SNIPPER, SNIPPER, KNIPPER, KNIPPER …

Neville, Daan en HvD met ons parlementere krieketkepse

More uit Melkbos

Dink aan ‘n mens se lewe as raampies op ‘n film. Namate jy ouer word, steek die hand van die Groot Redigeerder die skêr al hoe dieper in. Snipper, snipper val die raampies stukkie vir stukkie op die grond. Dan word die geknipte raampies met ‘n breë besem uit jou lewe gevee. Maar nie uit jou herinneringe nie.

Vanoggend lees ek in Die Burger van die musiekgees Johan Stemmet (80) se dood. Vir Johan het ek in 1964 ontmoet toe ek vir Die Volksblad na die Volksraad se Persgalery gekom het. So ‘n klipgooi bokant Seepunt se High Level Road het hy, Stoffel Prinsloo, Daan Eksteen en André (Bakkies) Rossouw in drie los wooneenhede gewoon. Laasgenoemde twee was kamermaats in ‘n donkerige huisie met ‘n palmboom voor.

Stoffel en Johan Stemmet was omoepers. Daan was politieke joernalis by die SAUK. Bakkies was by Die Burger waar hy later Van Alle Kante geskryf het. Daan het altyd van die stemmige Johan Stemmet gesê: “As ek so ‘n stem het, sou ek ook omroeper geword het.”

Ek het in die vriendekring beland via Ben van Rensburg, in die vroeë 60’s kollega en woonstelmaat in Boemfontein, en Neville Krige, getroud met my mooie kollega Dorothea (de Buys). Ben was voorheen ook in die nuusafdeling van die SAUK; Neville, soos Daan lid van die persgalery, was die SAUK se man in Bloemfontein (later ook Londen).

HvD. Daan en Georjane Groenewald (later Oberholzer) drink saam tee in Bloemfontein

Ek, Daan en Neville het saam vir die parlementêre krieketspan gespeel. Ons was die eerste drie persgalerymanne wat met die groen petjies van die parlementêre span vereer is – maar sonder die goue Republiekwapentjie voorop. Sir Div Graaff. Ossie Thompson en John Wiley was spanmaats. Hulle wal al drie Oxford Blues (of was John Wiley op Cambridge?).

Stoffel is vroeg-vroeg in ‘n motorongeluk dood. Bakkies is later aan kanker oorlede. Hy was toe redakteur van Sarie. Daan het ‘n jaar of wat gelede weggeval. Nou is Johan Stemmet, laaste oorlewende, van daardie intieme buregemeenskappie ook weg.

Neville, die wellewende Swartlander met die kenmerkende brei, is uit Londen deur John Vorster by die SAUK weggerokkel. Toe kom die Inligtingskandaal. John Vorster se sterretjie het verduister. Neville was ‘n ruk by Chris Heunis. Toe kom die nuwe bedeling. Hy het by Joe Slovo beland. Een oggend het hy, oënskynlik ‘n gesonde man in die fleur van sy lewe, op kantoor aan ‘n hartaanval beswyk. Miskien het die Van Rijns hom gevang. Ons was maar almal in daardie greep.

Ek het Ben gister gebel om hom op sy 82ste geluk te wens. Vanoggend het het ek weer gebel: om ‘n paar dinge oor daardie dae te kontroleer.

Hy kon o.m. die interessantheid meedeel dat Johan Stemmet voor sy verhuising na ‘n oumens-eenheid Vredehoek in Schalk Pienaar se ou huis in Oranjezicht gewoon het. Dit roep ook ‘n filmraampie. By daardie huis het ek die gedugte Schalk in 1964 een Saterdagoggend dou voor dag moes gaan oppik vir ‘n NP-die op Albertinia. Ek het die Pers se Zephyr gelooi deur Sir Lowryspas se draaie, terwyl Pienaar aanhoudend aanpor: “Ons sal moet aanstoot”. In digte, digte mis. Maar dis ‘n ander storie.

Ben vertel hy Pieter Spaarwater (later motorredakteur van Die Burger en ook skrywer van Van Alle Kante) en Johan Stemmet was dieselfde jaar se SAUK-kalwers; het Januarie 1960 ingeval. Ben en Piet het op 4 Januarie begin. Toe was Johan al ‘n “veteraan” van drie dae. Hy kon daardie ekstra naweek wat hulle gehad het, nooit kleinkry nie. Hoekom moes hy dan al op 1 Januarie begin?

In ‘n stadium het omtrent almal hierbo genoem by verskillende adresse in Seepunt saamgewoon (in die goeie sin van die woord). Hulle was onafskeibare vriende. Toe Bakkies begrawe is, het Daan Eksteen die begrafnisgangers ‘n “gathering of the clans” genoem. Dit was inderdaad die geval.

Die kleiner “clan” binne die groter “clan” is nou volledig uitgewis. Van die groter “clan” is net Ben en Piet Spaarwater oor. Die twee, op hul dag albei van die voorste motorskrywers in die land, sal seker albei vanaand op Johan Stemmet se lewe ‘n glasie goeie rooi klink, Ben op Stellenbosch en Piet Spaarwater op Onrus. Ek skakel graag per g-pos (geestespos) hier op Melkbos by hulle in.
(hvd)