herinnering toe ‘n vriend (met baie pitte in sy beursie, maar ietwat ongeraffineerd) in die VS van A met ‘n gedugte spyskaart gekonfronteer word. Hy skrutineer die uitvoerige dokument fronsend. Toe verhelder sy gesig: “Steak tartare well done, please.”

Die kelner met sy strikdas en wit servet op die arm het geen oog verroer nie. “For well done I’ll rather recommend our excellent sirloin, sir.” Die dalk net oordrewe klem op die aanspreekvorm “sir” het waarskynlik sy lag verberg.

Soveel takt, diplomasie, teenwoordigheid van gees en humorsin onderskei die vyfster-kelner van die gewone ou. “Well done, sir!” Gee daai man nie net ‘n allemintige fooitjie nie – gee hom ‘n vet bonus …. en sommer ‘n dubbel Bell’s!

(HvD)

BLOMPOTTE SONDER ORE

More uit Melkbos

Haai, ons is nie blompotte sonder ore nie, weet julle? As ek ‘n kelner was, sou ek ‘n bord om my nek wou hang met hierdie woorde op.

Iets waaroor ek my verstom, is hoe mense in ‘n restaurant of ander eetplekke lustig en luidrugtig dinge kan kwytraak wat bepaald nie vir die die kelners se ore bedoel is nie.

Ek praat nie nou van sakegeheime nie – meermale is dit opmerkings van seksistiese of rassistiese aard. Vandeesweek was ek weer aan ‘n tafel waar blatante rasse-vooroordeel die arme bruin kelnerin se ore moes laat gloei het.

Maar wat kan sy doen? Moet sy die borde neersmyt en uithardloop? Of moet sy maar in nederige stilte die beledigings aanhoor?

Hierdie ding pla my al lank. Dit was in die apartheidsdae in ‘n stadium nogal akuut. In Bloemfontein se President-hotel was dit een aand amper absurd om te sien hoe die swart kelners in hul netjiese monderings langs die ornate onthaalsaal se mure met hul skinkborde wag, terwyl die bekkige seremoniemeester sy grappies met hul rassegeurtjies inryg.

Daardie aand het my sensitief gemaak vir hierdie onsensitiwiteit by ons mense.

Asseblief, ek is nie een van diegene wat rassisme agter elke bos soek nie, en ek raak ewe sat daarvan om alewig daarvan verdink of verwyt te word. Maar regtig, daar is mense wat sal moet leer om ‘n wag voor hul monde te plaas.

‘n Mens kan nie jou “kampvuurpraatjies” in die openbaar voer nie –
ook nie op Facebook nie, my liewe Sunette Bridges. (HvD)