FLIEK BY MY VOORSTOEP
Soos ‘n hond met twee sterte was ekke oor die helikopter-aksie vandeesweek hier by my voorstoep terwyl die internasionale rolprent Huntington op Melkbos geskiet is.
Nogal ‘n kawalt van ‘n ander wêreld as die internasionale fliekmakers op jou stukkie aarde toesak om ‘n aksierolprent te vervaardig. Op my drumpel as’t ware.
Die parkeerterrein hier neffens ons onder in Strandstraat was van vroeg – nog donker gewees – al die ene bedrywigheid met groot vragmotors en ander voertuie – plus twee helikopters wat rukke in die lug hang en dan weer wegwoer, en ‘n hommeltuig.
Selfs Strandstraat se onderpunt is gesluit. Ons arme Melkbossers kon nie naby kom nie. Die eintlike rolprentaksie was by Flamingostraat 13, twee strate suid van ons.
Een van die tonele behels dat ‘n hoofkarakter in die prent in ‘n helikopter van die see se kant na daardie huis vlieg. Hy spring uit die helikopter in die swembad. Hy hardloop daarna deur die huis tot op die strand, spring op ‘n waterponie (jet ski) en verdwyn oor die oseaan.
Die hoofrolspeler (Glen Powell) spring vervolgens selwers op ‘n waterponie en sit hom agterna. Pure James Bond. (Die ander sterre is Margaret Qualley.en Ed Harris.)
Waarom al die vragmotors nodig is, moet hierdie leek maar net raai. Een is gemerk “media”, Dalk moes ek rondom ‘n etebreek myself gaan presenteer het in twee hoedanighede: oud-mediaman en belanghebbende, naasliggende huiseienaar.
Solank ek net nie in die rol van ekstra gedwing sou word wat ook sulke waaghals-toertjies moes uitvoer nie. HvD op ‘n waterponie wat oor die Atlantiese oseaan skeer – watse kamee sou dit nie wees nie!
Die huis op die foto’s is buurman Dale Schreuder s’n. Die gras, vetplante en tuinmuurtjie behoort aan die Van Deventers. (Geen grondeise nie, asseblief.)