NATNEUS-NUUSMAKERS

In Die Burger kry hondeliefhebbers (ook enkele katliefhebbers) die laaste ruk ‘n goeie kwota stories oor geleerde troeteldiere wat ook as “nuusdraers”uitblink. Gelukkige mense lees hul koerant soggens horisontaal met komplimente van ‘n getroue “Wagter” wat as vaste roetine as karweier ootree van hek tot bed.
Van al die “nuushonde” (in ‘n ander sin as die gewone) – en daar is werklik baie – was Tina, ‘n Skotse skaaphond van Yzerfontein waarskynlik ean van die doeltreffendste waarvan ek weet. ‘n Kwarteeu gelede was sy voorbladnuus en het ook ‘n boek met “honderde hondestories”gehaal.
Elke oggend het die kompetente sewejarige teef vir haar baas , Hannes Jordaan, sy Burger by ‘n kafee soat drie blokke ver gaan koop. Sy het ‘n sakkie gedra met die koerantgeld en ‘n rekkie. Die eienares – wat eers gemeen het die hond is darem baie voor op die wa – het die geld geneem en die rekkie gebruik om die “binngoed” van die koerant vas te bind.
Tina was bedrewe met die delikate raakvat van haar vrag. Dit is sonder skeurtjie tuis besorg.
Vir Jock, ‘n Staffordshire-bulterreier van Boksburg van dieselfde era, was die gaan haal van die koerant in die posbus maar een van sy take. Hy het behoorlik gebokspring om ook ander opdragte va sy baas, Steve Calitz, uit te voer.
Hy het sy baas geroep as die telefoon lui, sy skoene uitgetrek en sy pantoffels aangedra. Hy kon help om kruidenierspakkies uit die motor te laai, en kon selfs, op versoek, ‘n paar note op die klavier druk. Hy het elke mens in die huis se naam geken. Word hy gestuur om iemand te gaan haal, het hy altyd met die regte een aan die mou teruggekom.
Geen wonder nie dat sulke natneus-nuusmakers gereeld die koerant haal met hul bedrewenhede. Hulle verdien ‘so n spesiale hondehoekie soos op die foto.

DIE HOND KOM TERUG!

IMG-001‘n Goeie hondestorie is ‘n joernalistieke treffer – ‘n paspoort tot die voorblad. Dit staan in my hondeboekie,”‘n Vriend vir Altyd – Honderde Hondestories” wat in 2000 by H&R verskyn het.

Vandag is weer in Die Burger die storie van Millie wat in drie dae 40 km geloop het. Maar hoe ver kan ‘n hond stap en hoe lank kan hy op sy eie oorleef?

In “Vriend” is die storie van Lekkie, ‘n swart staffie, wat na ‘n motorkaping op Krugersdorp met net die son, maan en sterre as enigste bakens na sy huis in die distrik Cornelia teruggestap het – 700 km ver. Lekkie het 18 maande lank sy huis bly soek.

Daar is ook die storie van die Kroasiese hond Teddy wat tydens Zagreb se blitzkrieg van sy eienaars geskei geraak het. Die hond het hulle opgespoor na ‘n swerftog van sewe maande oor ‘n afstand van 600 km – oor bree riviere met min brue wat nog staan en militere frontlinies.

Ja, dis nie net die kat wat terugkom nie!

VRIENDE VIR ALTYD

Kaptein die hond

hondeboek1

Middag uit Melkbos

Jy is my vriend, selfs meer as my broer. Jy is my beskerming, wanneer die winterwind koud waai. Jy is die een wat eerste deur riviere swem om seker te maak dat daar geen krokodille skuil nie ………..Jy is die een wat sal sterf om my te beskerm. Vir jou is liefde alles en alles is liefde.

So word die hond besing deur Credo Mutwa in Silwane – The Animal (Tales and Fables of Africa). Ek haal Mutwa se gevleuelde woorde aan in my hondeboek, ‘n Vriend vir Altyd – Honderde hondestories (Human & Rousseau, 2000).

Die tema van die boek is presies wat Mutwa beskryf. Die karakters is ‘n uitgebreide galery natneus-nuusmakers. Party sal tot in die verre toerkoms as hondehelde bewonder word. Die titel kom uit ‘n aanhaling van Rudyard Kipling: Hy sal ons vriend wees vir altyd, en altyd en altyd. Het dit een aand by Willie en Irna Hartzenberg op Hermanus in ‘n almanak raakgelees juis terwyl ek op soek was na ‘n titel vir die boek.

In een hoofstuk, ‘n Dawid vir Jonatan, word die rolle omgeruil. Die mens is daarin die held weens die opofferende liefde wat hy eweneens vir die hond koester. Soos ‘n hond vir sy meester alles sal opoffer, so dryf die mens se liefde vir ‘n getroue hond hom immers ook tot ongewone dade. Soos kapt. John Seeley nou in Kimberley met sy redding van Kaptein uit die Groot Gat, waarin die stomme hond dae reddeloos rondgeswem het. Dit is ‘n ‘n storie van ‘n hondevriend se heldedaad wat in ‘n Vriend Merk II baie bepaald prominent ‘n plek sou vind.

In Vriend Merk I is een voorbeeld van die mens se heldedade vir honde waar dassietonnels met laaigrawe oopgekloof word om ‘n verdwaalde hond te red. In ‘n ander word ‘n noodoperasie op ‘n hond met ‘n biltongmes uitgevoer. ‘n Man voer in ‘n derde in ‘n modderige plaasdam ‘n stryd op lewe en dood met ‘n krokodil wat sy hond gegryp het.

Miskien minder dramaties, maar nie minder aangrypend nie, is die liefdevolle versorging van ‘n jong diabeet van haar hondjie wat dieselfde siekte opdoen, of die liefde van ‘n arm vrou wat liewer self honger sal gaan slap voordat sy haar honde afskeep.

Die redding van Kaptein was voorbladnuus, nie net in Suid-Afrika nie. Al die ander stories hierbo kom ook uit koerante. Eersteklas joernaliste weet goed hoe belangrik vir hul sogenaamde “mix” stories is wat nie siddering en gebelgdheid nie, maar ‘n warme gevoel van weldadigheid (sonder die ge-) om die hart bring.

Hondestories staan naby aan heel voor in daardie ry. (hvd)

TON RED ‘N HOND

Orin Scott se vrolike prentjie van ‘n nagtelike petalje in Northcliff

More uit Melkbos

Ton Vosloo is een van daardie mense wie se naam jy maar op ‘n koerantplakkaat kan sit. Noem selfs net die naam “Ton” en almal sal dadelik weet van wie jy praat (soos Mandela en ook, in vorige tye, Naas!).

Wat miskien nie so wyd bekend is oor Ton Vosloo nie, is dat hy op Saterdag 29 September sy 75ste verjaardag vier. “Ton al 75?” hoor ek in my verbeelding mense vra. Maar natuurlik hoef ‘n mens nie op 75 jou vonk te verloor het nie!

In elk geval ek weet dat vir die bakenverjaardag van my jarelange vriend, kollega en baas uit allerlei oorde verrassings beplan word. Ek sal nie geheimpies verklap nie. My eie hulde is vervat in die eerste hoofstuk van my blogboek “Lewensgroot en Groter”” onder die opskrif “Onverskrokke verspieder”.

Die hoofstuk is, op sy beurt, wesenlik gegrond op my huldeblyk in die gedenkboek “Ton van ‘n man” wat by Ton se 70ste op 29 September 2007 in beperkte oplaag uitgereik is. Ek plaas dit vervolgens graag op my blog, in twee opeenvolgende aflewerings:

ONVERSKROKKE VERSPIEDER

AMPER 35 jaar gelede het ek die eerste keer ‘n ietsie oor Ton Vosloo geskryf. Dit was vir “Beeld” se huisblad, ná ‘n nagtelike eskapade met die bure se brak.

Een nanag in Mei 1978 word ons jong redakteur – nou al lank voorsitter van Naspers en op die drumpel van 75 – gewek deur ‘n gedoef-doef wat knaend aanhou. Dit tref hom dat die geluide kom uit die rigting van sy Northcliff-bure se swembad – nogal agterdogwekkend in ‘n Transvaalse winternag.

Ton wikkel hom in sy kamerjas, spring oor die heining en kom af op die arme brak – al gedaan gespook om uit die greep van die Kreepy-Krauley se seekat-arms te kom. Onse held spring dadelik in die yskoue water in en red die dankbare hond.

Dié anekdote word nie opgerakel as kapstok vir ‘n ontleding van Ton se affiniteit of gebrek daaraan vir die ordinêrste variasie van die spesie canis, die gewone werfhond, nie (al sou ‘n mens dié persbaas se lewenslange vrugbare verhouding met die spesie nuushond dalk vindingryk met daardie heldedaad kon verbind!)

Nee. Ek glo daardie insidentjie is relevant omdat dit lig werp op eienskappe van die man wat deurslaggewend in sy latere verrysenis was. Ons leer Vosloo ken as die onverskrokke verspieder wat hom nie deur heinings sal laat stuit om te weet presies wat in sy wêreld aangaan nie, en as die energieke doener wat berekend sy doel najaag, kom wat wil.

Hierdie vreesloosheid het hy ook in sy kantoor in die lelike ou “Beeld”-gebou in Doornfontein geopenbaar. Hy het vinnig soveel energie, dinamiek en broodnodige dissiplines in daardie sukkelende nuwe dagblad van die Pers gepomp dat dié weldra op koers kon kom. Ton Vosloo het daarmee as’ t ware nog ‘n potensiële verdrinking in die Noorde gestuit!

Ek sal nie daarop roem dat ek die eerste of een van die eerstes was wat die besielende redakteur van “Beeld” as uitstekende opvolg-materiaal vir Lang David de Villiers geïdentifiseer het nie. By ‘n laataandbraai langs die Zambezirivier op ‘n weermaguitstappie in 1982 (gedenkwaardig gemaak deur Twakkies Laubscher van “Beeld” se nagtelike stormlopie rivier toe om sy Skotse watertjie met Zambezi-watertjies te verdun) het ek egter kollegas nogal met dié insig verras.

Kort daarna, op 1 Maart 1983, is Theunissen Vosloo as adjunk aangestel. Hy het nie weer teruggekyk nie.

* Vervolg in ‘n volgende blog in hierdie ruimte.

`N VRIEND VIR ALTYD

Hy tuur oor die hawe …

Blommetjies by sy graf.

Môre uit Melkbos

Slim honde, sjarmante honde, skattige honde … ondernemende honde, onverskrokke honde, onhebbelike honde … dan ook nog doodgewone honde wat, met permissie gesê, skoon bedinges kan raak. Dis die klas natneus-nuusmakers waaroor ek in “`n Vriend vir altyd” (Human & Rousseau, 2000) geskryf het.

Net soos by mense, moet jy nie in een hond al die beste eienskappe soek nie. Just Nuisance, die Deense hond, waarvan `n fiere, lewensgetroue bronsbeeld al hondegeslagte lank oor die hawe van Simonstad uittuur, is een “vriend vir altyd” wat op vele onderskeidende eienskappe aanspraak kan maak.

Verlede week was ek nie net by Just Nuisance se beeld nie. Ek was ook langs sy netjiese graf op die kronkelpad oor die berge Scarborough se kant toe. Iemand het proteas daar gelos. Al was die blomme al verdroog, was dit `n mooi huldeblyk. Ek was spyt ek het met leë hande gekom.

Just Nuisance het in sy kort lewe van gewone matrooshond tot internasionale hondelegende gegroei. Daardie merkwaardige lewe van hierdie unieke gelukbringer van die vloot in die Tweede Wêreldoorlog word ook in die Simonstadse museum en elders op die dorp uitgebeeld, onder meer in die sakesentrum op die karaktervolle Jubileeplein, die Deen se laaste staanplek.

Die ou grote met die slobbergesig was volwaardige lid van die vloot: ‘n bevare seeman op die betaalstaat van die H. M.S. Afrikander. Van: Nuisance. Naam: Just. Hy had, soos die ander matrose, sy eie slaapbank. Ongematigdes is gou uitgesleep!

Nuisance is dikwels saam met sy matroosmakkers van kroeg tot kroeg. Oral is ook ‘n drankie uit sy eie “kroegbakkie” geniet. Hy kon sy drank vat. Kyk ‘n makker te diep in die bottel, was dit hy wat hom veilig by sy kaserne of op die laaste trein besorg het. As `n inspekteur die hond uit die trein boender, het hy eenvoudig die volgende een gehaal. Die tydtafels was blykbaar aan hom bekend!

`n Keer is hy saam met ‘n matroos na George. Sy terugtog was te voet. Toe `n makker in ‘n Kaapse stegie met `n mes aangeval is, het hy by `n taxidrywer in Adderleystraat hulp gaan soek. Hy is saam met die gewonde in die ambulans hospitaal toe – het sy gesig bly lek en verseg om pad te gee totdat sy maat, na verskeie bloedoortappings, buite gevaar was.

Hy was `n hond vir seremonie en lief vir parades. Wannneer “God save the king” aangehef is, het hy luid saamgeblaf – na bewering in perfekte harmonie. Wederstrewiges tydens die verpligte tweeminuut-bidpouse elke dag is deur hom bestorm en tot gehoorsaamheid gedwing.

Ook maar hond, ook maar lus. Twee nakomelinge is in Benoni verwek. Hul ma was die teef Adinda. Hul aankoms in die Kaap was vir jou `n okkasie. Lede van die Griekse koningsgesin, ambassadeurs en die burgemeester was aan weerskante van die strate. Daar was vlae, rooi tapyte en golwe van applous.

Soos elke legende wat sy sout werd is, was Nuisance geen engeltjie nie. Hy kon hom bloediglik vererg. Dan AWOL hy sommer drie weke. Hy het weerstand gebied wanneer hy by klubs uitgegooi word, kleiner gelukbringers van ander skepe gebyt en sy halsband telkens verloor.

`n Foto waarby Tokkie op Simonstad lank stilgestaan het, was van Nuisance in `n hosptaalbed, omring deur verpleegsters. Die voorpoot is uitgestrek vir `n bloedoortapping of iets. Ja, die ou was ook maar net vlees en bloed.

Soos gras is ons almal se dae. Op 1 April 1944 – sy sewende verjaardag – is bevare seeman Just Nuisance in die skeepshospitaal die genadedood gegee. Hy is met volle militêre eer ter ruste gelê, gedrapeer in die vlag van die vloot. Sy graf is netjies reggemaak en word waardig onderhou.

`n Poot-saluut vir jou, baas se honne. (HvD)