Nov 21, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Jy kon ‘n speld hoor val toe ds. Heerden van Niekerk sy treffende boodskap oor die vrugte van die Gees by die gedenkdiens vir Lize van Rensburg gistermiddag in die NG kerk Welgemoed inlei met ‘n huldeblyk uit die hart van haar man, Rudie, die skrywer.
In my amper 83 jaar het ek al my kwota gedenkdienste of meer bygewoon. Slegs by drie wat ek kan onthou, was daar huldeblyke, hetsy mondeling of skriftelik, deur die eggenoot wat alleen agterbly. Al drie was deur koerantmanne.
Voor Rudie s’n vir sy “fyn, klein, liefdevolle” Lize, was daar Johan van Wyk s’n vir sy Zandra en Piet Cillié s’n vir sy Bettie. Vir al drie langslewendes haal ek my hoed af vir ‘n uiters moeilike taak wat in uitdagende omstandighede met onderskeiding en waardigheid uitgevoer is.
Elke gedenkdiens het momente en elemente wat dit van elke ander onderskei en op grond waarvan jy dit in jou geheue liasseer. Rudie se huldeblyk aan sy sonskyn-vrou was so ‘n moment.
‘n Tweede onderskeidende element van die diens was die program of begrafnisbrief, soos ons dit in vorige tye genoem het.
Dat Lize ‘n sprankelende vrou en moeder moet gewees het, intens lief vir die mense om haar, vir die lewe en vir helder kleure (o.m. waar te neem in haar keuse van serpe en brilrame) tref ‘n mens dadelik as jy die kleurryke blad met sy vrolike blompatrone ter hand neem (foto). Felisitasies aan die ontwerper vir ‘n klaarblyklik raakvat-produk.
‘n Derde uitstaande kenmerk van die gryse, nat middag was vir hierdie Volksblad-man die getal kollegas uit die jare 70 en 80 wat die laaste eer kom betuig het. Ons was elf in totaal as ek nie mistas nie. In alfabetiese volgorde: André Brink, Ansie Welman, Deon Meyer, Emile Terblanche, ekself, Jan Bezuidenhout, Johan Coetsee, Philip van Rensburg, Rudie, Tobie Wiese en Tom Ferreira. Nogal merkwaardig, sou ek reken.
By die tee agterna in die kerksaal het dit in een hoekie amper soos ‘n redaksievergadering van doerie tye gelyk, as dit nie vir die kieries, ander sigbare of verskuilde mankemente, plooie en grys hare was nie . Tye stap aan.
Feb 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Jaco Marais van Die Burger se foto toe ek Wiets vir oulaas groet. Vir my is dit ‘n treffende foto. Dankie, Jaco.
Dat sy alma mater, die Vrystaatse Universiteit, hom nie raakgesien het vir ‘n eredoktorsgraad nie, was ‘n oorsig. So het ek vandag by my kollega en vriend sedert 1958, Wiets Beukes, se huldigingsdiens op Franskraal betoog. Wiets, oud-redakteur van Die Burger, is op 16 Januarie op 95 oorlede.
Oor die kranige koerantman het ek o.m. ook die volgende van die hart gekry:
Vir ‘n groot gros waarderende kollegas in Bloemfontein en Kaapstad was hy ‘n waardige rolmodel; ‘n klassieke voorbeeld van die volledige joernalis wat as verslaggewer, redigeerder, nuushanteerder en kommentator uitgeblink het. Sy joernalistieke waardes en sy swaargewig-bydraes tot die koerantwese was vir ons jongeres altyd bewonderenswaardig; ‘n ideaal om na te strewe.
Wiets was ryklik geseën met die eienskappe en talente wat die uitblinker-joernalis onderskei: hy was skrander, skerpsinnig en skeppend; hy kon kalm bly onder die kwaaiste druk, en sy oordeel was oorwoë en kerngesond. Hy was nie een wat blindelings met sy horings in ‘n braambos ingestorm het nie, maar het hom deur nugter besinning laat lei.
As jong verslaggewer het hy keurberigte geskep; nooit oordrewe woordryk nie, maar treffend en beeldryk. Sy beskrywings van derduisende Basoeto’s wat in kleurryke komberse uit die berge peul vir ’n volksfees of Londense pendelaars wat by ‘n brandende moltreinstasie deur die roltrappe as’t ware in die vlamme uitgespoeg word, was soos prentjies.
Geregtigheid was ‘n rigsnoer in sy hoofartikels by Die Burger en Dawierubrieke uit sy pen. Dat sy skrywes ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het in die soeke na ‘n politieke bedeling is onbetwisbaar.
In ‘n omgewing waar konflik gedy, het die flegmatiese Wiets konflik merkwaardig vermy. Sy menseverhoudinge was hoflik, warm en wellewend. Kollegas koester hul herinneringe aan die beskeie plat-op-die-aarde senior kollega wat ook saam jolig kon raak. By almal was hy gerespekteer. By almal was hy ook geliefd: die ”liewe Wiets”. Met vroue was hy die ware jintelman, altyd hiper-galant. Hy was lief om blomme te gee. Sommige gades van Persmanne wens dalk soms hul van was liewer Beukes.
Om vandag hier op sy geliefde Franskraal te kon staan en Wiets Daniel Beukes vir laas te groet, was ‘n eer en voorreg wat ‘n ou man se hart met dankbaarheid vervul en ‘n vogtigheid in die oë bring.
Oct 20, 2016 | Vars Blog

Johan en sy kleinseuns – betyds gewees om oupa te groet.
‘n Wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het ek Johan Russouw gistermiddag in ‘n huldeblyk by sy gedenkdiens in die NG kerk Bloubergstrand genoem. Hier volg die volledige huldeblyk:
Die einde van Johan Russouw het ontnugterend snel aangebreek. Sy naam was op die gastelys vir ‘n spitbraai van sy geliefde Probusklub – ‘n sosiale klub vir afgetredenes – gister op Melkbos. Pleks van ons vriend in lewende lywe te verwelkom, word ons toe gekonfronteer met besonderhede van sy roudiens.
Johan het net ses weke gelede verneem dat hy ‘n baie aggressiewe kanker het. Die laaste vier weke het hy by sy oudste suster, Denise, ingetrek waar hy deur haar en sy seun, Leon, versorg is. Hier is hy rustig in sy slaap oorlede, gelukkig in die wete dat sy dogter, Ronel, haar man, Martyn, en al drie sy geliefde kleinseuns betyds uit Engeland kon opdaag om hom te groet. Ook sy jongste suster, Alida, uit Pretoria.
Ons eer vandag ‘n wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het sy familie en vriende hom ervaar.
By Probus het Johan nie baie gepraat nie. Wanneer hy praat, kon jy luister. Hy het sy saak oorwoë, met rustige wysheid, gestel – nooit impulsief of voortvarend nie.
Die eienskappe van waardigheid, oorwoëndheid en wysheid is gou by hierdie seun van Darling raakgesien. Ná matriek op Jan van Riebeeck en graadstudie op Stellenbosch is hy Polisie toe. Via die Veiligheidspolsie is hy na die Nasionale Intelligensiediens.

Ek, Johan en Hennie Jonker. My huldeblyk aan Johan was my elfde. Die tiende was vyf maande gelede vir Hennie Jonker. Aardige gedagte.
Drie gesogte buitelandse plasings het gevolg. In 1974 is Johan vir drie jaar na die Londonse ambassade, in 1982 is hy vir twee jaar na Tel Aviv in Israel en in 1989 is hy na Parys. In die Franse hoofstad het hy die hoë eer te beurt geval om om die land se Binnelandse diens toe te spreek – een van die weinige buitelandse veiligheidsmense wat genooi is.
Tusssenin was hy in Suid-Afrika afdelingshoof met Europa en die Amerikas as sy verantwoordelikheidsveld. Hy was duidelik in die veiligheidshiërargie hoog aangeslaan. Die ervaring in die diplomatieke korps het hom verder geslyp en bygedra tot die aura van waardigheid, standvastigheid en gesag wat hom in later jare omgewe het.
Tot die einde was hy só. Hy is deur sy vele operasies vir sy skouer, ens. Sy kinders het hom later die “bioniese man” genoem weens. Deur dit alles het hy blymoedig gebly. Toe hy ses weke gelede die nuus kry dat hy terminaal siek is, het hy dit met onmiddellike berusting aanvaar. Hy het vir sy geliiefdes gesê dat hy ‘n goeie 74 jaar agter die rug het, en dat hy goeie kinders gehad het. Wat ‘n seën. Hy het nooit gevra nie: “Hoekom ek?”
Sy wellewendheid en warmte is wyd ervaar, ook hier aan die weskus waar hy In 1992 met vervroegde pensioen langs die Atlantiese oseaan kom aftree het. Eers in Bloubergstrand en later in Yzerfontein was hy en Eleanore met wie hy 44 jaar getroud was, sjarmante gashere met ‘n reputasie as uithaler-kokkedore.
Ná Eleanore se afsterwe in 2011 het Johan besluit om nader te trek aan sy seun, Leon, en sy suster, Denise. Hy het ‘n huis in Sunningdale gekoop. Vriendskappe in Probusgeledere het gedy. Weens sy belesenheid, skat van stories uit sy diplomatieke dae en prikkende insigte in sake van die dag was hy ‘n gewilde gas by almal se tafels. Waar gebraai is, was sy ywer, entoesiasme en betrokkenheid kenmerkend.
Met sy liefde vir goeie kos, was dit vir hom lekker om nuwe eetplekkies uit te snuffel vir uitstappies met vriende. By een só ‘n ete net ‘n jaar gelede het vier Probusvriende saam aangesit: Johan, Danie Grundlingh, Hennie Jonker en Sakkie Bruwer. Van die vier is net Sakkie, hier teenwoordig, vandag nog in die lewe. Ja, soos gras is ons dae ….
Die vreugde wat hy aan sy jaarlikse besoeke aan sy buitelandse kinders en kleinkinders gehad het, was aansteeklik. Hy was intens familievas.
Johan was ‘n groot man met ‘n klein hart. As kind was hy ‘n propperliese terggees wat sy susters al hul dae gegee het. As jongman was hy glo ‘n regte Casanova. Hy was ‘n sportman duisend: ‘n WP-atleet en ‘n sterke derduiwel van ‘n senter vir die Polisiespan.
Sy liefde vir atletiek en rugby het nooit verflou nie. Die WP verloor ‘n lojale ondersteuner. Hy was ook baie lief vir tuinwerk en vir lees, en het in ‘n stadium ‘n indrukwekkende boekery besit.
Dit is die wyse man wat sterk is, die een wat kennis het, wat werklik mag het, sê die wyse Salomo in Spreuke 24.5. Johan se boeke en liefde vir lees het van hom ‘n lewende bewys gemaak dat kennis mag is en dat ware kennis krag gee.
Rus sag, ons stoere, wyse, waardige, weloorwoë, wellewende en warme jintelman-vriend.