‘N TYD VIR TOT SIENS

More uit Melkbos

Behoede my tog van melodrama, maar in elkeen se lewe kom “laastes”. Die verskyning van “Lewensgroot en Groter” is in die uwe se lewe so ‘n “laaste”. ‘n Tyd vir tot siens.

Die boek met blogs oor mense in hierdie en ander ruimtes – ook ‘n blog oor Ton Vosloo wat voor sy 75ste op 29 September hier sal verskyn – is gister by my afgelewer. Die opgewondenheid was soos altyd. Die lekker van skryf het ook nog nie afgeslyt nie. Vir die uitdagings van bemarking sien ek egter nie op 72 meer kans nie, baie dankie.

Dankie aan die lesers van my pennevrugte vandat “Scoops en skandes” in 1993 by Tafelberg gepubliseer is – ‘n leeftyd van amper vier dekades gelede! Daardie lesers sluit vele vriende in wat teen wil en dank HvD-titels op hul boekrakke MOET vertoon.

My skryfwerk is in wese niks anders nie as joernalistiek. Soms goed gekamoefleer! Ek skryf oor mense en dinge; nie altyd in deernis nie, maar meesal met diepe waardering vir die waarde wat vriende, bekendes en selfs wildvreemdes op my lewensreis tot my ervaringswereld toegevoeg het.

Dankie vir die gewillige of onwillige onderwerpe wat tussen die omslae van HvD-boeke opduik.

Dankie aan e-boeke vir Afrika wat hier skuins voor die laaste vlagstryking vir “Spore in die bos” in Kindle-weergawe op Amazon laat verskyn het – ‘n heuglike “eerste” vir ‘n ou wat lank geglo het hy is met ‘n tikmasjien getroud “tot die dood ons skei”. Die virtuele era het my, soos op die agterflap van “Lewensgroot” vermeld, in ‘n stadium oor my toekoms in die perswese laat wonder.

Nou het ek ‘n Kindle in my laai. Ek voel soos ‘n kind met ‘n nuwe speelding as “Spore in die bos” so voor my oë op die skermpie voortrol. My olifant “Mayafudi” het inderdaad ver paaie gestap.

Ns. Dat Anton J. Jansen uit die verre Taiwan in sy resensie so mooi oor die wel en wee van ou “Mayafudi”skryf, was ook op die laaste skryfskof ‘n genoegdoening. Heerlike nagereg – ryk en lekker!

(HvD)

UIT MY BADKAMER

Middag uit Melkbos

Dis seker onbehoorlik om geheime uit jou badkamer te verklap. Jammer, ek kan nie die versoeking weerstaan nie.

Die nuus uit die klein vertrekkie is dat die uwe vanoggend ‘n omgekeerde 100-tal aangeteken het. Die skaal – so ‘n plat glasgevaarte – het op 99,8 gebewe, gebewe en toe gaan stilstaan.

Die eerste keer in jare is die uwe nie meer ‘n “honderdponder” (bedoelende eintlik 100 kilogram of meer) nie. Die sop-dieet uit Skukuza skop nou in. Dankie, ds. Carl.

Die voorneme is om die skaal net hier vas te pen. Nooit is ‘n lang tyd, veral wat ‘n groot man se massa betref. Maar HvD wil nooit, nooit, nooit weer 100 te bowe gaan nie – nie as dit in sy hande is nie.

Rietskraal is ek nog nie en rietskraal wil ek ook nie wees nie – kan ek waarskynlik ook nooit wees sonder intense verhongering en intensiewe oefening nie. Maar, mense, dis net ‘n plesier as ‘n toeknooptrui (oopknooptrui?) wat nou die dag nog om die bultende middel gespan het, nou so lekker los aan jou hang.

Dit maak die hele vasbyt-oefening die moeite werd.

In “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” (Tarlehoet, 2003) was die volgende versie:

Badkamerskaal

Net een skrale kilo
op die badkamerskaal
dis al wat Daan Drommel,
in ‘n week kon behaal;
toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
en vat in sy kelder
nog ‘n botteltjie wyn

‘n Belydenis: daai Daan Drommel is ekke. Dis my alter-ego, my non-de-plume.

Nou steek ek vir ou Dik Daan tong uit. En vanaand drink ek net weer ‘n glasie water met ‘n suurlemoenskyfie.

Die wyn kan wag .. maar darem ook nie vir altyd nie! (HvD)