KAAL BENE

P1020048

Vleis groei nie terug aan kaalgevrete bene nie. Met die harde werklikheid  maak hiënas klaarblyklik maar moeilik vrede.

In Maart is ‘n kameelperd op ons motorpad dood – ouderdom of dalk ‘n slangbyt. Sy beendere lê tussen die tamboties gesaai. Tot aan die einde van die vakansie het hiënas steeds hoopvol kom kyk of daar nie weer iets te aas is nie.

‘n Ontdekking ‘n week of wat gelede is dat ook kameelperde nog in lewe graag besoek bring – nie as ‘n hulde-ritueel nie, maar om die oorblyfsels van hul bloedverwant te kou.   Lekker magnesium in daardie bleek beendere opgesluit, aldus die kenners.

Die vleisfees in Maart moet iets ysliks gewees het. Buiten die kaal bene het die sparretjie-heinings om die lapa’s  daarvan getuig. Knaagmerke was oral. Een  hekkie is total verinneweer.  Blykbaar gemeen die paaltjies kan nuttig as  tandestokkies ingespan word, reken Tokkie.

Die kleur en tekstuur van dammetjie se water verklap dat dit waarskynlik as yskas moes dien. Die sluipende lywe wat die lig van die “gorilla” aktiveer, dien ter stawing.

Drie nagte by Boulders was ‘n heuglike hoogtepunt.  Twee klipspringer-parades, groot olifanttroppe wat vier, vyf keer ‘n dag besoek bring, buffels soos tampans om die watergat en, les bes, twee resident-muskeljaatkatjies  by die braai het die kameras laat oortyd werk.

Vier klipspringers woon in die rotskoppies om die kamp. Twee keer het hulle hul tuiste verlaat en in ‘n ry in die natuurlike voëlbadjie vlakvoor ons oë kom drink.

Orpen2 was selwers weer ‘n heerlikheid, Maar die Kollegemanne is nou almal hier rondom 80. Op die oomblik heers nog onsekerheid of die tradisie ‘n 8ste jaar sal kan beleef.

By Tarlehoet was die bloukuifloeries amper nog aktiewer as die hiënas. Hulle het kom smul aan die reuserosyntjies, kom drink uit die watergat (ook in die kinders se plastiekdammetjie) en kom bad in die voëlbad. Mooier foto’s van die pragvoels is nog nie hier geneem nie. Gekroonde neushorings, tarentale, fisante was goed verteenwoordig in die reënboognasie van die gevleueldes.

Njalas het meermale hier rondgestap en ook uit die watergat gedrink.  By die piekniekplek het ‘n kameelperd en rooibokkies ons verras deur  by die olfante se plek in die Sabierivier te kom drink.

Ons peetkind Jaco van Wyk en die tweeling, Bernard en SJ, kon die paddas in die watergat identifiseer en het telkens een gaan uithaal vir ‘n fotosessie.

Die hoeveelste Sabieparkvakansie was dit? Moet al in die omgewing van 50 wees. Vyftig of nie vyftig nie  – weer eens het die tyd hopeloos te vinnig gevlieg.

ANDER SOORT STOEPSTORIE

VuurvreterOns eet by die ronde tafel op die donker voorstoep. Die muurliggie se gloeilampie het die gees gegee en die enigste lig kom van twee outydse lanterns. Tokkie hoor ‘n geritsel en gryp haar flitsie.

Toe sy die lig na regs swaai, sien ons gelyk die ongenooide gas op die stoep. Net vyf meter van ons voor ons slaapkamervenster.

Ons krete stuit hom gelukkig. Hy steek in sy spore vas en swaai druipstert om.

Tokkie staan op en gaan span die ketting by die trappies langs die swembadjie. Dit was meneer se diskrete roete.

Skaars 45 minute is ons op pad bedwaarts. Dieselfde intimiderende figuur verskyn skielik voor die slaapkamer se skuifdeur – en die staan boonop halfpad oop vir vars lug.  Weer galm skrikmaak-krete uit twee kele.  Weer blaas ons gas  sondermeer die aftog.

Kort daarna klink ‘n jammerlike protes uit die omgewing van die watergat op. Lank en aanhoudend. Toe die flitslig op hom val, duik die hiëna agter die takke in en sluip weg.

Al weer Tarlehoet se stoep. Vyftien maande gelede het ‘n luiperd daar kom intrek.  Gelukkig in ons afwesigheid. Voorheen het ‘n hiëna al ‘n plassie daar gelos, ‘n kussing geskaai en vroegoggend voor die slaapkamer se skuifdeur kom grynslag terwyl ek op my oggendkoffie wag.

Twee besoeke in 45 minute is egter ook nou weer ‘n ander soort stoepstorie.

Altyd gedink die ketting is voldoende beskerming teen ongewenste indringers. Nou besef ek hoe verkeerd ek was. Hiëna se kind het net sy krom rug nog krommer getrek en hom onder deur gewurm.

Wat nou? Tokkie dink ‘n klokkie aan die ketting is die antwoord. Die vreemde geluid behoort gewis twyfel in ‘n normale hiëna se gemoed te saai. En die stoepsitters betyds te waarsku.

‘n Klokkie by jou voordeur – dit is in elk geval tog maar die beskaafde wyse vir gaste om hulle aan te meld, of hoe?

(Buiten vir die vorige stoep-insidente hier in Sabiepark  het ‘n vuurvreter al aan ons braaivuurtjie kom ruik, het vier van die dierasies in ons watergat rondgeplas blykbaar agter kos aan wat hulle daar kom berg het, en het ‘n ou met ‘n sterk kakebeen in ‘n wilde stoeigeveg met ons asblik gate in die metaal geskeur.)

WILD IN DIE NAG

Middag uit Melkbos

Diere kyk terwyl jy slaap. Dit is die raak beskrywing van skoondogter, Mariza, van ons nuwe Sabiepark-plesiertjie met die bespiedkamera wat aan ‘n haak-en-steek by ons Sabieparkse watergatjie gemonteer is.

Ons Hollandse vriende Gert en Caroline Pols wat ons op die spoor hiervan gebring het – hulle s’n het nou in hul afwesigheid raaiselagtig van hul muur verdwyn – noem dit ‘n “trapcam”. Op die boksie van die ingevoerde LtL Acorn-5210a sien ek dat dit ook as “game camera” bekend is.

Hoe ook al, die stewige buks neem outomaties beweging af, en is veral snags ‘n aanwins. Jy sien ten minste wat op jou werf aangaan terwyl jy salig in droomland verkeer. Onder meer ‘n luiperd, hiënas en ‘n muskeljaatkat het al voor die Polse (van Gwarrieboslaan) en die Australiese trefferskrywer Tony Park (van Maroelalaan) se kameras verbygestap.

Die eerste twee aande kon hierdie tegnologies-ongeletterde nie kop of stert van die nuwe speelding se geheime ontsyfer nie. Die frustrasievlak het gevaarlik hoog in my gemoed opgestu. Maar met e-pos-raad van die kenners, die avontuurlike betrokkenheid van die agtjarige tweeling Jacob en Thomas en verskeie doelgerigte probeer-en-tref-slae van die uwe se kant kry ons die kamera se oog aan’t flonker.

Die eerste aand met die kamera in posisie neem ons net die swaaiende arms van die proefkonyne (dis nou Jacob en Thomas) af. Verder lewer die nag se oes ‘n paar mooi stillewes van die watergat.

Die nag van 3 Januarie, my 72ste, sluip ‘n haastige hiëna om 22.08 verby. Die volgende aand om 22:26 kom ‘n spannetjies sebras water drink. Dit ontdek ons teen 06:00 in Oupa en Ouma se kooi toe die tweeling ingestorm kom, hoogs mededingend oor wie se beurt dit is om die foto’s terug te speel.

Die sebras se besoek val plus-minus saam met steune en kreune uit die kinderkamer. Jacob kry nagmerries. Hy’s ‘n seun met humorsin – lekker gelag toe sy oupa hom inlig sy nagmerries was sebramerries.

‘n Dag of wat later kom ‘n (insomniese) hiëna daarlangs (om 02:45). Die kamera tel hom mooi op. Ook die sebras maak weer ‘n draai, hierdie keer net ná sonsondergang (om 19:00). Die kamera neem ‘n halfuur lank lustig foto’s – heel sebras, halwe sebras, voorkwarte en agterkwarte.

Dalk klink die eerste proeftyd se oes nie so indrukwekkend nie. National Geographic, of selfs die SABC se 50/50, sal nie juis oor hul voete val om HvD se geheuekaart te bekom nie. Maar glo my , daardie Acorn dra ná 15 jaar in Sabiepark – ‘n Duisend Dae Langs die Sabie, soos in my voorlaaste boek se titel – ‘n nuwe element by met die potensiaal om nog baie vreugde tot Sabiepark-kuiers toe te voeg.

‘n Stukkie waardevolle advies: Moet net nie vergeet om die kamera aan te skakel voordat jy jou te ruste wend nie ….

(hvd)