Sep 28, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Amper 170 jaar se lewenservaring – indien dan nie 170 jaar se lewenswysheid nie! – was op ‘n bankie by die Vergenoegd- tehuis in die Paarl byeen vir ‘n nostalgiese ekspedisie die verlede in toe ek vir Johan van Wyk, die “Oom” van Stop van Myne gaan kuier het. Agterna was ‘n vogtigheid in die oog. In Volksblad word die sluier vanoggend gelig oor waaroor als gesels is – van ‘n Mej. Wereld tot edele regters. Hier is die skakel:https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/op-n-ouetehuisbankie-gesels-2-volksblad-ooms-oor-doerie-dae-20240926
Sep 27, 2024 | Hennie van Deventer se Blog
Jun 14, 2024 | Vars Blog
By Vergenoegd in die Paarl het twee Volksblad-veterane vandag lang stories gesels. Ek en Tokkie het vir Johan van Wyk gaan kuier waar hy nou ná die mooie Zandra se dood alleen moet klaarkom. Nadat ons saam ‘n broodjie gebreek het, het ons ‘n bankie gevind vir ‘n foto.
Daar sit ons twee oues toe in amperse bewoënheid oor die saamloop vir 60 jaar, en Tokkie neem ‘n foto van ons, arm om die skouer: amper 170 jaar se lewenservaring tesame. (Op 170 jaar se gesamentlike wysheid sal ek liefs nie aanspraak maak nie.)
Die sakke sout wat kollegas in uitdagende omstandighede saam opeet, dryf hulle in later jare weg van mekaar of kweek ‘n hegter verhouding. . MIn twyfel dat dit in die geval van my en Johan van Wyk laasgenoemde is. Daarom was vandag se kuier so kosbaar met sy eie onuitwisbaarhede, ook met die tekens van ouer word wat – so moet ons maar erken – by albei al hoe sigbaarder word.
Skryf jy nie meer nie, nie eens met ‘n potlood op ‘n stukkie papier nie? vra ek. Nee, skud hy die kop. Niks. Die outeur van tienduisende woorde wat lesers bekoor het, se pen het onomkeerbaar stil geword. Dis nogal swaar om te sluk. Want watter kranige skrywer was Johan nie en hoe goud werd was sy bydrae nie tot Die Volksblad nie.
Hoe ‘n vername wapen so ‘n lesersvriendelike rubriek soos Johan se Stop in die arsenaal van ‘n koerant is, kan kwalik oordryf word. Ek glo vas dat ons geliefde Volksblad in die 70’s en 80’s was wat hy was weens veral twee pilare: sy gebondenheid met sy gemeenskap (waarvoor ek nie omgee om gedeeltelike eer op te eis) en, tweedens, die liefde wat mense vir die rubriek Stop gehad het. Laasgenoemde borrel steeds uit waar Vrystaters gesels.
Die kollega het my daardie tyd persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het dikwels hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my soms ook maar op my tande laat kners.
Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag kan ons oor sulke insidente lag.
Kollegas weet dat ek die woorde “legende” en ”ikoon” bitter spaarsaam gebruik. Dis gewigtige etikette wat ‘n mens nie ligtelik moet uitdeel nie. Maar ek wil vandag hier herhaal wat ek al vantevore geskryf het: Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon.
Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom gehsd, die “Oom”. Hy het dit steeds.
Oor hom het Die Volksblad doerie jare in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk. Ek staan bankvas by elke woord.
Op pad huis toe deur ’n Swartland waar die groen koring begin opkom, kom ‘n vogtigheid in my oog as ek aan daardie heuglike dae dink.
Aug 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vir Zandra van Wyk (77), sjarmante, elegante lewensmaat aan die sy van daardie prins van rubriekskrywers, Johan van Wyk, groet ons Dinsdagmiddag in die Paarl. Op die kennisgewing van die tot-siens-diens by die Vergenoegd-kapel verskyn sy, toe nog’n jong vrou in haar fleur, by ‘n ryperd.
Die storie daaragter ken ek nie. Dadelik herinner dit my egter aan Johan se latere liefde vir ‘n ysterperd, so kragtig en blitsig as kan. En aan Zandra se versoening met daardie derde party van blink metaal in ‘n eiesoortige driehoek.
In sy eerste boek, ‘’So was dit’’, skryf Johan daaroor ‘n kostelike hoofstuk met die titel ‘’Die pad na Tranedal”. Dis ‘n hoofstuk oor epiese togte op die langpad op sy Honda Gold Wing 1100 GL. Elke 500 km is trane gestort. Een keer het sy passasier 899 km ver gehuil.
Tuis gekom, sweer sy dan dit was die laaste. Maar as hy dromerig begin padkaarte bekyk, blink die donker oë en gaan koop sy dadelik ‘n nuwe jean.
Skielik tref dit hoe twee sterk eienskappe van hierdie sterk vrou in die verhaaltjie deurkom. Die een ‘n onblusbare lewenslus, die ander ‘n vasbyt-vermoë soos min.
Sy was ‘n bok vir sports, onthou kollega Tobie Wiese haar onder meer in sy huldeblyk op Netwerk24. Inderdaad. Net ‘n rêrige bok vir sports sou maar telkens weer agter opklim – al die pyne onderlangs vergete. Sonder ‘n stewige element avontuurlus sou niemand dit in elk geval met die “Oom” van Stop van myne (sy ikoniese rubriek in Die Volksblad) lank uitgehou het nie.
Dan: vasbyt. Daarvan sou niemand Zandra iets kon leer nie. Vyf jaar lank het sy teen ‘n aggressiewe borskanker vasgebyt, Maar as jy dit nie geweet het nie, sou jy dit nie kon sê nie. Gekla het sy nooit, opgehou glimlag, het sy nooit.
Deur ‘n intense stryd met Covid was sy aan haar ernstige siek man se sy ‘n steunpilaar, soos altyd. Maar net opgesaal en voortgebeur; voortgebeur en haar kop vorstelik hoog gehou.
Ware aristokrasie was Zandra van Wyk voorwaar in voorkoms, optrede en ingesteldheid. Daardie pragtige perdefoto met saal en toom en al is daarvan ’n treffende simbool.
Nov 29, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die sakke sout wat kollegas in uitdagende omstandighede saam opeet, dryf hulle in later jare weg van mekaar of maak die verhouding hegter. MIn twyfel dat dit in die geval van my en Johan van Wyk laasgenoemde is.
Daarom was gister se kuier by Johan en Zandra in die Strand so kosbaar met sy eie onuitwisbaarhede.
Vir ons sou dit heerlik gewees het om daardie twee spesiale mense op ons oudag gereeld te sien. Omstandighede bepaal dit anders. Helaas.
Dit klink seker onbeskeie maar ek glo vas dat ons geliefde Volksblad in die 80’s was wat hy was weens veral twee pilare: sy dinamiek (waarvoor ek gedeeltelike eer sal opeis) en die liefde wat mense vir die rubriek Stop van Myne gehad het. Laasgenoemde borrel steeds uit waar Vrystaters gesels.
Johan het gister met ons aan koms ‘n los kruisband vir my vasgeknoop. Hy het vir my voorheen baie simboliese kruisbande vasgeknoop, Ek is dankbaar daaroor.
Hiermee enkele stukkies uit ‘n HvD-blog van 2014 waarin ek oor Stop se waarde besin:
Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies. Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.
Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders. Die era van die “Oom” was ook ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.
Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie. As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd. Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys. Net terloops.
So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners. Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende. Soek graag mekaar se geselskap op.
Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom, die “Oom”.
Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk.
Ek staan bankvas by elke woord.