GRATIS ADVIES VIR DIE LAAN

Môre uit Melkbos

Weet nie waarom wroeg die Hillside Times se mense so in 7de Laan nie. Die hantering van sy penarie is tog vanselfsprekend: `n hoofberig op die voorblad waarin die omvang van die misleiding, bedrog en kwaadwilligheid van die hele aanslag op hom volledig oopgevlek word, ‘n aankondiging dat hy `n klag by die Polisie indien en onmiddellik `n onafhanklike ondersoek gelas na die hele nare spul, plus `n onvoorwaardelike apologie aan almal wat kon skade gely het weens die berekende onderduimsheid van die slinkse bedrieërs.

Hierdie advies kom kosteloos – hvd is een van daardie merkwaardige spesie: `n konsultant wat verniet werk.

Weet ook nie hoekom waag draaiboekskrywers hulle aan koerantsituasies sonder om koerantekundigheid in te roep nie. Hulle laat hulleself net onbeholpe en simpel lyk.

Vir laasgenoemde sal my advies egter geld kos as hulle op Melkbos sou kom raad vra! (hvd)

‘N KOEKELIEKOE OM 6:30

More uit Melkbos

Anton Goosen het ‘n liedjie gesing met woorde in die volgende trant: ” ‘n Vroumens is ‘n slegte ding, ‘n slegte ding, ‘n slegte ding …”

Lyk amper of die liedjie in antisipasie geskryf is oor wat nou in 7de Laan aan die gang is (ja, ek kyk nog, vir my sonde).

Die arme “Mince” was met sy deli goed op pad. Hier kom Bonnita met haar duistere agtergrond. Ai, ai, ai. Die arme “Mince”.

Dan sit hy boonop met die warkop Hilda as regterhand!

Eintlik is dit nie soseer die deli wat hierdie kyker se tone laat krul nie. Dis die Hillside Times. Oor daardie simpele koerantjie se wan-funksionering het ek al voorheen verbysterd hier kommentaar gelewer.

Maar dit gaan van erg tot erger.

Aggie, die “super char”, is nou ‘n besturende redakteur van formaat. Los alles vir haar: van redaklsionele spertye tot trae adverteerders. Die bekwame voorvrou vat raak en vat reg. ‘n Klein wonderwerkie, sou ek haar wou noem. Die word “klein” is egter ontoepaslik – letterlik en figuurlik.

Dan maak sy nog so tussen in trefferjuwele, beur die verdrietige Isabel op en sorg in die algemeen toegewyd dat Hillside se moreel hoog bly.

Neville is ‘n redakteur om uit jou hart te bejammer. Waar is Mandla tog? Want die ligsinnige Paula is ‘n ramp, en die katterige San-Marie is ‘n ondergewig-liggewiggie, ook in haar boonste verdieping.

Een ding darem. Ek kan aan van die land se voorste rubriekskrywers dink wat haar die kuns sal beny om net “stokkies” met nuwe rubrieke aan te dra … sommer vyf op ‘n slag, terwyl T & T Lukie-loos ronddobber en die sweet in die gimnasium rol.

By my afskeid by die Pers, vroeg 1998 het die volgende woorde uit my mond op die spyskaart verskyn: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte kollegas te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees.”

Die arme Neville sal nie soortgelyk kan getuig nie. Hy sit waarlik op die verkeerde tyd op die verkeerde plek met die verkeerde mense, ongelukkige drommel.

En Tim? Hy pas baba op in Singapoer, die wegloper!

Hoekom het die onbekookte, ongeloofwaardige en papierdun mallemeule van mallighede my dan so beet dat ek elke aand om 6:30 die TV aanskakel?

Moet seker Clara wees. Sal darem lekker wees om met die oulike nooientjie te kan koekeliekoe (as dit naastenby die ding se naam is) ja! (HvD)