HULDE AAN “NANCY O”

IMGMy hulde vandag by die viering van kollega Nancy Oosthuysen se lewe by die Durbanville-gedenkpark:

“Nancy was Jan se vrou Nance, sy was Marina en Elsabe se ma Nancy, sy was Fred se skoonma Nancy, sy was Lexi en Christian se ouma Nancy. Sy was ook die Volksblad-familie se kollega Nancy.  So deel van die koerant, soos ink en papier, soos Nissa Vosloo dit sekuur stel. Opregte waardering dus vir die uitnodiging om haar vandag ook uit hierdie perspektief – die pers-perspektief – met ‘n laaste eresaluut te vereer.

“Hoekom heg ons koerantgarde aan Nancy Oosthuysen soveel waarde? Natuurlik oor ‘n marathon-loopbaan vol onderskeidings.  Sy het net bly inploeg en inploeg, al doer uit die jare 50. Ons eer haar ook vir iets anders: haar magnetiese manier om in almal se harte te kruip. Sy was ons kameraad. ‘n Rotsvaste steunpilaar. ‘n Warm uitreik-mens wat jou altyd sommer net laat voel het: die ondermaanse is darem ‘n gawe plek om te vertoef!

“Nà ‘n skof van meer as 30 jaar se uitblinker-diens onder die Volksblad-sambreel het Nancy in 1996 afgetree. Op 2 Mei 1996 het ek uit die Kaap vir haar in ‘n brief geskryf: “Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie in ‘n warm stoel in die subkantoor nie.” Ek het bygevoeg, en ek haal net twee of drie paragrawe aan (want Nancy was nooit lief vir lang gedermtes en lastige oorlope nie!):

“ ‘Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot sy hoogtes vandag. ‘n Mens wens jy kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (vir die oningewydes: dis opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy  …  (hierdie is belangrik) … ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het.

“‘Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens bied. Ons groet ‘n kollega soos min –  klein van gestalte maar groot van formaat.’

“Amper ‘n kwarteeu het verloop. As ek vandag vir Nancy weer ‘n tot-siens-brief moes skryf, sou ek vrymoedig alles in daardie skrywe van Mei 1996 kon herhaal.   ‘n Sterk naskrif sal egter moet bykom.

“Ja, inderdaad,  Nancy O – my kodenaam vir haar – was knap, dinamies, lojaal, propvol idees, deurgaans hardwerkend, pligsgetrou, kordaat, ferm en verbind tot kwaliteit – “alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag”, soos ek in Media24 aan haar hulde gebring het.  Maar Nancy was meer as net die somtotaal van hierdie lys voortreflikhede.

“Sy was ook ‘n uiters meelewende mens. Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, het haar belangstelling in die koerant en sy mense – háár ander familie  – nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – jonk en oud – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra. Selfs kinders en kleinkinders van kollegas het sy gekoester.

“n Tydgenoot, die letterkundige Jaap Steyn, ‘n verbete vrygesel, het haar in sy boek “Sonkyker” beskryf as “beeldskoon” en “immergroen”.  Die liewe Jaap kon, terloops,  gerus eienskappe soos “sprankelend”, “stralend”, “pikant” en “sjarmant” bygevoeg het, maar uit die lierwe kollega se mond kom, bygesệ, nie dikwels romantiese vleitaal nie.

“Ek leen by hom die beskrywing “immergroen” Nancy was een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid (soms ook ‘n tikkie ondeundheid en parmantigheid!)  dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om vir altyd jonk en fleurig te bly.  Helaas bly daardie geheim onontrafel en ‘n ewige jeug ‘n onbereikbare droom. Die sware dag het onvermydelik aangebreek. Op ouderdom 84 moet ons ons swaargewig-buks vir oulaas groet.

“Verskeie generasies is by hierdie gelentheid verenig daarin dat die vlag in hul harte uit liefde en respek halfstok hang. Dit sal vir lank nie weer vrolik kan wapper nie”.

 

 

 

 

‘N BOEKIE VIR BARBI

Barbi Maree in vrolike luim by ‘n Probuskuier op 20 September 2011

More uit Melkbos

Nou kap hulle in ons bos, sê ons 70-plussers gereeld vir mekaar. Nou kap hulle in ons ry, hoor ek deesdae meermale by porture.

Oor dié kappery het ek in 2009 ‘n boek geskryf, “Byl in my bos”. ‘n Mens ontdek skielik amper met ‘n skok hoe oop dit om jou raak, skryf ek daarin.

Die gevoel van verlies wat jou beetpak, word in my boek genoem; spyt oor verhoudings wat afgekap is; belowende vriendskappe wat onvoldoende ontwikkel is, gesprekke wat in die lug bly hang het. “Verwyte knaag oor versuim, onnadenkendheid, ‘n versoenende woord wat nie betyds gespreek is nie, of ‘n verskoning wat agterweë gebly het.”

Tot so ver “Byl in my bos”.

Hierdie week is hier op Melkbos inderdaad in ons ry gekap. ‘n Dierbare vriendin, Barbi Maree, eggenote van Jacko, bekende oud-LV, is binne ‘n maand van ‘n aktiewe, lewenslustige vrou tot ‘n sterwende gereduseer. Haar longe was onstuitbaar aangetas.

Ook in die geval van die liewe Barbi bestaan die addisionele hartseer van ‘n onafgehandelde taak.

‘n “Boekie vir Barbi” is die laaste dae in liefde saamgestel met goeie wense uit die hart van vriende in Probusverband op Melkbos. Probus is ‘n klub vir afgetredenes. Ons, die lede, vorm ‘n hegte vriendekring.

Tokkie was aan die spits van die operasie met die boekie. Elke Probusgesin het entoesiasties meegewerk. In boodskappies op vrolike, veelkleurige papier is getuig van haar vriende se diepe waardering en liefde, hul bewondering vir haar dapperheid en hul diepe hartsbegeerte vir nog goeie tye saam.

Jy kan lees van Barbi, die wonderlike gasvrou, haar sprankeling en sonnige glimlag, haar bekoorlike Duitse aksent, haar welsprekendheid en wat nog. Daar sou ook getuig kon word oor haar belesenheid, intense belangstelling en sterk insigte oor sake van die dag, warm hart vir mense wat swaarkry, ens.

Nietemin, Tokkie wat die boodskappies versamel en in ‘n vertoonlêer laat bind het, bel gisteroggend vir Jacko om te reël vir die oorhandiging. Sy bel omstreeks 10:15. Jacko tel op en deel die sombere nuus mee: Barbi is om 10:00 oorlede.

Die liefdesblyk van Barbi se vriende was, helaas, te laat. Die boekie gaan nou maar na Jacko: hopelik sal dit in sy sware verlies ook vir hom iets beteken.

Selfverwyt oor die tydsberekening kan nie juis bestaan nie. Met die uitvoering is nie gesloer nadat die idée Tokkie te binne geskiet het nie. Almal het onmiddellik gereageer. Feit is net: almal het geweet Barbi is uiters siek, maar niemand het naastenby verwag die dood is só voor die deur dat dit selfs dié projekkie gaan voorspring nie. Soos só dikwels gebeur.

Die dood kom soos ‘n dief in die nag, lees ons in die Bybel.

Natuurlik sien ek vir myself ‘n les in hierdie stukkie geskiedenis van Barbi se boekie opgesluit. Ek meen daar is vir almal lesse. Dis seker maar vir elkeen om te bepeins wat presies daardie les in sy of haar eie omstandighede is. (HvD)