Sep 29, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

In die middel van Sabiepark se “hoofstraat”, Maroelalaan, takel twee kameelperdbulle vanoggend mekaar. Hulle begin mekaar so liggies stamp-stamp. Daarna stoot hulle mekaar met die boude.
Die lang bene trap-trap asof hulle ingewikkelde danspassies uitvoer. Die volgende oomblik klap die nekke.
Of dit dalk net ‘n speelgeveg was — “necking” noem die Engelse dit ewe pikant — of ‘n lang, stadige baklei-wals weens ‘n liefdesdriehoek, weet ek nie. Dat speelgevegte algemeen onder jong bulle voorkom, is egter ‘n feit. Volbloed-gevegte, daarenteen, is heelwat skaarser. Die hiërargie is gewoonlik reeds in “vriendelike gevegte” uitgesorteer voordat ‘n jong bul ‘n ernstige uitdager van die gesagsorde kan word.

Werklike konflik kom wel van tyd tot tyd voor. ‘n Geveg verloop plus-minus so: Eers gee die een sy teenstander ‘n harde veeg. ‘n Sekonde lank gebeur niks. Dan kry nommer twee ‘n beurt om te reageer. Ewe ridderlik. Asof hulle afgespreek het om so een-vir-jou, een-vir-my te baklei. Van enige defensiewe aksie word geen teken gesien nie. Alles gebeur in spookagtige stilte.
Vir my het dit nie gelyk of daardie twee bulle, in geykte rugbyterme, mekaar vanoggend net “groet” nie. Die stryd was te lank en te intens. Te geweldige houe is met die koppe en nekke gewissel. Al om die beurt is gestamp en gestoot totdat ek later moeg geword het van kyk. Maar hul stamina is bewonderenswaardig. Die bakleiers hou eenvoudig net aan en aan.
‘n Ernstige geveg kan groot skade veroorsaak. Daardie dun nekkies het geweldige krag. Kameelperde slaan mekaar soms bewusteloos. Of dood. ‘n Noodlottige geveg is wel seldsaam, maar dit kan gebeur dat ‘n nekwerwel versplinter met onvermydelike gevolge. Gelukkig is darem nie een terwyl ek in die Honda sit en kyk vir die volle telling planke toe gestuur nie.
Sep 13, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Hier’s ons weer, hier’s ons weer, met ons blaar-lus voor jul deur …
Noem Tarlehoet nou die Sabiepark Spur of iets dergeliks, maar gister ag is die sewe kameelperde toe jou werklik die soveelste keer terug vir ‘n langdurige kuier. Vyfde of sesde keer in vier dae.
Dit volg op ‘n uur uur van betowering die vorige dag teenaan Tarlehoet se voorstoep – sewe kameelperde teenaan die lapa se hortjies en ‘n tienstuks sebras langs die swembadjie en by die watergat.
Die kameelperde kom nou die afgelope vier of vyf dae gereeld. Die eerste groen blaartjies van die gewone pendorings, rooiboswilge, rosyntjiebosse en andere trek hulle soos magnete telkens terug. Daardie keer was egter die eerste keer dat sewe op ‘n slag opdaag vir ‘n laat ontbyt soos min. Veral die Bosveld-katjiepiering was
‘n trekpleister.
Hoeveel foto’s het ek geneem voordat die battery die gees gaf? Maklik 50. Tokkie was self bedrywig met haar iPhone. My stukkie spyt is dat ek nie ‘n foto het van al sewe die kameelperde of die kameelperde en sebras saam nie. Tokkie het egter ‘n video van laasgenoemde.
So begeesterd was ons oor die kameelperde dat die sebras hard moes proes om ons aandag te trek. Toe ons opkyk, gewaar ons oor die swembad se rand die gestreepte lywe by die drinkgat.
Ook hulle vertoef rustig en verlustig hulle aan die voortou van die wintergras se lentekleed. Vir ‘n uur beleef ons toe die “ou Sabiepark” toe die mense en huise nog minder was (die huise ook aansienlik kleiner) en die wild meer.
Gister was die kameelperde hier vir middagete. Selle bome kry die grootste aftrek: die Bosveldse katjiepiering, die gewone pendoring en die rooiboswilg . Hierdie keer ook ‘n kierieklapper en – kan dit wees – ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie met sy krom haak-en-steek-dorings wat jou soos ‘n buffel kan gaffel?
Jy hoor hoe daardie enorme lippe met behae die blare stroop, jy sien hoe die takke in slierte uit die gulsige monde hang. Die langnekke loop van boom tot boom: die donker patriarg voor in die tou en die jongetjie half versigtig ‘n entjie weg. Hulle maak kaal waar hulle kom.
Jy voel bevoorreg oor sulke intensiewe kameelperd-aandag, maar te veel van ‘n goeie ding raak mos later ‘n kwade ding. Gaan hier blare oorbly?
Weer eens was die sewe net nooit naby genoeg aan mekaar om hulle op een foto te kry nie. Maar ek het probeer hier van die stoep af – ook Tokkie (ja, dis sy daardie met haar iPhone.)
Die blommetjie is die katjiepiering s’n – “the one that got away”.
Naskrif: Vanoggend het die sebras weer kom water drink. Altyd ‘n mooi gesig as hulle so simmetries die koppe kaat sak.
Sep 2, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

En nou, dames en here, glo dit of nie: kameelperde wat kan lees.
Pas het ek gister my Lentedagstukkie, Hol-a-drio-a, op Nagkantoor geplaas of twee langnekke daag op vir ‘n inspeksie in loco.

Wat hulle waarneem, verheug die hart en laat die mond water.
‘n Opgeskote rooiboswilg se vars lentekleed skitter in die Laeveld-son. ‘n Rosyntjiebos wat altyd eerste geel blommetjies stoot weens sy strategiese ligging vis-à-vis die swembad, het juis net gisteroggend presies dit begin doen. ‘n Gewone pendoring of twee begin herleef na die winter. Selfs die knoppiesdoring – ‘n groot langnek-lekkerny – het al kos.
Die twee sak toe met mening. Weldra lyk die arme rosyntjiebos soos ‘n hoenderhaan met geplukte stertvere. Die rooiboswilg staan kaalgevreet.
Verlede jaar was ‘n njala-ooitjie en ‘n sebra van die eerstes by die rosyntjiebosdis. Vanjaar is hulle te laat.
Slierte van takkies hang by die eters se monde uit; die lippe bly werskaf. Een ou draai sy nek met akrobatiese vernuf heen en weer om dan links, dan regs die vars blare te stroop.
Maklik ‘n uur of twee het die fees geduur. Vanoggend is Tarlehoet se werf heelwat minder groen. Maar vir daardie uur of twee die Gewer lof. Die Van Deventers se kameelperd-plesier was lank, lekker en meesleurend.
Verskoon tog maar die klomp foto’s; kon moeilik kies.

Aug 28, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Kameelperde het vele fassinerende rituele. Op die lieflike S50-rivierpad by Shingwedzi het ‘n kwartierlange kameelperd-kamee ons agterna laat wonder: Wat presies het daar voor ons gebeur?

Wat ons gesien het, prakties gesproke, was minstens ‘n dosyn kameelperde waarvan vyf uiteindelik in die middel van die pad was. Ons het heelwat nekaktiwiteit oor en weer waargeneem. Binne bestek van ‘n paar minute het twee bestygings gevolg. By een was penetrasie onmiskenbaar. Jy sien dit op die foto.
Die S50 is ‘n romantiese pad. In die vier kilometer van die kamp tot by die Kanniedood -skuiling sien jy meesal meer wild as in 40 kilometer eders. Jy sien reuse-trosvybome en sierlike riviertonele. Omdat die omgewing so “romanties”” is, is jou eerste belewenis van die kameelperde se gedrag ook: Dis pure passie wat hom hier uitwoed..

Dan begin jy wonder: Hoekom dan so in ‘n groep? Gewoonlik is ‘n bul jaloers as sulke tyd aanbreek. Hy soek privaatheid en verjaag al die ander. Dit begin ook pla dat die natuurlike minnespel in die sessie ontbreek het. Geen sprake hier van ‘n belustigde bul wat wie weet hoe lank geduldig agter ‘n koei bly aanstap en telkens haar urine proe (regtig) om haar gereedheid te bepaal nie.
Jy onthou wat jy al iewers gelees het: Van troppe jong bulle waarin mededinging om dominansie voorkom. Eers word met die nek gepiets-piets. Dan – as die opgewondenheid toeneem – moet die ondergeskikte ene buk. Dit lyk vir waarnemers soos “homoseksuele” gedrag, en penetrasie tot by die punt van orgasme kom voor.
Hoe moet ‘n mens weet? Wel, die horinkies verraai geslag. Koeie s’n is dunner en is bedek met donker hare op die punte. Bulle is langer en dikker en het kaal bopunte met klossies rondom. Maar ‘n mens moet fyn kyk. Ek moet twyfel bely oor die getuienis voor my.
Dalk kan ‘n kenner lig werp? Anders gaan ek in my geheuebank die insident as die uitsortering van baasskap liasseer, nie as liefde in die laatmiddag nie.
Ons dag dis ‘n warm vryery, toe’s dit ‘n bakleiery. Of wat praat ek alles?
Naskrif: ‘n Ander vreemde ritueel is dat kameelperde

aan die bene van hul vadere sal kou. Dit het ek self in Sabiepark ervaar. Die verskynsel het selfs ‘n naam: oste
ofagie. Dis ‘n manier om ekstra kalsium in te kry om daardie enorme skelet te versterk. Dan lees ‘n mens van kameelperde wat selfdood pleeg in die geval van noodlottige besering of depressie. ‘n Toeris het vertel hy het in die Krugerwildtuin gesien hoe een sy kop op die teerpad pap slaan nadat sy been in ‘n bakleiery gebreek is. Raar maar waar.