BEELD: DAG DER DAE
“Heut’ ist der Schönste Tag in meinen Leben”, sing Joseph Schmidt in sy 1935-treffer. Op skool in die 50’s aan Volkies, Potchefstroom, was die lied ‘n staatmaker op plate-aande in die skoolsaal.
Van ons Volkies van daardie era het gewonder en nogal daaroor kopgekrap hoe ‘n mens aan een dag uit die derduisende van ‘n gemiddelde lewe so ‘n unieke etiket kan omhang.
Toe kom Sondag 15 September 1974 – vandag (Sondag 15 September) 50 jaar gelede. Daardie dag is die dagblad Beeld – wat op Maandag 16 September sy buiging gemaak het – effektief gebore,
Dit was dalk nie die “Schönste Tag” in my 83 jaar op aarde nie; wel ‘n uitsoekdag wat ek nooit sal vergeet nie met hope opwinding, spanning, afwagting, en ‘n mengelmoes van emosies wat in die kop gemaal het.
As nuusredakteur was die nuusinhoud van die koerant op my skouers. Ek en my span wat gelukkig voorslagte soos Jack Viviers en Max du Preez ingesluit het, is die mense wat sou moes rekenskap gee as ‘n mededinger ons die Maandag met ‘n plaaslike (Transvaalse) storie sou platloop.
Sê nou net iewers was ‘n gesinsmoord of iets dergeliks wat lesers beroer en Beeld het dit misgevat? Die vrees was vlak in my gemoed todat ek Maandag vroeg-vroeg in Randburg stoep toe is om die Rand Daily Mail en Die Transvaler te gaan optel en vinnig die opskrifte op hul voorblaaie te spoedlees.
Toe die heerlike verligting: ons scoop – Troepe oral op die (Mosambiekse) grens – wat politieke beriggewer Alf Ries by PW Botha losgewikkel het, was loshande die storie van die dag.
Waarom die bruisende opwinding? Hier was ‘n droom besig om voor ons oë verwesenlik te word. Jare se beplanning, stryd en verbysterende uitgawes het tot ‘n hoogtepunt opgeloop toe adv. Lang Dawid de Villiers die rolpers se knoppie druk en die magtige masjien kreunend tot aksie oorgaan om van slierte skoon papier ‘n koerant te maak.
Ons spannetjie, ingedruk in die beknopte ruimte van die drukkery, was die pioniers wat ‘n historiese oomblik sonder weerga in die Afrikaanse koerantgeskiedenis beleef.
Verbeeldingvlugte, strategiese dinksessies, proeflopies – alles was iets van die verlede. Die uur van waarheid het geslaan.
Waarom die spanning? Wel, koerantmense sal weet. Hulle weet immers dat ‘n koerant so goed soos sy kontakte is. En hier was ons, die nuwe outjies op die hoek wat nog sulke basiese bronne soos die polisie, brandweer en lykhuise moes leer ken en bande vestig.
Rome word nie in ‘n dag gebou nie. Vertroue moes oor ‘n tydperk gewen word en verhoudings moes tot stand kom. Selfs die gevaar van doelbewuste bevoordeling van ‘n jarelange kontak was ‘n wesenlike gevaar. Die een hand was mos maar die ander.
Op die foto is ek en Johan Holzapfel, eerste hoofsubredakteur, die “verwagtende vaders” wat in die fabriek staan en kyk hoe die eerste voorblad deur dagskofvoorman André Smit geplak word. Dalk verbeel ek my, maar ek dink tog dat ons al drie se gesigte iets van die gewigtigheid van die oomblik verraai.
Watter loutere vreugde om dan vandag, 50 jaar later, daardie dag der dae in herinnering te roep en in kameraadskaplike kollegialiteit ook met al die generasies wat na ons gekom het, ‘n glasie vonkelwyn op ons geliefde koerant te klink. (Op die glasie is gegraveer: Beeld25.)
Hoe jammer oor die “druppel gal in die soetste wyn” op wat net ‘n jubelende feesdag moet gewees het. Maar daaroor praat ons liefs later weer.