RILLER BY BRANDVLEI

Johan op ‘n fiets. Hierdie een het ten minste ‘n saal. Met hom het hy as skoolseun koerante afgelewer.

Elke visterman kan vir jou ’n storie of twee vertel van die grote wat weggekom het. Sulke onheil tref nie net vistermanne nie. Pas is die nuus bekend gemaak van ons geskenkboek oor ons seun, Johan, se lewensreis met diabetes mellitus (Vyftig jaar op insulien – ‘n storie van hoop) of ‘n roerinkie kom in  die ou man se geheue.  ”Tokkie , weet jy watter storie wat moet in gewees het, het  uitgebly? vra ek langs die vuurtjie . ‘’Nee, watter een?” ‘’Die Brandvleistorie.” ‘’Natuurlik.’’ Wel, te laat vir trane is dit.  Maar hier is die storie – en dis ‘n riller.

Hoofstuk een: ‘n heerlike vakansietjie in Kgalagadi saam met Johan en Mariza so 15 jaar of wat gelede.

Hoofstuk twee: Op pad terug omring deur niks en met Brandvlei die volgende dorp op ons roete steek hul Land-Rover kop tussen die bene. Snelheidsmeter val van 120 tot 0 in ‘n smartlike sekonde.  Olie oweral.  Selfone is morsdood sonder teken van ‘n sein. Verslaenheid by al vier insittendes.  Wat nou?

Hoofstuk drie: Ons bespied die omgewing met verkykers en sien in die verte iets anders as die kaal haaie niks van hierdie verlate stuk Karoo. Dit lyk soos dakke. Dakke beteken huise. Huise beteken mense. Mense beteken hoop.  Maar hoe kom ons daar?

Hoofstuk vier:  ‘n Motor wat beter dae geken het, verskyn uit die niet; hou stil. Ja, hulle het plek vir een. Dié kan saamry tot by die huise op die horison. Daardie een is toe Johan, die enigste vrywilliger.

Hoofstuk vyf: Op die grootpad teenoor die huisies klim hy uit. Stap ‘n taamlike ent en kom by die huisies. Dis plaaswerkers s’n.  Die opstal lê ver doei kant toe, beduie hulle. Maar sien hy die fiets daar teen die muur?  Ongelukkig nou nie ‘n saal nie, maar Johan kan hom leen.

Hoofstuk ses: Johan val in die pad, staan-trap die hele tyd en bid stilletjies.  Sy kragte raak min. Voor hom sien hy ‘n huis maar sy blik raak wasig – ‘n seker teken van lae bloedsuiker. Om hom is niks.  Wat kan hy doen?  Maar net nog vinniger bly trap. Hy bereik die werf. Gelukkig staan die agterdeur oop. Sy bene swik onder hom.  Val-val stort hy oor die drumpel.  ‘’Ek is ’n diabeet,’’ prewel hy.

Hoofstuk sewe:  Soms waak jou engele oor jou. Die boervrou was ‘n verpleegsuster.  Sy herken die simptome en weet wat om te doen; jaag Johan ‘n klomp suiker in.

Hoofstuk agt: Ons ander drie sit in die kar en wag. Doodbekommerd. Weet van niks.  Geen motor kom verby nie.  Geen teken van lewe nie.  Toe ‘n beweginkie voor in die pad.  Dis, dank Vader,  die boer se dogter en Johan in ‘n bakkie.

Hoofstuk nege: Danksy die boer se seinversterker maak ons kontak met ‘n gemeenskaplike vriend in die Kaap. Hy stuur dadelik sy dubbelkajuitbakkie. Word toe ‘n ontspanne aand doer in Brandvlei om ‘n gesellige vleisbraaivuur.  Die Karoolam se tjoppies is so voortreflik dat Mariza voortaan al haar skaapvleis net by een plek koop.

Hoofstuk tien: Laataand sien ons ligte soek-soek op die grootpad. Ons bakkie.  Uiteindelik vind die bestuurder die hek. Ons groet ons redders uit die nood soos ou bekendes.  In die vroeë oggendure ry ons Melkbos binne.

 

GRATIS GESKENK – ‘N STORIE VAN HOOP

‘n Geskenk wat hopelik vir mense hoop kan bring. So noem ek graag die beskeie e-boekie wat ek vandag namens die Van Deventers GRATIS vir een en almal aanbied.
Vir eers is die “storie van hoop” bedoel vir ’n nuwe generasie ouers wat hulle in dieselfde bootjie bevind as die een waarin ek en Tokkie in 1972 tot ons algehele verslaenheid beland het toe ons eersteling, Johan, op ses maande oud uit die bloute as diabeet gediagnoseer is. Vandag, 50 jaar en seker 60 000 inspuitings later, is die nimlike Johan sterk en gesond: ’n voorbeeld van wat met goeie beheer, dissipline en toewyding bereik kan word.
Ten tweede is die boek vir almal wat dink dat hulle uit ‘n ervaring van ander hoop kan put. Ten derde is dit vir almal wat dit graag wil lees, om watter rede ookal. Welkom, mense.
Dis ‘n plankdun boekie wat in ‘n japtrap gelees kan word. In die 50 of wat bladsye (foto’s ingesluit) word nietemin ‘n intieme lig gewerp op Johan se lewe op insulien: van kleins af toe diabetes by ‘n baba ‘n ongekende ding was wat dokters laat skarrel het, deur skool, universiteit en in sy volwasse lewe.
Die boekie wemel van vreemde insidente. Dit vertel onder meer hoe gade Tokkie – die “heldin’’ van die verhaal, aldus ‘n bevoegde waarnemer – haar seun met ‘n goed gemikte skop uit die hande van ‘n duiweluitdrywer bevry het, hoe sy incognito saam het hom ‘n veldskool bygewoon het, hoe ‘n onderwyser hom met byna noodlottige gevolge op ‘n uitstappie in ‘n badkamer op ‘n universiteitskampus vergeet het, en hoe sy hond, ‘n staffie met die naam Novo (dieselfde as sy insulien) sy lewe op ‘n donker aand gered het.
Die onbedagsaamheid en onbegrip by sommige word gelukkig deur wonderlike ondersteuning deur briljante geneeshere en andere uitbalanseer.

 

 

 

 

 

😊😊Heelwat humor is in die boekie opgesluit, soos die juffrou wat van skrik op die naat van haar rug beland het nadat Johan weens ‘n lae suikervlak in sy bloed in haar klas snaaks begin optree het, en hoe sy ma in ‘n verkeersknoop in ‘n sneeustorm stukkies ontbytkos moes fyn kou en in sy mond dwing.
Diabetes mellitus het Johan op vreemde, uitdagende en soms beperkende paaie gelei. Dit het hom nie ’n slegter mens gemaak nie. Verreweg nie. So skryf ek. Ek dink (hoop) dat die boekie hierdie woorde onderstreep.
Die e-weergawe is GRATIS by die aanlyn-boekwinkel van De Novo Uitgewers van Langebaan beskikbaar. Die skakel is https://www.denovowebs.co.za/books-2/. Lees dit aanlyn. Laai dit af. Versprei na goeddunke so wyd as moontlik, met komplimente van die Van Deventers.
Dank aan De Novo Uitgewers vir die versorging en hantering.
Die ooreenkoms in die name Novo-insulien en De Novo Uitgewers is – anders as in die geval van Novo, Johan se stoere staffie – net ’n gelukkige toevalligheid.
FOTO’S: Voorblad van die boek, Johan en sy ma, Tokkie, op sy 40ste, die skrywer en sy onderwerp op sy 40ste en ‘n resente foto van Johan, sy vrou, Mariza, en hul seun, Migael.

‘N EIE D-DAG VIR DIE VAN D’S

By Johan se 50ste

Soos D-dag, 6 Junie 1944, ‘n dag van betekenis was, is Van D-dag, 7 April 2022, dit ook.

Eersgenoemde was ‘n sleuteldag in die Tweede Wêreldoorlog, en word ná amper 80 jaar nog herdenk. Laasgenoemde kry vandag eers in hierdie skrywe sy naam, maar is vir die Van Deventers van groot herdenkingswaarde.

By 7 April 2022 is in die dagboek ‘n rits inskrywings wat op ons lewens’ n D-dag-impak het.

Nommer een is dat seun Johan  Donderdag presies 50 jaar lank op insulien sal wees. Rofweg bereken, sal hy dan minstens  50 000 prikke agter die blad hê om insulien in te spuit, en vir  ander dinge daaromheen, soos bloedtoetse.

Johan: begin van die pad 

Die baken word bereik in sy 51ste jaar op aarde.  Hy was net ses maande oud toe hy raaiselagtig siek geword het en met diabetes mellitus gediagnoseer is – destyds (waarskynlik) die jongste geval ter wêreld.

Hy hou ‘n onbenydenswaardige waarskynlike wêreldrekord.  Geen geval is opgeteken van iemand wat in die loop van sy 51ste jaar reeds die baken van 50 jaar op insulien behaal nie.  HY het op 14 September 2021 50 geword,

Oor sy lewe op insulien kan baie stories vertel word: onder meer van talryke vreemde insidente uit veral sy kinderjare.  Een daarvan is hoe sy hond, Novo, vir hom een aand  ‘n lewensredder was soos die insulien Novo dit al lewenslank vir hom is.

Radelose artse het destyds nie herwaarts of derwaarts met die unieke geval geweet nie. HY was drie maande in die hospitaal terwyl gesukkel is om hom te stabiliseer. Ons is daarop voorberei dat hy besmoontlik nie 10 sou haal nie.  Wonder wat hulle sal dink as hulle hom vandag kan sien: spekvet en aktief. Hy bedryf ‘n groot trokwasonderneming op George.   Hy is ook baie betrokke by die Legacy Centre, ‘n skool vir kinders met spesiale uitdagings wat sy vrou, Mariza, bedryf.  Hul seun, Migael, is outisties.

Destyds het nie net SA dokters nie nie van ‘n jonger geval geweet nie. Ook by die bekende Joslinkliniek in Boston, VSA, wou ‘n Switserse dokter sy ma nie glo nie. “Ses maande?  Kan nie wees nie, mevrou?”

Sabiepark: In het beginne

Inskrywings twee en drie by 7 April is van twee aktiwiteite. In die Kaap tree die uwe en Tokkie op die lughawe Kaapstad aan vir die eerste skof van ons eerste lang Sabiepark-verblyf sedert die Covid –skrikbewind. Ons vlieg om 10:25 met Airlink se vlug NDBIXP na Nelspruit. As alles goed gaan, brand die aand ‘n vuurtjie by Tarlehoet.

Sabiepark is nou 24 jaar deel van ons  lewe. Minstens 50 onvergeetlike vakansies (of vier jaar in kalenderdae!) is al daar langs die Sabierivier in die skaduwee van die Krugerhek van die wildtuin deurgebring;  van die onvergeetlikste die alleenkuiers met kleinkinders.

Elke vakansie lewer sy spesiale gedenkwaardigheid op. Wat sal dit die keer wees? Weer ‘n luiperd op die stoep dalk? ‘n Mosambiekse spoegkobra by die braai? Vier hiënas in ‘n nagtelike eskapade in die watergatjie?  Hou die ruimte dop.

Op George word die gholfstokke geswaai en die gemeenskap se harte en beursies oopgemaak op ‘n spesiale gholfdag vir die Legacy Centre (kleinseun Migael se skool) hierbo genoem.

Die skool van hoop en BINAH (sy nie-winsgewende organisasie) het in 2021 sy 1ste golfdag  by die George-Gholfklub aangebied.  Rauch Gertenbach Prokureurs en Citadel was hoofborge.  Dit was ‘n dag van groot emosie. Spelers en rolspelers uit die Georgesakegemeenskap het almal wat by die skool betrokke is, oorrompel met hartlikheid en vrygewigheid.  Die fondsinsameling was ‘n reusesukses en die veiling agterna veral ‘n feestelike geleentheid.

Gholfdag 2021 en 2022

Rauch Gertenbach Prokureurs gedenk sy 100ste bestaansjaar vanjaar en vier dit o.m. met  ‘n spesiale liefdadigheidsgholfdag ten bate van Legacy Centre op Van D-dag.  Volgens Mariza is dit vir die skool ‘n enorme eer dat die praktyk sy hart in so ‘n mylpaal-jaar vir hulle  oopmaak.  Die Tuinroete se  sakegemeenskap omarm die skool ook weer eens en stel hom in staat om fantastiese pryse aan te bied vir die veiling.

Altesaam 17 outistiese kinders van so ver as Grootbrak en Sedgefield woon die sentrum by. Legacy Centre kry geen staatsbefondsing nie en is aangewese op donasies en fondsinsamelings soos hierdie.

Nog iets van 7 April: dit is die geboortedag van Tokkie se ma, Ouma Marietjie. Sy sou Donderdag 108 jaar oud gewees het, maar is kort voor haar 99ste oorlede.

  • Jan van Riebeeck het natuurlik op 6 April 1652 met drie skepe,  die DrommedarisReijger en Goede Hoop, in Tafelbaai geland met die doel om ’n verversingstasie te vestig. Vanjaar is dit 370 jaar gelede.  Gelukkig het hy nie ‘n dag later opgedaag nie. Op die dagboek-blad vir 7 April is werklik vir geen muis meer plek nie.

VEERTIG JAAR LATER

More uit Melkbos

Wat alles gaan deur ‘n ma se gedagtes as haar oudste kind die dag 40 word?

Op die hooffoto klink Tokkie en Johan ‘n glasie by sy 40ste op Woensdag 14 September op George waar hy, Mariza en Migael nou woon en waar hy ‘n karwas bedryf.

Die kleiner foto’tjie is van sy tuiskoms by Kmdt. Senekelastraat 33, Bloemfontein, rondom 20 September 1971.

In ‘n vorige blog het ek dit sy “eerste tuiskoms” genoem, nadat hy op ses maande terug is hospitaal toe met diabetes mellitus. Eers drie maande later, in die winter van 1972, was sy “tweede tuiskoms”. Toe kon hy al loop.

Op 7 April 2012 sal Johan 40 jaar op insulien wees – ‘n feit wat medici nogal verras. (HvD)

ONS SEUN WORD 40



Johan en Migael

Eerste tuiskoms

More uit Melkbos

Ons seun, Johannes Cornelius van Deventer, is op 14 September 1971 gebore, presies 30 jaar ná sy pa, wat weer presies 30 jaar ná sy pa gebore is. Aanstaande Woensdag sal ons in George ‘n glasie klink op sy 40ste. Ek ry spesiaal vir daardie edele doel by Nuy langs.

Die gewone bereiking van ‘n gewone 40ste is dit nie, want op ses maande na is dit ook sy 40ste herdenking van ‘n lewe op insulien. Toe Tokkie dit gister teenoor ons apteker op Melkbos laat val, kon hy dit nie glo nie. Veertig jaar oud en amper 40 jaar op insulien – nog nooit gehoor nie!

Op die foto bo is Johan (soos hy nou lyk) en Migael wat al tussen drie en vier jaar by Johan en Mariza is. Hy is in die proses om sy nuwe ID-dokument te kry as Van Deventer-kleinkind nommer vier. Op die foto onder is Johan en sy ma by die voordeur van ons huis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, by die eerste tuiskoms van die nuweling in die lente van 1971.

Ek sê doelbewus “eerste tuiskoms”. Nege maande later was daar ‘n tweede tuiskoms, omdat hy op ses maande, tot algemene verstomming, ook van medici oral, uit die bloute as diabeet gediagnoseer is.

Die gesukkel om die baba op insulien gestabiliseer te kry, het drie frustrerende maande geduur. By sy tweede tuiskoms kon hy al loop. Hy kon nooit kruip nie – daardie fase is woerts by hom verby terwyl hy in die babasaal in die Nasionale Hospitaal veteraan-status begin kry het, en die stad se senior kinderarts radeloos rondtas.

Daardie nooit kruip nie, kan besmoontlik aan verskeie dinge verbind word, soos ‘n onmoontlike lelike handskrif. Dalk ook dat bure van sy kleinseuntjiedae af verbaas was dat hy altyd op ‘n haastige drafstap was. Stadig loop is nou nog nie vir hom nie.

Ek ken Johan goed genoeg om te weet hy sal ‘n uitvoerige verslag van sy lewe en eienskappe, goed of minder goed, nie met welgevalle hier lees nie. Ek weerhou my daarvan. As jou eerste kind 40 word, en veral 40 teen die agtergrond soos hierbo geskets, kyk ‘n mens egter vanselfsprekend terug op die pad wat afgelê is. Dit sluit noodwendig in hoe diabetes, en insuliengebondenheid, sy lewe beïnvloed het. Dit was, om dit sag stel, in vele opsigte beperkend. In standard vier, vyf rond is sy ma byvoorbeeld saam buitelugskool toe. Sy het haar eenkant gehou, maar was naby as probleme sou opduik. Dit kon nie vir ‘n groot seun lekker gewees het nie.

Toe hy by die skool ‘n slag, soos ons dit genoem het, “lae suiker” kry, word sy ma dadelik ontbied. Toe sy opdaag, reageer hy al mooi op die glukose wat hom ingejaag is. Sy onderwyseres wat haar asvaal geskrik het, lê egter op die naat van haar rug in die siekeboeg. Die arme ding het haar “boeglam” geskrik!

Op ‘n skooluitstappie na die Vrystaatse Universiteit het lae bloedsuiker hom oorval. Die kind is op ‘n Vrydagmiddag in ‘n badkamer toegesluit, en niemand het hom gemis nie todat sy ma alarm gemaak het. Dit was hospitaalsake.

Een aand het hy in Bloemfontein nie van ‘n aandwandeling teruggekeer nie. Tot die polisie was later by die soektog betrek. Hy word toe opgespoor waar hy op ‘n sypaadjie omgekap het. ‘n Motor se ligte het geval op sy staffie, Novo, wat ontsteld by sy basie op en af spring. Novo was sy geskenk toe hy ‘n rukkie gelede op nuwe insulien, ook Novo, geplaas is. Daardie aand het Novo sy hond hom gered soos Novo die insulien vir hom al die jare ‘n lewensredder is.

Ek het Johan se drafstappie as tipies uitgesonder. ‘n Ander lewenskenmerk is hulpvaardigheid. Op skool al het hy sonder aarseling ‘n ma te hulp gesnel wat met haar baba van die pad in ‘n sloot gery het. Hy het die baba in sy ouma se arms geprop en toe die ma uitgehelp.

Hoeveel skildpadjies hy gered het en hoeveel pap bande hy vir wildvreemdes help omruil het, weet ek nie. Die ironie is dat juis hy wat altyd met die beste gesindheid vir enigiemand stilgehou het om te help, by ‘n lokval, nie ver van Atlantis nie, beroof moes word. Sy vrymoedigheid het seker ‘n knou weg.

As sy ma vir hom ‘n monument kon bou, sou sy dit oor o.m. hulpvaardigheid doen, glo ek. Sy energie wat in die vestiging van haar geskenkewinkeltjie Tokkie in Bloemfontein gestort is, was enorm – het selfs as student by veilings op ‘n kasregister en winkelrakke gaan bie om die projek bekostigbaar te hou. Vermoed hy het dit meer geniet as om in die Privaatreg-klas te sit.

Van sy Ouma het ons ‘n mooi foto waar Johan haar soos ‘n mudsak mielies oor die skouer strand toe dra. Op haar 90ste het hy skielik die ingewing kry dat sy weer by die see moet kom. Dan voeg hy altyd dadelik die daad by die woord. Ek glo as Ouma (nou 97) haar herinneringe oor Johan begin uitpak, sal hoog op haar stapeltjie wees hoe hy altyd vir haar uit sy pad gegaan het.

Iewers lees ek hoe seuns op verskillende ouderdomme oor hul pa’s sou dink. Op 40 wonder ’n seun, volgens daardie weergawe, hoe sy pa ‘n sekere situasie sou hanteer het – Pa was altyd só wys … Hoe reg of verkeerd daardie teorie is, sal ek vir Johan moet vra. Een “wysheid” van sy pa was dat sy intense voorliefde vir en kennis van motors hom vir die motorbedryf uitgeknip maak. Soos sake maar hul beloop neem, het hy ander weë bewandel. Nou bedryf hy ‘n karwassery in George. Wonder hoeveel ander karwas-eienaars weet soveel van die wringkrag en dinge van die karre wat deur hul spuite gaan! (HvD)