Dec 19, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op die foto is ek en Johannes Froneman met sy nuutste boek.
Twee weke voor my 85ste maak ek kennis met ‘n inter-aktiewe handboek. Dis net QR-kodes van voor tot agter.
En raai, twee van die tot dusver raaiselagtige tweedimensionele kodes lei tot skrywes oor en deur my – ja, die nimlike. Ook maar mens, ook maar danig oor erkenning (helaas), maak ek die eerste keer in my lewe so ‘n kode oop – en slaan my hande saam. “Tokkie, kom kyk,” word my gade ook die nuwe wêreld ingenooi.
Die boek se naam is “Konstruktiewe joernalistiek vir vandag”. Dis die eerste Afrikaanse handboek vir joernalistiek in 43 jaar. Die skrywer is Johannes Froneman en die uitgewer Akademia. Johannes stop my ‘n geskenk-eksemplaar in die hand toe ons in Orca op Melkbos gaan seekos geniet om hom vir sy voorwoord tot my “Wag-‘n-bietjie” (Naledi, 2025) te bedank.
Die boek is propvol wetenswaardighede wat my dadelik boei, veral oor al die nuwe dinge aan die digitale front. Dit bevat ook terugblikke van waarde vir die student (dalk).
Op p. 36 loop ek ‘n QR-kode raak wat my laat blom. Die byskrif lui: “’n Gebore joernalis beskryf Hennie van Deventer die beste: van Volksbladbeursdae tot redakteur en hoof van Naspers se koerante. Ná aftrede het hy boeke, blogs en briewe geskryf – dikwels oor koerantmense en hul stories.” En jou wrintie, die QR-kode vat my woerts na ‘n skrywe op die webblad
Mediamense.co.za met hierdie strekking. Laat my voel soos ‘n ontdekkingsreisiger.

Een van die QR-kodes wat my tone so laat krul het.
Op p. 89 is ‘n QR-kode wat lei tot my saluut aan Sapa in koerante by sy sluiting in 2015 ná 75 jare se parate diens. “Totsiens aan Sapa, troue nuusbron vir koerante”. Die skrywer noem dit ‘n “nostalgiese terugblik op die dae van die teleksmasjien, Sapa en die era toe nuus(kantore) nog deur tikgeluide en rook gevul was.” Mintag, toe lees ek ook weer lekker aan my eie skrywe!
Die vorige Afrikaanse handboek was “Joernalistiek vandag” wat deur (wyle) A.S. (Arrie) de Beer saamgestel is en in 1982 verskyn het. Ook daarin had ek ‘n bydrae, wat my een van die bloedmin lewendes maak wat wydsbeen oor die gapende kloof van vier dekades staan. Twee ander is Ton Vosloo en Ebbe Dommisse.
My bydrae was oor “Die nuusredakteur – spil waarom alles draai.” Ek lees dit met gespitste aandag. Ná 40 jaar het my insigte oor die onderwerp werklik weinig verander. Die nuusredakteur bly die spil. Sy dagboek bly sy Bybel, ensovoorts.
Froneman en De Beer, die handboekskrywers, was albei by Naspers en daarna hoogleraars in die joernalistiek aan die Potchefstroomse Universiteit in die stoel wat oud-Volksbladman GJ (Pine) Pienaar heel eerste beklee het. Eersgenoemde is ook stigter en kurator van die digitale mediamuseum
Mediamense.com.
Sep 4, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In sy insiggewende voorwoord tot Wag-‘n-bietjie verskaf prof. Johannes Froneman ‘n waardevolle bestekopname van boeke oor koerante en koerantmense in Afrikaans. Ek plaas dit graag hier:
Toe Hennie van Deventer in 1998 uittree as hoof van Naspers se koerante, was die rak met lekkerleesboeke oor die Afrikaanse joernalistiek nog maar yl. Dit het Hennie dramaties help verander. Die storie, waartoe hy so ’n wesenlike bydrae sou lewer, loop min of meer so:
Reeds in 1946 het die pionierjoernalis Johannes Steinmeyer met sy Spykers met koppe (Nasionale Pers) en J.M.H. (Marcus) Viljoen in 1953 met ’n Joernalis vertel (Nasionale Boekhandel) iets oor die vroeë joernalistiek vertel. Later sou Dirk Richard met sy Moedswillig die uwe meer oor pers-persoonlikhede van die noorde vertel (Perskor, 1985).
Enkele institusionele geskiedenisse het deur die jare verskyn. LJ Erasmus se ’n Volk staan op uit sy as: Verhaal van Die Afrikaanse Pers (1962) Beperk (circa 1970), C.F.J. Muller se monumentale Sonop in die Suide (Nasionale Boekhandel, 1990), Oor grense heen – Op pad na ’n nasionale pers 1948-1990, onder redaksie van WD Beukes (Nasionale Boekhandel, 1990), André Olivier se oorsig oor Die Kerkbode se eerste 150 jaar, Bode op spoor van die Woord (Lux Verbi, 1998) en Max du Preez se effe baldadige Oranje Blanje Blues – ’n Nostalgiese trip oor Vrye Weekblad (Zebra Press, 2005) sou volg.
Ook Lizette Rabe se ongepubliseerde boek oor Naspers se honderd jaar verdien hier vermelding – juis omdat die maatskappy se voorsitter klaarblyklik te skaam was om die maatskappy se Afrikanernasionalistiese wortels aan die wêreld te erken (hoewel dit kwalik ’n geheim was). Wel het ’n Konstante Revolusie – Naspers, Media24 en Oorgange as troosprys (maar nie sonder meriete nie) onder Rabe se redakteurskap verskyn (Tafelberg, 2015).
In dieselfde asem kan die vroeëre Keeromstraat 30 genoem word (Nasionale Boekhandel, 1965). Van die stukke in hierdie bundel vertellings het weer neerslag gevind in 1915-2015 Die Burger – Sy mense en hul stories (Jonathan Ball, 2015). Die Burger se susterkoerant, Volksblad, het ook sy eeufees in 2004 met ’n gedenkboek gevier: ’n Lewe van sy eie (met Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet as skrywers en uitgegee deur Tafelberg).
Boeke oor die politieke loopbane van enkele figure gee flitse oor hul redakteurskappe: dr. HF Verwoerd van Die Transvaler, soos weergegee deur GD Scholtz in sy tweedelige Dr. Hendrik Frensch Verwoerd 1901-1966 (in 1974 uitgegee deur Perskor) en dr. DF Malan van Die Burger in Lindie Koorts se DF Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme (Tafelberg, 2014).
Maar die meer persoonlike vertellings het min gebly. Wel het Piet Meiring se baie leesbare boek oor voorbladstories Vyftig jaar op die voorblad, (Perskor, 1979), verskyn en so ook sy Die Transvaler 50 jaar (Voortrekkerpers, 1987) en sy outo-biografiese Dis my storie dié (PMP Uitgewers, s.a.) asook Inside information (Howard Timmins, 1973). Meiring was die één skrywer wat voor Hennie van Deventer die joernalistiek en sy mense regtig laat lewe het.
Meiring het ook ’n boekie oor sy pa, ’n eertydse Kerkbode-redakteur, die lig laat sien (Ds. PGJ Meiring – Die lig op sy pad, PMP Uitgewers, s.a.). Dit is gevolg deur JC Steyn se Penvegter – Piet Cillié van Die Burger (Tafelberg, 2002), FA (Alex) Mouton se boek Voorloper – Die lewe van Schalk Pienaar (Tafelberg, 2002) en sy werk oor FS Malan, destydse redakteur van Ons Land, Prophet without honour, (Protea, 2011).
Outobiografiese boeke is deur enkele koerantmense geskryf. Daaronder tel Schalk Pienaar se Getuie van groot tye (Tafelberg, 1979), Dirk Richard se Tussen bid en droom (Constantia, 1986), Max du Preez se Dwars (Zebra Press, 2009), Chris Louw se Boetman – en die swanesang van die verligtes (Human & Rousseau, 2009), Lizette Rabe se Rykie – ’n Lewe van woorde (Tafelberg, 2011), Harald Pakendorf se Stroomop – Herinneringe van ’n koerantman in die apartheidsera (Penguin, 2018) en Ton Vosloo se Oor grense – ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering (Jonathan Ball, 2018). Hennie van Deventer se In Kamera (Protea, 2003) moet ook by hierdie groep gevoeg word. Almal bevat belangrike feite, perspektiewe en anekdotes.
So ook Beeld 50, onder redaksie van Erika de Beer (Jonathan Ball, 2024). Dit bevat talle lieflike stories oor Beeld-joernaliste se soeke na groot stories – en hoe om dit hard te slaan.
In 2023 het my Ter wille van oorlewing, ideologie en geld by Akademia verskyn en bied perspektiewe op aspekte van die Afrikaanse joernalistiek.
Naas bogenoemde moet die artikels genoem word wat in akademiese tydskrifte verskyn het. Op enkele webblaaie verskyn ook navorsing en eerstepersoonvertellings wat aspekte van die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek belig.
In geheel dus nie te versmaai nie.
Met die boek wat u nou in die hand hou – Hennie van Deventer se tiende wat grootliks oor die koerantwêreld gaan – lyk die rak al heelwat voller as ’n paar dekades gelede. Daartoe het Hennie ’n onmisbare, kenmerkende bydrae gelewer. Sy lys van mediaboeke lyk soos volg:
Scoops en skandes (Tafelberg, 1993)
Flaters en kraters (Tafelberg, 1996)
Kroniek van ’n koerantman (Tarlehoet, 1998)
In kamera (Protea Boekhuis, 2003)
Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017)
Koerant (De Novo, 2021)
Koerantkamerade (Naledi, 2021)
Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord (Naledi, 2023)
Water wat verby is (De Novo, 2024)
Hennie se boeke-bydrae het met twee versamelings (meestal) humoristiese anekdotes begin: Scoops en skandes en Flaters en kraters. Eersgenoemde het nogal ’n paar stories met buite-landse herkoms bevat, maar sy koerantstories het later ’n eksklusief plaaslike inslag gekry. HvD, ofte wel “die uwe”, was “teenwoordig” by omtrent elke gebeurtenis van belang oor ’n tydperk van dertig jaar — al was dit net omdat hy op daardie presiese dag in die hoofsub se stoel gesit het (dr. HF Verwoerd se dood), ’n terloopse foto geneem het van ’n gesin wat later brutaal uitgewis is, of bloot daar was waar geskiedenis gemaak is. Daarvan sou hy vertel.
Maar eers het die alte ernstige, polemiese Kroniek van ’n koerantman gevolg waarin hy vertel hoe hy as redakteur van Die Volksblad ’n stryd teen regses in sy verspreidingsgebied gevoer het. Soos sy kollega Alf Ries in ’n voorwoord herinner: Die boek is gegrond op Hennie van Deventer se persoonlike voorlegging voor die Waarheid-en-versoeningskommissie, wat vriendelike én onvriendelike kommentaar ontlok het. Hennie het nie op die draad gesit nie.
Daarna het In Kamera gevolg, ’n volwaardige outobiografie wat mooi deur Protea uitgegee is. Die tafel was nou gedek vir meer as media-boeke. Tog het in Byl in my bos (Griffel Media, 2009) en Lewensgroot en groter (Tarlehoet, 2012) ook kort stukkies bevat oor koerantmense soos Willem Wepener, Freek Swart, Jack Viviers, Ronnie King, Johan van Wyk en Ben van Rensburg. In sommige gevalle is dit omtrent al wat oor die betrokke koerantmanne in druk verskyn het. Dan is daar ook nog hier en daar anekdotes uit die koerantwêreld. Dus ook boeke wat ’n bydrae lewer tot ons mediageskiedenis en wat nie by die tiental getel is nie.
Van 2017 het egter ’n handvol boeke verskyn waarin Hennie die sluise oopmaak. Die titels vertel hul eie storie – dié van ’n outeur wat niks onopgeteken wil laat wat iets vertel uit die era van koerante nie: Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman, Koerant, Koerantkamerade, Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord en Water wat verby is. Die Corona-pandemie het die einde van koerante verhaas; vir Hennie van Deventer was dit ’n onverdunde tragedie. Daar moes vir oulaas vertel word. Hennie het natuurlik ook sy oog op sy eie ouderdommeter gehad.
Hennie het sy aftreejare dus nie net gebruik om saam met sy vrou, Tokkie, die oseane te bevaar of by die Wildtuin die natuur te geniet nie. (Daaroor het hy as kompulsiewe joernalis ook geskryf.) Meer as 20 boeke het al uit sy rekenaar gevloei. En dan praat ons nie eens van die talle koerantbriewe en ander geskrifte op allerlei platforms nie. Gelukkig het van daardie joernalistieke uitsette in van sy boeke – ook dié een – ’n papiertuiste gekry.
In hierdie boek, Wag-’n-bietjie, speel die koerant (nogmaals) ’n vername rol. Dit is dalk Hennie se laaste bydrae tot die geskiedenis van Afrikaanse koerante en die joernaliste wat op allerlei wyses bygedra het tot die soeke na ’n sinvolle saambestaan. Maar met Hennie weet ’n mens nooit!
Vir die oomblik is dit wel gepas om te sê: Dankie, Hennie. Welgedaan!
Johannes Froneman
Julie 2025
Mediahistorikus
Emeritus professor in die joernalistiek
Kurator van Mediamense.com
May 7, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vir almal wat drukkersink in die are het, ook almal wat nuuskierig is oor wat agter die papiergordyn gebeur het of steeds gebeur, en in die mense wat dit laat gebeur het of steeds laat gebeur, is die digitale mediamuseum mediamense.com die ideale inloerplek.
Gaan kyk gerus wat die skepper en kurator, prof. Johannes Froneman, en sy helper, James Kemp, reeds in die kort tyd vermag het. Dit is reeds ‘n skatkis van gesaghebbende inigting oor joernaliste, koerante, tydskrifte en die uitsaaiwese.
Nou reeds is daar al genoeg stof sodat die gedrukte media se enorme bydrae nie vergeet word nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media.
Die versameling koerantvoorblaaie is verstommend. Die geskiedenis van (Die) Volksbad word treffend en kernagtig weergegee. Vir lekkerlees is die afdeling By Nabaat sterk aan te beveel.
In By Nabaat is ‘n stuk uit pen van prof. Johannes Froneman oor my eie loopbaan. Dit is nie sonder kritiek nie. Ek beskou dit egter as besonder ewewigtig. Gaan lees dit gerus by https://mediamense.com/hennie-van-deventer-koerantman/
Dat hy my een van die “mees energieke joernaliste” noem, sal vele kollegas seker beaam – nie almal sonder ‘n wrange herinnering of twee oor hul eie ervarings in daardie verband nie.
In Nabaat is ook ‘n grafskrif uit my pen vir Sapa wat in Maart 2016 in die Afrikaanse koerante verskyn het.
Besoek hierdie museum en beveel dit wyd by mense met harte vir die media aan. Dis ‘n juweel wat hier tot stand kom.