TARZAN EN JANE

Soos Facebook se algoritmes nou maar werk, word by jou ‘n belangstelling bespeur en dan word jy toegegooi met verbandhoudende materiaal. ‘n Navraag oor ou flieks het ‘n vloegolf foto’s van aktrises op my losgelaat: Marilyn Monroe, Brigitte Bardot, Gina Lollobrigida, Sophia Loren, Elizabeth Taylor, Claudia Cardinale … Ek kla nie. Dis almal mooie meisiekinders gewees in my jeug. Welbehaaglik om hulle weer so in hul fleur te sien en so ses dekades gelede teruggevat te word toe ons almal nog jonk was.
Tussen die nooiens maak ‘n foto van ‘n bekende toentertydse paartjie ook op die onthoupad sy opwagting: Johnny Weissmuller en Maureen O’Sullivan as Tarzan en Jane in “Tarzan Escapes”. (1936). “Me Tarzan, you Jane.”Onthou julle die bekendstelling, diegene wat oud genoeg is?
Tarzan: watter opwindende herinneringe skep die beroemde oerwoudman in sy lendekleed nie by my nie? Nie net was verskeie van die eerste flieks wat ek in Kimberley se ou Plazateater in Transvaalweg gesien het, Tarzans nie, maar ook een van my eerste boeke was oor hom: Edgar Rice Burroughs se ”Tarzan, die aapman”. Dit was my beloning vir vlytigheid in een van die laer standerds aan Diamantveld in Kimberley. Nou’s dit skoonveld. Tokkie beweer dit het nie 59 jaar gelede saam met my in die huwelik gekom nie. Sluk maar moeilik daaraan.
Burroughs, ‘n Amerikaner, het sy eerste Tarzanboek half tong in die kies geskryf. Toe word sy karakter oornag ‘n fiksie-ikoon – een van die suksesvolste tot vandag. Uiteindelik het sy avonture 24 boeke in beslag geneem en in ‘n rits rolprente sy spiere gebult. Hy het ook ‘n strokiesheld geword in ‘n reeks wat wêreldwyd in koerante verskyn het. Die Tarzan-handelsmerk het talle produkte versier. Burroughs se “ranch” in Kalifornië is nou die buurt Tarzana in Los Angeles. So kan ‘n mens aangaan.
Burroughs het sy held as peuter-skipbreukeling aan die Afrikakus laat beland. Toe hy 18 was, ontmoet hy die Amerikaanse meisie Jane Porter wat saam met haar verdwaalde pa en ander in dieselfde stuk ongerepte oerwoud as Tarzan se ouers rondswerf. Die liefde vlam op daar in die wildernis. Toe sy terugkeer na die VSA verlaat hy (tydelik) sy tuiste om haar – sy enigste liefde – te gaan soek. Saam beleef hulle die wonderlikste avonture.
Met sy boeke en wat daaruit gespruit het, het Burroughs vir hom ewige roem en ook eretitels soos “die mensdom se invloedrykste skrywer” verwerf.
Ongetwyfeld die bekendste Tarzan was Johnny Weissmuller, ‘n Hongaars-gebore Duitser wat ‘n briljante swimmer en waterpolospeler was en met vyf Olimpiese medaljes, waaronder goues, in die swembad kon spog. Na sy uittrede as swemmer was hy tussen 1932 en 1948 in 12 Tarzanrolprente die man agter die beroemde lang Tarzankreet wat in al die Tarzanflieks voorkom.
Die sexy Maureen O’Sullivan was ‘n Iers-Amerikaanse aktrise wat ses keer teenoor Weismuller die rol van Jane vertolk het.