HERTOG UIT DIE WOLKBERG
Op sy aftreedorpie Haenertsburg in die Wolkberg by Tzaneen was die skraal gryskop in almal se oë maar net John Murray, ‘n nederige oud-landmeter met ‘n verslete Merc en ‘n Nissanbakkie; die stillerige ou wat soggens straat-af stap om ‘n koerant te koop. Tuis was hy ‘n hegte gesinsman met drie kinders en ‘n mooi vrou wat by haar oggendmark koekies, konfyt en vars produkte verkoop.In Blair Atholl in Pertshire op die Skotse hooglande was hy ‘n edelman van die hoogste orde. As die 11de Hertog van Atholl van 1996 tot 2012 was hy in status die hoogste adellike in Skotland, goed geplaas om ‘n onafhanklike Skotland se eerste koning te word. Op sy CV sou hy ‘n dosyn ander eretitels kon vermeld – graaf, burggraaf, markies, lord …. Hy was, in Britse rangorde, trouens, net ‘n vlak onder die koningin.
By tradisieryke Skotse plegtighede en parades op die enorme 70 000-hektaar-landgoed van Blair Castle het die Suid-Afrikaner sy kakieklere en ruwe stapskoene vir eeue-oue ampsdrag verruil. Uitgevat in deftige kilts in die tartan van die Murray-stam (clan), met swierige sporran plus al die tossels, wapens, medaljes en ander simboliese bybehore, het hy, onder die geklank van Highland Cathedral en ander tradisionele doedelsakmusiek, ere-ordes aan sy “onderdane” uitgedeel.
Hierdie dubbele lewe van John Murray as doodgewone man in Haenertsburg en adellike in Skotland is in ‘n bondige biografie opgeteken deur ‘n bergklimmaat, die historikus prof. Louis Changuion, ook van Haenertsburg. Die titel is eenvoudig The Duke from Haenertsburg.
Changuion vat die leser deur ‘n ingewikkelde labirint van geslagsregisters en stambome om te wys hoe die vurk in die hef steek en hoekom die hertog-mantel in 1996 juis op John sou val. Dit is ‘n boeiende geskiedenis wat in die 17de eeu sy wortels het. Die komplikasie van sterf sonder ‘n manlike opvolger sou weer
en weer opduik. Sywaartse opvolging het in die prentjie gekom, soms met onverwagse kinkels.
In 1992 is amptelik aangekondig: ‘n Suid-Afrkaner sou sy ongetroude voorganger as Hertog van Atholl opvolg – iemand wat, volgens die koerant The Scotsman “selde ‘n glasie whiskey weggesluk en nooit ‘n kilt besit het nie!” ‘n Mens kan die Skotse verontwaardiging jou goed verbeel!
John Murray was oorweldig. Eers wou hy abdikeer. Toe wou hy sy oudste seun, Bruce voorstoot. Tradisie het hom gefnuik. Die titel was oorerflik en onontwykbaar – soos troonopvolging. Slegs die dood of ‘n misdaad sou hom daarvan kon bevry.
‘n Kompromie is wel bereik. John – toe 62 jaar oud – sou die titel aanvaar, en uit pligsbesef ook die seremoniële verantwoordelikhede wat daarmee saamhang. Hy sou die trotse Atholl Highlanders in stand hou. Trek Skotland toe sou hy egter om die dood nie. Die res van die boedel kon maar in Skotse hande bly, dankie.
Daardie “res” het ongelukkig ‘n reuse-rykdom ingesluit. Weens sy vasskoppery het die obsternate 11de hertog ‘n fabelagtige erporsie van R705 miljoen (miljarde in vandag se terme) verbeur, is in die pers bespiegel. Hy kon een van die rykste mense in Brittanje geword het. Rapport het gemeen dit was “waarskynlik die blaps van die eeu.”
Elke Mei vir die res van sy lewe het John Murray Haenertsburg gegroet en as die Hertog van Atholl in Skotland gaan woon saam met die hertogin. Sy ampsverpligtinge het hy getrou nagekom en met sy natuurlike warme geaardheid, nederigheid, genaakbaarheid en toewyding vele Skotse harte verower.
As grootmeester van die vername internasionale whiskeygilde Keepers of the Quaich het John die goeie Skotse kultuur in al sy vertakkinge leer ken. (Prins Charles en oud-pres. FW de Klerk was twee van die eregaste wat in sy tyd heildronke moes instel – met die allerbeste Skotse watertjies natuurlik!)
Toe hy sterf, is sy laaste wens vervul om in Haenertsburg se vrugbare aarde ingespit te raak. ‘n Kissie met sy as is begrawe in ‘n spesiale hoekie van die kerkhoffie wat hy ná sy aftrede opgemeet en georden het. By Blair Castle het die geweeklaag van doedelsakke vir laas aan die landmeter uit Laeveld eer gebring, en het die vlag van die hertogdom ‘n week lank eerbiediglik halfstok gehang.
· Foto’s van John Murray in albei gedaantes; die kasteel en sy huis in die Wolkberg, asook sy beskeie graf kom uit die boek The Duke from Haenertsburg deur Louis Changuion in samewerking met Charles en Bev. Leach.