EK IS NIE HY NIE!

More uit Melkbos

Op die foto is Jacob, een van die Claassens-tweeling, medalje om die nek ná ‘n verrassende sege in sy ouderdomsgroep in die vryslag op die Laerskool Welgemoed se swemgala – waarskynlik omdat hy in ‘n aggressiewe luim gebring is deur wat hy beleef het as ‘n premature verwydering van sy bril waaraan hy baie verknog is. Toe skop hy dat dit bars … en kom voor die geslypte swemmers van ouderdomsgroep by die wenpaal aan.

Natuurlik is Oupa trots en so aan, maar dis nie waaroor hierdie storie handel nie. Ek wil vertel wat gebeur het toe Jacob podium toe geroep word om sy medalje te kom haal.

Wel … niks het gebeur nie, om die waarheid te sê.

“Jammer, Jacob is klaarblyklik nie hier nie, want hy moet die wennersmedalje kom haal,” kondig die uitsaaier aan net op die oomblik toe sy ma, Marisa, deur die kinders gebeur kom om haar seun tot aksie aan te spoor.

“Jacob, jy word geroep!”

“Ek is Jacob (Jy-cob) Claassens nie Ja-kob Claassens nie,” kom dit kordaat.

Dis korrek. Hy is Jacob, Jacob Henry, terwyl hierdie oupa doodgewoon Jakob Hendrik is. Dis nie van opstêrsgeid nie. Jacob se pa, Brent, kom uit ‘n Engelse huis.

Ouma Tokkie sê Jacob se weiering om op die “verkeerde naam” te reageer, is nog ‘n bewys dat hy sy Oupa Hennie se nukke ge-erf het.

Ek sê: “Aikona, dis g’n nuk nie. ‘n Mens se naam is heilig.” Dis soos ek ek by die koerant ingedril is en by my redaksie ingedril het. ‘n Vriendin, Rina Koen, onthou selfs dat sy doerie tyd by ‘n Anna wou weet: Anna met twee enne of een en.

En dis ‘n ding wat ‘n lang pad kom, hoor. Op Melkbos het ons ‘n vriendin, Maria-Anne (Ma-raaia Ann) van der Merwe (gebore Louw). Ou dr. D.F. Malan se vrou, Maria (Marie-a), ook Maria-Anne gedoop, was haar tante.

Maria-Anne verkneuter haar aan die storie dat op die dag van haar tante se doop op Calvinia die dominee plegtig aangekondig het dis nou Maria (Marie-a)- Anne (An-ne) Sophia (Soo-fiea) hier by die doopvont.

Toe vloog die latere premiersvrou se ouma en Maria-Anne van Melkbos se oumagrootjie in haar bank orent: “Excuse me, reverend, you’re getting the pronunciation all wrong. The correct pronunciation is Maria-Anne Sophia” (op zijn Ingels). Die leraar moes mooitjies sy fout herstel.

Maria-Anne het ‘n kleindogter wat ook Maria-Anne is. Ander ouma had hieroor bedenkinge. Toe sy die historiese agtergrond meegedeel word, het sy dadelik omgeswaai.

Punt is: ‘n mens laat nie met jou naam mors nie. Nooit nie. Tensy jy ‘n papperd is. Skote Petoors, Jacob!

Naskrif: Jacob se boetie, Thomas, het Oupa ook in die laaste dae plesier gegee. Hy (wat aanvanklik reserwe was) het hom ontpop as amptelike “Bouler van die Wedstryd” in sy krieketspannetjie se sege teen ‘n buurskool. Daarna moes jy darem hoor hoe Oupa op sy dag die bal kon slinger. Die uwe was mos die skraal swartkop-snelbouler van Potch-Volkies se eerste krieketspan in 1956 en 1957, al sou min dit deesdae kon raai. (hvd)