HIER IS DIT: VOLLEDIGE NOODLOTSFOTO

‘n Muur van water stort oor die reling by Leentjiesklip, Wildernis, en agt mense skarrel na veiligheid. Vir een van die agt, ‘n 93-jarige oud-onderwyseres, eindig die Saterdagse seedrama noodlottig. Sy word neergevel en  tot in die middel van die pad gespoel.  Sy sterf op pad na die hospitaal.

Hoe die agt op vlug slaan voor die skielike bedreiging is te sien op ‘n dramatiese foto van ‘n ooggetuie, Tanya Rossouw (52) van Wildernis, wat in haar Mahindrabakkie op die parkeerterrein met haar selfoon sit en foto’s neem het.  Die bakkie was oomblikke later ook onder water.

Die unieke foto word vandag die eerste keer volledig aan die wêreld gewys.  Aanvanklik is net die helfte van die foto met die man Nolan en sy  gesinnetjie links daarop gepubliseer uit respek vir die oorledene, mev. Jo Hartman, en haar naasbestaandes se privaatheid.

Vandag se eerste publikasie van die volledige foto hier op my blad, die Facebookblad Nagkantoor en my blog by www.hennievandeventer.co.za  is met vergunning van die fotograaf en die slagoffer se kinders.  Dit word met groot deernis as huldeblyk aangebied aan ‘n merkwaardige dame wat diep spore in die onderwys getrap het.  Buiten mev. Hartman self is in die groepie regs ook mense net bekend as Jaco en Carey-An.

Publikasie volg op landwye verwondering wat die halwe foto gister uitgelok het. Lesers het selfs ooreenkomste raakgesien tussen die foto en die ikoniese foto van 1972 van ‘n klompie Viëtnamese kinders wat beangs op vlug slaan ná ‘n aanval met ‘n napalmbom. Voor op daardie foto hardloop ‘n kaal meisietjie van net nege jaar oud. Dit het die foto bekend laat word as die “Napalm girl”.

Verskeie lesers het op die intrinsieke nuuswaarde van die foto ingefokus  – die enigste getuienis van die treurspel wat hom by Leentjiesklip afgespeel het. Anena Burger, fotojoernalis van Media24, het in ‘n kommentaar geskryf dat selfs net die helfte van die foto ‘n Amerikaanse Pulitzerprys verdien.

Sy skryf: “Hierdie foto vertel so baie. Dit gee in ‘n mate agtergrond en voorspel wat kom. Die vrees en haas op die kind en die man se gesig. Die vrou wat oor haar skouer loer na die dodelike gevaar wat op hulle neerstort het my die meeste aangegryp.

“Tanya, dit was dalk nie n lekker oomblik nie, maar een waarin jy hierdie stormgolwe verewig het. Fotojoernaliste se lewens is daagliks in gevaar om sulke beelde vas te lê, maar die keer was dit ons lesers en die publiek wat hierdie oomblikke opreg vasgevang het. Sterkte vir jou ook. Ek is seker die beelde is steeds vir jou traumaties.”

‘n Oud-skoolhoof van die Wes-Rand, André Groenewald, was die eerste om die gedagte van die foto as huldeblyk aan mev,. Hartman en die ander te opper “Die deel van die volle foto met die wêreld kan juis groot eer bring aan die betrokkenes,” het hy geskryf.   “Indien dit ‘n unieke foto is (my vermoede is dat dit wel is), hoop ek dat dit tog gedeel sal word wanneer die tyd reg is.”

Tanya wat die trefferfoto geneem het, is ‘n tuinboukundige  en “digitale skepper”  van Wildernis “sonder man, kind of hond,” soos sy dit self stel. Sy is met haar bakkie, genaamd Max, spesiaal Leentjiesklip toe om foto’s van die onstuimige see te neem. Al is sy lief vir fotografie het sy haar kamera tuis gelos en net op haar Samsung-selfoon staatgemaak.

Sy het besluit om veilig te speel en in die middelste parkeerplekke vir Max ‘n gaatjie gevind. Sy het so 90 minute daar sit en kyk. Toe slaan  die reuse-fratsbrander toe. Haar voertuig het ook deurgeloop, binne en buite, “maar dit is ‘n kleinigheid in vergelyking met wat ander mense  verloor het. Die lewe verander in ‘n oogwink. “

Sy was seker angsbevange?  Vreemd nie; het dadelik uit haar bakkie  gespring en begin hulp verleen in die chaos wat ontstaan het.

Wyle mev. Hartman  – Tannie Jo – was ‘n kwarteeu lank, van 1969 tot 1994, ‘n voorste wiskunde-onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Sy is in huldeblyke deur leerlinge beskryf  as “die legendariese, gesofistikeerde Wiskunde-ghoeroe vir dekades.  Haar Wiskunde – nalatenskap is legendaries.”

Ander foto’s: Tanya Rossouw en een van haar foto’s van die onstuimige see Saterdag by Leentjiesklip.

 

 

HIER IS HY: DIE DODELIKE NOODLOTSGOLF

 

Onheilspellend, vreesaanjaend, dodelik. Mense skarrel vervaard om weg te kom voor die toringhoë noodlotsgolf wat Saterdag by Leentjiesklip, Wildernis, die lewe van ‘n brose 93-jarige, mev. Jo Hartman, geëis het.

Mev. Hartman was aan die terugstap van die reling af toe die dreunende  reusebrander haar en haar geselskap onverhoeds tref. Mev. Hartman is tot in die pad meegesleur en is in ‘n ambulans op pad na die hospitaal oorlede.

Hierdie beeld van die treurspel is ‘n gedeelte van ‘n  foto van ’n ooggetuie, Tanya Rossouw van Wildernis.   Sy het in haar bakkie gesit en foto’s van die onstuimige see geneem toe die muur water – sy skat dit so vyf tot ses meter hoog – skielik bo-oor haar voertuig spoel.

Op die ander helfte van haar oorspronklike foto is die groepie waarin die slagoffer haar bevind het.  Tanya verkies om dit terug te hou uit respek vir die oorledene en haar naasbestaandes.

Selfs sonder daardie detail is dit egter ‘n uiters nuuswaardige foto – een wat volledig reg laat geskied aan wat die Franse fotograaf Henri Cartier-Bresson, vader van die moderne fotojoernalistiek,  “The decisive moment” noem.  Hy verwoord ‘n groot waarheid  so:  “Ons fotograwe werk met goed wat gedurig verdwyn. En wanneer dit eers verdwyn het, kan niks op die aarde dit terugbring nie.   Ons kan nie ‘n herinnering ontwikkel en uitdruk nie.”

Eenvoudig gestel: jy het ‘n foto of jy het hom nie. Tanya het haar foto, al verkies sy dan om dit nie volledig met die wêreld te deel nie. My dank aan haar vir die vergunning om die halwe foto hier te plaas.