BUFFELSBAAI, GELIEFDE GROND

IMG_3430
Waar sy Johan vier dekades gelede geleer vissies skep het, leer ouma Tokkie vir Migael van Buffelsbaai se poeletjies.

More uit Melkbos

VAN Februarie 1971 toe die Van Deventers Buffelsbaai ontdek tot Februarie 2014 toe ons die soveelste keer die geliefde kusdorpie aan die Tuinroete binnery, het die tyd nie stilgestaan nie. Kastele het verrys … ‘n mens kan die voorspoed amper saam met die prikkelende seelug op jou lippe proe.

Buffelsbaai het verander maar ook NIE verander nie. Die manjifieke seevistas is onaangetas. Die bekende reuk van gekneusde renosterbossie stu steeds in die neusgate op. Dieselfde lui, spekvet seemeeue – so lyk dit altans – luier om die rotse en die braaiplekke rond. Dieselfde eeue-oue rotse weerstaan steeds die getye. Die seesand van die uitgestrekte strande – weliswaar gespikkel met kleurryke vlieërs – is nog dieselfde sagte kastaiingbruin.

IMG_3443

Kastaiingbruin strande gespikkel met kleurryke vliëers.

‘n Wandeling bultjie op en bultjie af verg meer inspanning as vier dekades gelede. Ook jy het helaas verander – die veerkrag in jou tred het met die jare maar sleg afgeslyt. Die asem brand, maar die wandeling neem jou steeds verby huise met name wat, soos nêrens elders nie, die humorsin, vindingrykheid en oorspronklikheid van die eienaars weerspieël.

Ons was vir die naweek vir ‘n heen-en-weertjie saam met die Van Deventerkinders van George in die wit hoekhuise, Heen-en-Weertjie met teen sy woonkamermuur ‘n nogal vernuftige aaneenwewery van allerlei oulike name in storievorm. Dit vertel van iemand wat Na die oes Moeggeploeg vir ‘n Luilekker kuiertjie in hierdie Hemel-op-aarde opdaag.

Dit word ‘n ‘n heerlike tyd van Stokkiesdraai, Boordjie-Af, Skuinslê, Pyp en Pantoffels en Son en Saffier in ‘n huis wat Nooit-Te- Vol is nie. Die anonieme outeur bou ook ander bekende Buffelsbaainame in sy/haar storie in wat van welbehae getuig; name soos Woelwaters, Drie Swaers, Kop-bo-Water, Yt-rat-yt en dies meer. Net teleurgesteld dat “ons huis”, Kammarus, waar ons dosyne vakansies deurgebering het, nie die paal gehaal het nie. By dié, terloops, kom blykbaar ‘n groot brekery en bouery. Was daarom nie beskikbaar nie.

IMG_3482

Vir ‘n heen-en-weertjie in Heen-en-Weertjie

Van dié romantiese ou name name het voor die onstuitbare opmars van ontwikkeling en vooruitgang gesneuwel. Allerlei villas so-en-so en casas dit-en-dat het in die plek gekom. Maar ek voel steeds tuis as ek tussen die opgestapelde huise in daardie knus straatjies loop. Ek tel steeds die ure totdat die vuurtjie kan begin flikker, en ervaar steeds verlies as die tyd vir oppak aanbreek. Dis weemoed-tyd wanneer die motor verby die Goukamma sy koers kry op pad huis toe. Die serigheid is nie minder swaar as doerie jare nie.

Een nuwigheid het met pynlike impak getref. Dis egter nie net ‘n storie van Buffelsbaai nie; wel een van die donker temas van die Suid-Afrika waarin ons in die jaar 2015 leef. As die sekuriteitsfirma se bakkie (nommer 9) ‘n dosyn keer by ons huisie verby is in die naweek, is dit min. Op ‘n keer het ek selfs ‘n huisalarm dringend hoor loei … (hvd)

MEEU OP SY TROON

More uit Melkbos

Amper soos die immergroen Koningin Elizabeth op haar troon sit, sit ‘n meeu onverstoorbaar op sy troon – ‘n spits rots wat bo al die ander uittroon voor “ons” Buffelsbaaise huise, Kammarus en Kop-bo-water, waar ons al oor vier dekades vakansie hou.

Die “ons” word aangehaal, want dis nie regtig ons huise nie. Ons huur maar net, eers by prof. Bethel Muller van die Kweekskool, Stellenbosch, daarna by prof. Vaatjie du Toit, dekaan van die mediese fakulteit, en na sy afsterwe by die McSeveneys van die Rand.

Nietemin, van die eerste dag dat ons by Kop-bo-water stilgehou het, sit ‘n meeu op daardie rots. Soms twee. Soms drie. As die rots soms onbemeeu is, kan jy maar weet: dis nie vir lank nie. En as vreemdes kom lol, gee dit huismoles af.

Selfs vir iemand wat van die lewensiklus van meeue so min weet soos ‘n katlagter van saffraan, lyk dit onwaarskynlik dat dit, soos die gryse vorstin van Engeland, vandag nog dieselfde vlees en bloed is as wat ons rondom die 70’s daar aangetref het. Meeue se lewens is maar soos seegras, glo ek. Vandag in sy fleur in die water. More verdor uitgespoel op ‘n barre strand.

Oor die ‘troonopvolging” sit ek en wonder terwyl ek die huidige bekleder van die pos van Kammarus se ruim dek af sit en dophou – yskoue witwyntjie in die hand natuurlik, maar darem ‘n “extra light”-enetjie om die inname van kilojoules in toom te probeer hou.

Sou dit soos by die koninklikes ‘n kwessie wees van voorgeskrewe opvolg-prosedures: die oudste nassaat van die oudste nasaat van die oudste nasaat …? Sou die knusse plekkie op die rots ‘n vaste bate wees wat staakgewys vererf soos by ‘n intestate boedel (ja, ek onthou iets van my erfreg!)? Sou dit ‘n geval wees van “first come, first served” soos die Ingelse uitdrukking lui? Sou bloedige stryde om heerskappy gevoer word?

Terwyl ek my meeue-mymeringe mymer, merk skoondogter Mariza op: “Sou hy nie gatvol raak om dag in en dag uit so daar te sit nie?”

“Nooit,” reageer ek met oortuiging. “Dit is mos ‘n voorreg – sy (haar?) eksklusiewe kolletjie paradys in die grote heelal.”

Hoeveel soorte seemeeue ons kuste patrolleer, op krappe en ander dooie seediertjies aas en hul kenmerkende “kow-kow” of “ki-ok-ki-ok” roep – die roepe wat die kus help karakter gee – kom ek eers agter toe ek Ian Sinclair se Veldgids raadpleeg. Mense, jy kry arktiese roofmeeue, knopstertroofmeeue, langstertroofmeeue, bruinroofmeeue, suidpoolroofmeeue, haringmeeue, kleinswartrugmeeue, swartrugmeeue (algemeen hier in die Kaap), swartkopmeeue, gryskopmeeue en wat nog.

Die kennis gee my nog iets om oor te wonder. Van watter soort meeu sing Anneli van Rooyen in “Seemeeu” en Rina Hugo in “Soos ‘n Seemeeu”? Watter een figureer in daardie voortrfelike Duitse lied uit die jare 40 “Mowe, du fliegst in die Heimat” wat Magda Hain altyd so aangrypend gesing het op plate-aande by Volkies in die jare 50?

Daardie lied vol verlange handel oor ‘n Duitse soldaat in die Tweede Wereldoorlog wat ‘n seemeeu sien terugvlieg in die rigting van sy verre vaderland, het ek by daardie groot musiekkenner my wyle kollega Fred Schnetler gehoor.

Skrynend en hartroerend en diep sprekend tot die siel. Seker nie vreemd nie dat die gekrys van ‘n seemeeu my nou nog na my “Buffelsbaaise” heimat laat verlang – en na daardie ou wat, sonskyn of nat en koud, vorstelik die rots voor Kop-bo-Water en Kammarus bewaak. (hvd)