KAMERADE, NOSTALGIE, PREDIKER 3

Ich hatt’ einen Kameraden, einen besser’n find’st du nicht. As ek aan my Tukkiestudentemaats van ses dekades gelede dink, hoor ek in my verbeelding die tromme roffel soos in hierdie treffende Duitse oorlogslied van Ludwig Uhland.

Van my mede-Kollegemanne was tien in die 25 jaar besoekers in Sabiepark: Johan Bekker, Giel de Swardt, Cas Jacobs, Proppie Goosen, Vos Grey, Piet Henning, Pierre le  Roux, Flip Nel, Manie Steyn en Piet Theron (in alfabetiese volgorde volgens vanne).  Vos Grey en Piet Henning het ons reeds ontval.

Nieman was meer kere hier nie as Cas Jacobs van Eldoraigne in Centurion, ‘n soliede Karooseun van Carnarvon. Ons is maats van 1958 af. In die 25 jaar dat Sabiepark in ons besit is, was Cas en Nella, onoortreflik by die kospotte, 17 keer op besoek.

Vrydagaand 22 Maart het ons by Tarlehoet se stoep skouer aan skouer ‘n rooster met tjops en een met wors op die gloeiende kole gesit. Die tjops was, soos altyd, haarfyn volgens Cas se vereistes gesny: presies 2 cm dik. Dit was ‘n belewenis om weer die perfeksionistiese baasbraaier in aksie te sien en te kon assisteer.

Cas is 84 en ek 82. Buiten ouderdomkwessies in ons lewens is daar gesondheidskwessies. Om in die ruie somerbos weer so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ‘n emosionele  okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ‘n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het.  Tokkie en Nella was byderhand met die kameras.

Wat die braai vir ons des te meer uitsonderlik gemaak het, was die hoë driebeen-skottelrooster, soos in ‘n  vorige wildtuin-era, wat vir die doel ingespan is.  Sy naam is die Manie-braai. Die Manie in die naam verwys na ons maat Manie Steyn (83) van Krugersdorp wat al geruime tyd nie gesond is nie. Die staatmaker-rooster was ruim twee dekades gelede sy geskenk aan Tarlehoet.

Fisiek was Manie afwesig. In ons gedagtes was hy die hele tyd teenwoordig.  Ek wens Manie kon ook hier gewees het om ‘n deernisvolle Kollege-arm om hom te slaan en ‘n goeie rooie met hom te deel. Ek gaan lees toe maar weer Prediker 3: Elke ding het sy vaste tyd.

‘N SPESIALE DANKIE AAN TWEE SABIEPARK-SIERADE

Dankie, Lucy!

Toe ons 25 jaar gelede in Sabiepark aankom, het ons kennis gemaak met twee flukse en blymoedige arbeiders van Sjangaanse afkoms, Lucy Khosa (57) en Patson Ndlovu (60). Hul bydrae om ons lewe tydens Sabiepark-kuiers te vergemaklik, was/is enorm.

Die gulle Lucy met die breë glimlag en onoortreflike hartlikheid sorg dat alles in ons huis eksie-perfeksie is as ons hier aankom – spinnerakke, goggas, mis opgeruim en elke meubelstukkie op sy plek asof ons nooit weg was nie. Sy is ook die een  wat moet kom help om van tyd tot tyd  orde te herstel terwyl ons en gaste kommervry kuier en die skottelgoed opstapel.   Hoeveel keer sy al sedert Maart 1998 ‘n deurmekaar Tarlehoet moes regruk? Gewis ver-ver meer as ‘n honderd keer.

Die betroubare Patson – wat op 3 Maart 60 was en op aftree staan  – was 23 jaar lank buitenshuis die Van Deventers se steunpilaar met sy panga, hark en besem.   Hy het vir ons op lere geklouter, swembadseile help opvou, takke gesaag, die Honda gewas en wat nog totdat hy twee jaar gelede bevorder is.

Vir hulle twee was daar op hierdie spesiale besoek ter viering van ons verbintenis van ‘n kwarteeu met Sabiepark spesiale verrassingspakkies om ons dank te betuig.  Van die lekkernytjies kon hulle deel. Party was eksklusief vir die ontvangers.  So het Tokkie hulle vermanend ingelig.

Ook hier wil ek  dit onomwonde stel: Lucy en Patson is Sabiepark-sierade. Hulle is nie die enigste sierade nie – Sabiepark is gelukkig met om ’n span te hê soos hy het –  maar albei het oor baie jare op ‘n besonderse wyse tot ons lewens waarde toegevoeg wat ons nooit sal vergeet nie.