‘n KUIER-VAKANSIE

Die by the sword – so heet Sabiepark se Boere-Aussie, Tony Park, se nuwe boek – iets soos sy 23ste. Dit moet oor die ANC handel, het André Groenewald terstond besluit toe ons die vermaarde skrywer in die piekniekplek raakloop en die twee ‘n geselsie aanknoop. Tony kon maar net met ‘n lakonieke laggie reageer.

Die geleentheid was ‘n kuier van André en sy vrou, Betje (Elizabeth). van Roodepoort, saam met die egpaar Ferreira van Bonnievale, Gerhard en Freda, wat ons jare gelede  deur Kapous en Leonora Mouton leer ken het.  Die vier het van die Kruger Park Lodge oorgekom.

Die vriendskap met die Groenewald kom via die webblad Nagkantoor. Gerhard kan op sy beurt stringe gemeenskaplike vriende opnoem, ook mense van die ou Nasionale Pers wat hy in Fairland, Johannesburg, leer ken het: Salie de Swardt, Eric Wiese en andere.

Die foto hierby is geneem deur Kyla van Queensland, ‘n kuiergas van Tony. Ek hoop dit lyk so netjies en professioneel soos die welgevallige fotograaf! Op die foto is Tony, Tokkie, Gerhard, die uwe, André , Betje en Freda.  Die ses njala-ooitjies wat lank om ons rondgedrentel het, is nie op die foto nie. Ook nie die apies wat Tokkie soveel grys hare besorg het nie.

Verskeie ander hoogs gewaardeerde besoeke is tot dusver hierdie kuiervakansie ontvang:  Herman en Rina le Roux (plus Frans en Michelle Marais), Jaap, Marlene, Janie en Daniël Duvenage, Jaco, Lienkie, Bernard en SJ van Wyk en Ernst en Leonie Schmidt.  Jimmy en Lida Pressly is volgende.

Herman en Rina was al minstens 25 keer op Tarlehoet se stoep. Niemand anders is meer kere deur ons bospoorte nie.  Saam met al die eet- en drinkgoed wat hulle twee, Frans en Michelle saamgebring het, was die gewone sak vol plakboeke – een van my springlewendige 90-jarige kollega –  se vele passies.

Soos gebruik geword het, is van Herman en Tokkie ook weer ‘n spesiale pasaangeer-foto geneem. Hulle poseer so dat hul onderskeie pasaangeers ou bande kan hernu.

Die Duvenages was op hul plus-minus 15de jaarlikse besoek. Toe trek iemand die windlaaier vol oop juis die middag toe ons gaan hamburgers maak by die piekniekplek. Om ‘n tafeldoek oop te sprei, was ‘n onbegonne taak en glasies moes maar strategies vol gehou word om hulle gewig te gee. Maar ‘n vasbyt-braaier in die vorm van Chris Bekker van Heidelberg het sy kole mooi beskerm en gesorg vir frikkadelle van die hoogste orde. Toe waai die wind twee troppe olifante tegelyk uit die bos tevoorskyn vir ‘n diere-kabaret soos min. Gawe bonus. Chris kuier saam met sy vrou, Chistien, by Frances Hoexter.

Die Skukuza-konneksie bly maar vir ons Sabieparkers goud werd. Die hanetreetjie tussen die twee maak heerlike verrassingsbesoekies moontlik. ‘n Sondag het peetkind Jaco van Wyk, ‘n broerskind van Tokkie, en sy gesin gou uit Skukuza oorgekom vir ‘n dagsê en ‘n lafenis. Danksy die lang arm van Bernard – een van die tweeling-seuns – het ons twee selfie-soeweniers van die kuiertjie. Hierdie foto is langs die Sabie geneem. Jaco en Lientjie is die middeljariges, Hennie en Tokkie die oues van dae. Bernard (ligte kop) ern SJ (donkerkop met Cheetah-rugbytrui) is die opkomende geslag.

Ook aangename stoepgaste was boomkenner en voorste gemmerboer van Hazyview, Ernst Schmidt, sy vrou, Leonie, en hul seun, Willem. Hulle het werklikwaar hul terugkeer huis toe met n dag uitgestel om te kom kuier. Eric is die skrywer van die formidabele bomebundel Wat elke bome-mens moet weet.

Ons was op ons beurt gaste by Frances Hoexter en die Shahias, Mrad en Inge.

Nou kyk, as jy dink dinge soos styl, grasie en finesse kry jy  nie in die bos nie, ken jy nie vir Frances nie. Onder flikkerende kerslig kon ses gaste aan haar tafel aansit vir die keurigste aandete waarvan jy kan droom.  Vooraf by die kampvuur het tarentale en sebras in die lig van 18 lanterns (as ek reg getel het) ‘n betowerende bos-kabaret kom aanbied. Atmosvuur – ‘n ware definisie was daardie ervaring van die kreatiewe Jan Braai-woord. Op die foto – ‘n knap selfie deur Chris Bekker (regs) – is van links Christien Bekker, Tokkie, ek (nogal in die gedugte oud-gasheer, wyle Gustav, se erestoel), Frances, Benita Hancke en Faan Hancke. ‘n Sterk Vrystaatse konneksie het ons almal saamgesnoer onder ‘n vlag van die ou Vrystaatse republiek. As iemand wonder: ja, dis regte kerse in daardie kandelaar. En dit was nie die enigste nie. Genoeglike aand.

By Mrad en Inge en hul gas,  Pinkie Badenhorst, het ons aan die heerlikste varkpens (pork belly) weggelê. Natuurlik moes ek weer luister na uitvoerige mededelings oor Mrad en Tokkie se vorige lewe op Bultfontein: hoe hulle dit uitgekap het as dubbelspel-spanmaats in die eerste tennisspan en hoe hy altyd in vervoering geluister het as sy klavier oefen.  Mrad meen sy kon ‘n konsertpanis word. Mrad se oordeel moenie lig geskat word nie.