TRANE ROL OOR ‘N JIMMY

Jimmy, Rosalynn en Amy in 1976. Rosalynn is in November 2023 dood.
By die dood van Jimmy Carter, 100 jaar oud en krom van ouderdom, kan dit nie juis anders nie as dat ek 50 jaar terugedink: na die Amerikaanse presidentsverkiesing van 1976 toe Carter, grondboontjieboer van Plains, Georgia, tot my onbehae vir Gerald Ford ‘n goeie drag slae gegee het.
Met die verkiesing van die vir my bra oninspirerende Carter tot president was ek in die VSA: ‘n Niemangenoot aan Harvard in Cambridge, Masaschusetts. Ek het die veldtog op Amerikaanse TV gevolg. Dit was nogal ‘n sirkus met al die TV-debatte, ens.
Uitslagnag was ‘n groot gedoente in die Nieman-gemeenskap met drie TV-stelle – een op CBS, een op NBC, een op ABC – reuse-pizzas en ‘n bad vol Budweiserbier. Die Suid-Afrikaner en ‘n Mormoon uit Utah, Rod Decker, was die enigste “Republikeine” in ons Niemanklas. Namate die uitslae gewys het hoe die wind waai, het ek en Decker stiller geword. Die opgewonde oormag van Demokrate het ons ongenadiglik gekoggel.
John Painter van Portland, Oregon, was die voorbok. Hy het later ‘n vriend geword wat hard probeer het om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Amerika moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel gaan oopsny!
Toe die aankondiging kom Carter is president, het die Nieman-kurator, James Thomson, van aandoening in trane uitgebars. Dit was die tweede keer in sy lewe dat hy gehuil het, het hy later verleë erken. Die eerste keer was met sy pa se dood. Later het hy ‘n jubelende artikel geskryf: Oh to be a Jimmy! Maar Carter was darem die eerste Demokraat wat die Withuis gehaal het in daardie dekade. ‘n Mens kan ‘n Harvard-Demokraat se trane verskoon.
‘n Toneeltjie wat my bybly, was op die dag van die inhuldiging. Op pad Withuis toe het Jimmy (oftewel James Earl Carter), Rosalynn en hul te-groot-vir-haar-skoene-dogter, Amy, die swart ampsmotor verlaat en hand-aan-hand in Pennsylvania Avenue afgestap, die klein snip van ‘n meisiekind “hopping and skipping between them”, soos die Amerikaanse media uitasem berig het.
Vir hulle was dit ‘n teken van plat op die aarde wees – vir my was dit ietwat vertonerig.
Nog iets wat ek van Carter onthou, is sy glimlag. Soos hy tande kon flits, was ‘n aardigheid. Die storie word vertel van ‘n Suid=Afrikaanse fotograaf wat op ‘n keer die stugge John Vorster gevra het om asseblief te glimlag. Hy antwoord toe: As jy tande wil sien, moet jy vir Jimmy Carter gaan afneem.
‘n Nogal vermaaklike omstredenheid was oor ‘n Playboy-onderhoud waarin hy erken het dat hy vele kere met begeerte na vroue gekyk en in sy hart owerspel gepleeg het. Sy vrou, Rosalynn, het maar net geswyg en liefies bly glimlag.
Uiteindelik het hy tog vir hom ‘n plek in die geskiedenis oopgekerf. In 2002 is hy met die Nobelprys vir vrede bekroon vir sy “untiring effort to find peaceful solutions to international conflicts, to advance democracy and human rights, and to promote economic and social development”. Dis nie elke Jan Rap en sy maat wat so vereer word nie.
