Nov 1, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
sertifikaat1
Middag uit Melkbos
“Koerant” is my eie, eie woord. Dit staan van gister af agter my naam by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal). Dit sal vir altyd agter my naam staan as eerste borg.
Oor die ingewing om die woord te borg, is ek werklik ingenome. Koerante is nie van gister af nie in my bloed.
Ek het Die Volksblad oopgesprei op die vloer van ons skakelhuisie in Kimberley aan Oupa Visser se voete gelees voordat ek skool toe is. Ek is Tukkies toe met ‘n koerante-beurs. Ek was Perdeby-redakteur in 1961, presies 50 jaar gelede. Daarna het by Naspers ‘n loopbaan van 35 jaar by koerante gevolg – van verslaggewer tot uitvoerende hoof: koerante.
Toe ek in 1998, met my aftrede, ‘n loopbaanboek skryf, het ek dit genoem: Kroniek van ‘n Koerantman. Daardie boekie het soos volg afgesluit: “Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.” Daardie woorde het ek neergepen toe die koue internetwinde teen koerante begin aanwaai het, en weifelaars begin twyfel uitspreek het of koerante kan oorleef. Oorhaastige roubeklaers het al somber begrafnisplanne begin smee.
Hier en daar het iemand in die toekoms van koerante bly glo. Ek was een van die onwrikbares, en het dit graag uitbasuin aan wie ook al wou luister. Ook aan ‘n mooi klompie wat nie wou luister nie.
Ek onthou die vuur en geesdrif waarmee Lachlan Murdoch, bloedjong seun van Rupert, die internasionale koeranmagnaat, by die laaste wêreldkongres van koerante wat ek bygewoon het, oor koerante se toekoms gepraat het. Ek is agterna na hom. “Jy is ‘n jong man,” het ek gesê, “ek is op pad uit. Ek kom skud graag jou hand. Met niks wat jy vandag gesê het, kan ek my nie van harte identifiseer nie.”
Nie al my kollegas was deur my entoesiasme meegesleur nie. Party was maar skepties oor die nuus dat internasionale persbase na my oordeel vertroue in die toekoms van die tradisionele produk herwin. “Ag, ou Hennie en sy alewige koerante, koerante, koerante ….. hy is maar so uit die oude doos,” het hulle sekerlik gedink.
Kom ons los daardie geskiedenis maar eenkant. Mag ek net nog byvoeg dat my borgskap van die woord “koerant” ook simbolies is van my durende geloof in die oorlewingskrag van die koerant – mits leiers in die bedryf nie wankel en hulle deur verslaafdheid aan “groot winste” laat verlei nie.
Koerante het al ‘n paar winde gesluk, party meer as ander, dit is waar. Ek besef ook die snelle ontwikkeling in tegnologie moet vorentoe steeds ‘n groter impak op die gedrukte media hê. Maar ek glo darem terselfdertyd al koerante se terugslae kom nie van daardie paaiboelie die internet af nie. Vreemde aanstellings, verkleinde redaksies, verwaarloosde bemarking en ander sigbare tekens van geringskatting in eie geledere speel bepaald ook ‘n beduidende rol.
Die klimaat aan die mediafront het verander. Plek-plek amper onherkenbaar. Maar dankie tog dat hierdie papierverknogte, desondanks, in sy hart nie twyfel nie dat hy die koerant in sy tradisionele vorm, gedruk op uit-die-oude-doos papirus, tot aan die bittereinde saam met sy oggendkoffie sal kan geniet.
Naskrif: Ek borg ook die woord “joernalis” sedert gister – en kry daaruit amper ewe veel plesier. Om “joernalis” te wees was vir my stimulerend, verrykend en sommer net heerlik – geen ander loopbaan sou hierdie ou se hart eens naastenby só kon laat bons en die adrenalien só laat pomp nie. (HvD)
Sep 26, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
“Bliksem!” Die spontane uitroep van Freek Robsinson (meen ek) op ‘n radio-inbelprogram geruime tyd gelede staan my nog helder voor die gees. Die omroeper se onverwagte reaksie was uit pure bewondering.
Die gesprek was oor die digitale era en hoe mense toenemend die nuwe tegnologie in hul daaglikse lewe inspan. ‘n Sewentig-plusser het ingebel – iewers uit Natal – en entoesiasties uitgewei oor alles wat hy met sy “laptoppie” uitrig terwyl hy in sy motor sit en wag vir sy gade op die een of ander inkopietog.
Moet erken: my mond het ook oopgehang oor sy vernuf, al is ek self nie heeltemal ‘n “ongeletterde” nie. (Niks laat jou bors meer uitdein nie as om uit ‘n mooi jong dingetjie se mond te hoor: “Jinne, oom is darem oulik!” Maar ek ken my beperkinge, hoor, en kan soms met frustrerend “maklike” toepassinkies vasval.)
Nietemin, toe ek Sondag in Sake-Rapport die onderhoud met Liza Albrecht lees oor waarheen Media24 op digitale gebied op pad is, dink aan daardie Natalse senior en wonder ek of hy meer van al hierdie dinge sal verstaan as ek, voormalige joernalis en koerantehoof. Ek vermoed wel so, want dat heelwat van haar uitsprake vir hierdie “oom” Grieks is, moet ek maar bely.
‘n “Toep” met “ekstra funksionaliteit” en “interaktiewe funksies” klink vir my of dit in die teater van ‘n Mediclinic tuishoort, nie in ‘n koerante-omgewing nie. Ek wonder: Sou “toep” (toepassing) dalk inspeel op “YouTube”?
Wat my wenkbroue laat wip het, is die erkenning dat “die beste model vir koerante op die internet nog nie gevind is nie”. Ook ander Albrecht-uitsprake soos: “Die realiteit is dat ons nog nooit geld gemaak het op die internet nie.”
Goeie aarde, het ek nie so lank terug as 1997 (14 jaar gelede) al die rekenaar-fundi’s van die Pers uitermate irriteer met my “vervelige” aandrang om te wil weet of ‘n model aanbeveel kan word wat die moontlikheid van geld maak inhou nie?
Dis juis oor my domheid op hierdie terrein (en my bedenkinge of ek ‘n jota of tittel sou kon bydra in ‘n nuwe era van “ekstra funksionaliteite” en “inter-aktiwiteite”), wel, onder meer, dat ek op ‘n relatief jeugdige 57 die Pers koebaai toegeroep en op Melkbos vir die goddelike sonsondergange kom sit en kyk het, glasie wyn in die hand.
Nou praat die nuwe generasie wel in nuwe tale, maar sit hulle maar steeds, by wyse van spreke, in hul wegspringblokke, lyk dit vir my. Dat net 2 000 mense die spesiale (gratis) rugby-“toep” op IPad afgelaai het en ewe min op IPhone klink vir hierdie waarnemer bra ontmoedigend.
Sterkte, liewe Liza en jou “toep”-span, met jul “verkenningswerk” en “aanvoorprojekte”. Hoop werklik jul “Touchlabs” en dinge gaan jul drome verwesenlik.
As hierdie onwrikbare verslaafde aan die gedrukte media vir julle raad het, is dat julle tog maar nie te veel vertroue in die tegnologie self stel nie, maar eerder in die joernaliste wat dit sal moet inspan om die nuus met slimfone op tablette (en ander maniere) by die massas te kry.
Want ”scoops” op jul “toeps” – dis wat julle broodnodig gaan hê as julle hoop om geld te maak op die internet. Nuus, nuus, nuus – dis wat mense wil hê en al waarvoor hulle (moontlik) bereid sal wees om te betaal op die internet. Hoop nie dis nuus vir julle digitale stratege nie. Ander kan baie frustrasies voorlê en dit nog jare vat voordat julle iewers kom, is ek bevrees. (HvD)