VAL-VAL OP DIE VOORBLAD
Moet dit nie invryf nie; ek weet ek is nou met die RSG-onderhoud met die gedugte Ilze Salzwedel oor die kop geslaan. Opmerkings van dese en gene het my egter laat wonder wat ek sou wou vertel as dinge so verloop het dat ons meer oor boeke en minder oor koerante praat. .Om ‘n glimlag uit te lok, sou ek wou vertel van my twee boeke met ‘n val op die voorblad: Oos, Wes, Reismoles en Flaters en Kraters.
Op eersgenoemde voorblad is die vallende gedaante die uwe self toe hy op ‘n helikoptertog tussen New York en Newark verkeerdelik met vrou, kinders en bagasie by La Guardia afklim. Toe hy dit ontdek, omdraai en hôl vir die tuig met sy woerende skroef, tref hy knieghoogte ‘n ketting. Vir die gevolge kyk die foto. ‘n Mens sien daarop alles buiten die bloed.
Op die die voorblad van Flaters en kraters is die slagoffer Jean du Plessis, toe Burger-fotograaf. Ja, dis Nelson Mandela wat help red. Dis by Tuynhuys waar Du Plessis al so retirerend agteroor in die visdam beland het.
Ek sou kon vertel van my boekie (let wel “boekie”) Mayafudi. Die hoofkarakter is ‘n olifantbul Mayafudi. Hy beleef brande, vloede, droogtes, stropery en wat nog … en reageer in woede. Later vind hy sy verlore seun en vrede. My olifant dink en praat baie in my boek. Ook die ander olifante gesels lustig saam.
Die Volksblad gee Mayafudi toe vir Cecile Cilliers om te resenseer. Antropomorfisme, roep sy afkeurend uit. Antro…wat? Ek moet die woordeboek raadpleeg. Voorheen nie geweet dis ‘n aartssonde nie, maar toe weet ek.
Maar die foto’s is darem mooi, voeg sy by. ‘n Neersit soos min.
Toe “resenseer” ene Anton J. Jansen Mayafudi op Amazon die boek. Hy gee hom vier sterre en noem die lees ’n “fabelagtige ervaring”. Hy vertel: hy het vir sy volwasse studente in Taiwan soos hy lees die verhaal oorvertel, Hulle het aan sy lippe gehang. Hulle wou daagliks weet wat het hy nuut gelees oor Mayafudi se avonture.
‘n Mens mag mos darem spog ook,
Enkele “korreksies” sou ek wou aanbring: 1. My koerantverwante boeke tel nou al agt, nie ses nie; 2. Die Burger het nie meer eie verslaggewers nie, dis nou Netwerk24 se mense; 3. Ek sou aan jong lesers se smaak toegewings wou doen, maar nie t.o.v. swak taalgebruik nie.
Dan sou ek ‘n geheimpie wou verklap: dat wiele aan die rol is vir ‘n vir-oulaas-boek in hierdie jaar. Sela.
ENE ORE VOOR RADIO
Een van die aangename verrassings wat my tot dusver in 2025 te beurt geval het, is die uitnodiging van Ilse Salwedzel (oto) om op haar program Skrywers en Boeke te gesels. Ons gesprek word vanaand, Woensdagaand 7 Mei, uitgesaai. Die pogram begin om 20:00.Vir Ilse en haar keurige program heers oral net respek. Onder haar bekronings tel ʼn ATKVeertjie, ʼn Pica en drie Caxton-toekennings. Sy is in 2009 deur die FAK vereer met die H.B. Thom-toekenning vir ʼn besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek. My tydgenoot Johan van Wyk van Stop-van-Myne-faam het laasgenoemde in die 80’s verwerf. Dit is ‘n besonderse erkenning van ‘n besonderse bydrae.
Ilse skryf en vertaal ook boeke. Vier boeke en drie vertalings het al uit haar pen verskyn:Oor vanaand se gesprek sê sy: “Eintlik was die plan om op sy boeke te fokus. Maar toe praat ons heerlik oor koerante en lees en skryf en alles wat die meeste lesers na aan die hart lê. Julle moet dit eenvoudig luister!”
Hard soos ek probeer, kan ek nie onthou wat ek alles kwytgeraak het nie. Van minstens een die-ene-ore-luisteraar kan sy vanaaand verseker wees.
Ilse se volledige woorde:
In vandeesweek se Skrywers En Boeke gesels ek met die legendariese koerantman Hennie Van Deventer. Hy het ook al meer as 20 boeke geskryf, en eintlik was die plan om op sy boeke te fokus. Maar toe praat ons heerlik oor koerante en lees en skryf en alles wat die meeste lesers na aan die hart lê. Julle moet dit eenvoudig luister! Dis ‘n heerlike, onderhoudende gesprek met iemand wat sy storie ken, en wat beslis diep spore getrap het in die Afrikaanse mediawêreld.
Hennie breek ook ‘n lansie vir die sg. “nuwe joernalistiek”, en sê ou skool (lees: papierkoerant) joernaliste gee dikwels nie genoeg erkenning aan hoe moeilik dit vir hedendaagse redaksies is nie.
Ek het groot waardering vir ‘n mens soos Hennie Van Deventer wat bereid is om te erken dat daar vandag baie uitdagings is vir die van ons wat steeds ons brood en botter in die media verdien.