May 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Soos vele ander egpare was John en Tini Vorster in geaardheid glad nie karperde nie. Tini (oor wie ek ‘n paar dae gelede ‘n blog geplaas het) had die sagte hart van ‘n maatskaplike werkster. John was die mededingende regsgeleerde, altyd oorgehaal om ‘n opponent kliphard aan te vat. Die begaafdse redenaar was geseënd met ‘n ingebore spitsvondigheid wat vernietigend kon wees.
As John Vorster die politikus met die sonore stem en vlymskerpe kwinkslae eers met sy een voet op sy groen leerbank in die volksraad gaan staan het en die opposisie met sy honende humor begin opkeil, was van sy kant van die raad galmende lagbuie van genot.
Ek was die aand in die Bloemfonteinse stadsaal toe die premier onder dawerende toejuiging aankondig Suid-Afrika sal nie die gekleurde Basil D’Oliveira as lid van ‘n MCC-krieketspan aanvaar nie. Tot vandag glo ek hy kon met presies die teenoorgestelde standpunt dieselfde toejuiging uitgelok het. Hy het oor die statuur beskik om mense om die pinkie te draai en die redenaarskuns om hulle in enige rigting mee te voer. Dalk het hy nie sy mag in daardie opsig nie ten volle besef nie.
Die gedugte Vorster het my vroeg in my loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad laat stamel. Dit was by Philpstown se eeufees of iets waar hy – toe nog minister van justisie – die spreker was. Ek wou asseblief ‘n afskrif van sy toespraak hê.
Hy het my met onbehae deur ruie wenkbroue betrag. “Vriend,” het hy afgemete, sonder ‘n sweem van ‘n glimlag geantwoord: “As ek afskrifte van toesprake begin saamdra, daardie dag tree ek uit die politiek.” Ek het gou geleer ‘n John Vorster-toespraak bestaan uit ‘n paar kriptiese notas agter op ‘n pakkie Rembrandt ongekurk 30.
Kort nadat hy HF Verwoerd in 1966 opgevolg het, het hy Koffiefontein besoek. Dit het ‘n draai ingesluit by die Interneringskamp waar hy in die Tweede Wereldoorlog agter doringdraad was. Ek sou nie weer om ‘n afskrif van ‘n toespraak aanklop nie!
Die besoek aan die Interneringskamp het wel vir een van my gunstelingfoto’s uit my vroeë loopbaan gesorg. Daardie skraal swartkopmannetjie met die dikraambril en die notaboek links van mnr. Vorster, dis ek!
Mettertyd het ek in die jare 70 by die nuwe dagblad Beeld kennis gemaak met die nogal warm stoel van die nagredakteur – die man wat die volgende dag alles moet kan verduidelik. Een van die aande wat ek nie lig sal vergeet nie was nadat die premier op ‘n jagtog in die private Sabie-Sand-reservaat ‘n leeu geskiet het.
Die aand nadat die storie (plus kleurfoto) op die voorblad verskyn het, het die uwe diens gedoen. Die eerste uitgawe was afgehandel. Ek het net behaaglik teruggeleun. Skielik lui die telefoon. Die fors stem kondig afgemete aan hy wil met die redakteur praat. “Goeienaand, mnr. Vorster – praat maar, ek is die nagredakteur.”
Verslaggewers wat ooggetuies was, het later vertel ek het ligrooi geword, en amper versteend op aandag geruk. Die premier was woedend. In die gewraakte onderskrif het gestaan Vorster het die leeu by Skukuza platgetrek, dus in die nasionale Krugerwildtuin, wat nie die geval was nie. Na verduidelikings en verskonings wou hy nie juis luister nie. Wat, wou hy weet, moet die wêreld van Suid-Afrika dink as die pers sy premiers sulke onbesonne dinge laat aanvang!
Impertinente persfotograwe is ook deur die leier met die stugge bloedhondgesig laat bontstaan. Pogings om hom vir die kamera te laat glimlag, het vir twee wat ek ken, glad nie voorspoedig verloop nie. “Maar ek glimlag dan klaar,” het hy een getroef. “As jy tande wil sien, moet jy Jimmy Carter gaan afneem,” het hy nommer twee kortgevat.
‘n Keer dat hy wel breed vir ‘n fotograaf geglimlag het was op ‘n foto op Huisgenoot se voorblad van hom in sy baaikostuum saam met sy kleinkinders op sy geliefde vakansieplek Oubos. “Oupa Nam-Nam” – so is hy by die foto genoem – was die toonbeeld van ‘n liefdevolle oupa.
John Vorster se latere presidentskap was kortstondig en misplaas – ‘n kunsmatige manier om sy politieke loopbaan te probeer verleng nadat hy kort tevore deur sy kollegas versoek is om weens swak gesondheid die tuig as premier neer te lệ. Al wat dit hom in die sak gebring het, is dat hy gedwing is om in die openbaar die verantwoordelikheid op hom te neem vir die “katnes” van die Inligtingskandaal wat deur regter Rudolph Erasmus finaal oopgekrap is. Dit was treurig dat die formidabele man se loopbaan so op ‘n laagtepunt moes eindig.
May 12, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Sy/haar onderhoude met spesiale mense is deel van elke joernalis se memoires. Gedenkwaardige eie onderhoude wat vinnig by my opkom, was met uiteenlopende karakters soos Thabo Mbeki, Harry Oppenheimer, Tretchikoff, Gerhard (Spiekeries) Viviers, Francesco, die witgesig-nar, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jamie Uys, Anneline Kriel, Sonja Herholdt, Ampie Roux, vader van ons eie “bom”, Buurman van Zyl, legendariese Bloubul-afrigter, Thys Lourens en Paul Nash, een van ons grootste atlete.
Een onderhoud wat onuitwisbare indrukke gelaat het, was met mev, Tini Vorster, minder as 20 uur nadat premier (en later staatpresident) John Vorster weens die Inligtingskandaal skielik as premier moes bedank. Die onderhoud van anderhalfuur in die premierswoning Libertas in Bryntirion, Pretoria, het my aangegryp. Dit het gelei tot die treffende plakkaat op die foto met die foto van die Vorster-egpaar en die volgende bewoording: My man John – mev Tini Vorster. Dit is nie elke onderhoud wat met so ‘n plakkaat bekroon word nie.
By haar was in daardie bittere uur geen bitterheid, verydeling of teleurstelling oor haar man se premierskap wat so dramaties gestuit is nie. Inteendeel. In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid, liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit nou nog.
Geen wonder nie dat die naam van hierdie rots aan John Vorster se sy dadelik by my opgekom het toe die tydskrif Sarie in 1989 by my en ‘n paar ander mense wou weet watter vroue ons die meeste bewonder.
Sy was teenwoordig toe mev. Betsie Verwoerd haar man, dr. HF Verwoerd, aan die dood afgestaan het, het sy my daardie oggend oor ‘n koppie tee en keurige fyngebak rustig meegedeel. Dit het haar diep getref. Toe haar man as opvolger gekies word en dit hul beurt word om by Libertas in te trek, was dit met die gebed in haar hart dat hulle by die dag van afskeid saam oor die drumpel sal kan stap. Daardie gebed is verhoor. Daarom verlaat sy Libertas met ‘n dankbare hart.
In 1993 met die verskyning van my debuutboek, Flaters en kraters, het ek uit die aftree-oord Serenitas in die Strand van haar ‘n handgeskrewe briefie op blou Croxleypapier gekry om my geluk te wens. Mert verwysing na my stukkie in Sarie het sy bygevoeg: “Wat u op skrif gestel het, is steeds en sal altyd vir my ‘n kosbare kleinood bly – veral in hierdie dae dat ek op die lewenspad terugloop en graag die mooi na vore bring om te onthou.”
Natuurlik is dit vir my ‘n kosbare briefie. Dit word steeds met sorg bewaar. Koerantmense kan ook sentimenteel raak!
(Mev. Vorster het in 1978 ontvang ‘n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang vir haar maatskaplike diens – sy was Suid-Afrika se eerste geregistreerde maatskaplike werkster – en haar geskiedenisnavorsing oor die presidentslandgoed Groote Schuur in Kaapstad. In 1990 ontvang sy die D.F. Malan-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bevordering van die Afrikaanse kultuur. Sy was ook ‘n ereburger van Kareedouw waar die egpaar ná hul aftrede gewoon het. In 1987 het oud-president PW Botha die Orde vir Voortreflike Diens aan haar toegeken. ‘n Britse koerant het by geleentheid geskryf dat, as sy in ‘n later geslag gebore was, sy self die eerste minister sou kon wees. Sy verdien waarlik ‘n buiging van diepe bewondering.)