HOND SOEK ‘N VROU

Hy / sy moet nog net kan praat. So sê mense van ‘n skrander hond

Rondom die jaar 2000 in ‘n soektog na die skranderste hond het die BBC (British Broadcasting Corporation) se basterbrak Pippin sterk na vore gekom.

Die halfpoedel-halfspanjoel met ‘n bietjie Ihasa apso in haar was ‘n uiters leergierige hond.  Geen toertjie was skynbaar bo haar vuurmaakplek nie.  Sy kon o.m.  ’n koffer oopmaak, pak, toemaak en dra, ‘n TV-stel afskakel, sokkies in ‘n rak bêre en klavier asook ‘n potjie skaak speel.  Sy het nie al die skuiwe geken nie, maar sy kon sekerlik die stukke op die bord  rondstoot.

Sy kon ook ‘n bromponie ry, die kersies op ‘n verjaardagkoek doodblaas en op ‘n brug sit terwyl sy ‘n sak met inkopies met ‘n stuk tou na bo trek.

Princess Jacqueline, ‘n Amerikaanse bulterriervan die 30’s , kon gaste verwelkom met ‘n vriendelike “hello”. As hulle tot siens sê, het sy genooi: “Call again”.

Die hond van Mabel Robinson van Maine had, volgens veeartse, stembande soortgelyk aan dié van ‘n mens. Die mees ambisieuse woord in haar woordeskat van sowat 20 was “elevator”.

Ben, ‘n pratende hond van Royston in Hertfordshire, Engeland, se woordeskat  was meer beperk.  Hy kon slegs een sinnetjie uitkry: “I want one”.

In 1946 besluit die BBC Ben is dalk materiaal vir ‘n goeie onderhoud. Hulle stuur ‘n span joernaliste en klankingeneurs.

Die gesprek het soos volg verloop:

Stephen Grenfell van die BBC:  Wel, Ben, het jy enige kleintjies.

Ben: “I want one.”

Grenfell: Dan sal jy eers vir jou ‘n vrou moet kry.

Ben: “I want one. “

Hul onprodktiewe gesprek het ten minste die  koerant Mirror in staat gestel om met ’n klassieke ponieblad-opskrif op straat te kom: “DOG TELLS BBC HE WANTS A WIFE”!

(Uit: ‘n Vriend vir altyd – Honderde Hondestories deur Hennie van Deventer, Human & Rousseau, 2000).