Oct 10, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Waaroor gesels die versameling gemaskerde artse en wie nog almal rondom jou prostrate liggaam in die teater terwyl hulle aan jou boor, saag en timmer?
In my geval, gister ‘n week gelede in die Panorama Medi-Clinic, het die gesprek by hengel gedraai, en hoe harde werk die stokperdjie kan wees. Jy moet vroeg roer, hoor, as jy ‘n vissie wil inkatrol!
Ander onderwerpe het by my verbygegaan. Was toe in ‘n diepe droomland. Onthou net dat ek in die arms was van die kleinste verpleegstertjie wat ek nog gesien het toe die spinale blok toegedien is. Hoop sy het my sagkens neergele.
Daarna eers weer begin kennis neem toe ek die onheilspellende geluide uit die rigting van my regterheup begin optel. Boor? Saag? Ek is nie seker nie, maar dit het luid ge-grrrr. Dit is gevolg deur ‘n onmiskenbare doef-doef-doef. Die nuwe heuppotjie is klaarblyklik met ‘n paar stewige rapse met ‘n hamer afgerond.
Voel in elk geval stewig genoeg!
Naskrif: Die foto hierbo het ek op Facebook gesit met die volgende pardodie op die liedjie oor die rooi rok voor die deur:
Hier’s ek wee, hier’s ek wee
met my hups heup by die see;
al slaan jy my nou drie maal op die kop,
dan staan ek op, dan kom ek wee …
tot langs die see.
(hvd)
Mar 10, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Desmond Tutu is bereid om sy persoonlike genoom met die wêreld te deel, “want ek vertel in elk geval altyd vir almal oor alles myself.” Heeltemal só openhartig is ek nie.
Dus: geen verduideliking oor hoekom ek nie langer Woensdag ingaan vir my heupvervanging nie. Die operasiedatum word tot Oktober/November verskuif. Dis al.
Voldoende om verder te laat val dat ek intussen die Groot Stryd teen Gewig aandurf.
Ek eet klaar soos ‘n mossie, drink soos ‘n kameel – net een keer per week (indien wel) – en beur met my stram litte wind-op op verpligte wandelinge om die blok.
Die skaal staan beskuldigend op die badkamervloer by die deur. Kan die bleddie ding nie miskyk nie, al wil ek!
In die aanloop tot die abortiewe heup-chirurgie het ek ‘n paar dinge geleer – oor myself en my eie broekbewerigheid oor sake soos narkose, waakeenhede, lang wit kouse, kateters, en dies meer. Ook oor die vreemde weë van mediese fondse.
Moet sê wat van die sogenaamde “spaarfonds” verhaal word en waarvoor die fonds opdok, bly vir hierdie waarnemer ‘n verrassingspakkie. Elke verrekening wat op die rekenaarskerm verskyn, lok verbaasde krete uit.
“Kyk, Tokkie, vir hierdie bloedtoets betaal die fonds jou werklik!” “Ai, kyk net hoe roei hulle nou weer ons spaarfonds uit met daardie plate!”
Iets om voor fyn dop te hou, is “prosedures” waarvoor glad nie betaal word nie. ‘n Reeks verskillende kodes verklap die redes. ‘n Kode om spesiaal voor lig te loop, is daardie een wat aandui dat ‘n bepaalde “lyn” nie gelees kon word nie.
Aan die arme, verwarde siekefondslid word te kenne gegee dis weens ‘n swakheidjie op die faks wat ontvang is. Ek wonder soms of dit nie is wanneer die betrokke amptenaar sy/haar oë geknip het nie.
Siekefonds het merkwaardige uitsluitings, het ek opnuut geleer nadat ek as jong vader al verbaas was dat vir my seun se insulien betaal word maar nie vir die spuitjies waarmee dit toegedien moet word nie. Vraag: hoe kry andersins jy die goed in jou lyf?
Nou het ‘n soortgelyke probleem opgeduik met die sement (gom?) waarmee ‘n porseleinkroon aan ‘n gebreekte tand geheg word. ‘n Goue kroon is goed en wel – vir daardie sement (gom?) word gewillig opgedok. Maar met die porselein-weergawe moet jy klaarblyklik maar ‘n ander plan maak.
Toe ek my verbasing daaroor luidkeels te kenne gee, bel ‘n vername jong man om “alles mooi vir die oom te verduidelik”.
Uit die staanspoor vererg ek my toe. “Kyk, man, ek is 70 maar nie onnosel nie, hoor!”
Só sukkel ons kommunikasie voort totdat ek gebelgd by hom wil weet: “Waarmee sit ‘n mens dan jou krone vas? Met spoeg?”
Hy het my ‘n antwoord skuldig gebly. (HvD)