Dec 18, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Kleinkinders bak in die somerson langs die lawende swembadjie. Kyk hoe groen is die wereld.
More uit Melkbos
Hierdie stukkie is spesiaal vir welmenende Kaapse vriende wat bly hamer op die monster-temperature wat in die Laeveld op ons wag.
Mense, glo my ons Sabieparkse “Kerskous” bult elke Somer-Kersfees met geskenke sonder weerga wat ‘n kwistige moedernatuur bos toe bring: die groen-groen somergewaad; die grasweelde; die plate klein bokkies; die bonte voëlverskeidenheid (enigste tyd van die jaar dat die Bosveldvisvanger roep); die verkwikkende donderbuie, die windstil-aande om die kampvuur.
Weet julle watter hartsplesier dit is as die hemele oor die Bosveld oopskeur en die reën in ondeurdringbare grys vlae neergiet? Die harde donderslae, bliksemstrale en gietende reën is nardus-salf vir die gees. Kan tot drie, vier keer in die twee weke rondom Kersfees gebeur.
Ná só ‘n bui begin die dankbare veld dadelik lewe. ‘n Koor van tjilpe, kwetters en kwake klink op. Die vreugde en dankbaarheid wat mens en dier verenig, is meesleurend. ‘n Mens hoor as’ t ware hoe die bos groener word – ‘n jubelgroen gloriebos.
Weet julle hoeveel ander dae is heerlik bewolk? Een keer net twee dae op ons hele besoek werklik warm sonskyndae beleef.

Moedersmelk. Die plate roobokkies is ‘n sepsiale somerplesier.
En dan? Dan kuier ons die warmste ure om in ons bos-swembadjie en geniet die sebras, wildbeeste, selfs koedoes, wat in ons watergatjie neffens die huis hul dors kom les.
En snags? Dan woer-woer die groot dakwaaiers bokant ons beddens. Hou selfs die muskiete weg.
Ons bring vanjaar ons dosynste Kersfees in Sabiepark deur. Niemand dwing ons nie. Dis uit eie vrye keuse.
Trouens, ons sien reikhalsend uit na elke besoek. Njannies.
Wederom tot 2016. Geseënde Kersfees en so aan. (hvd)
Aug 19, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Bols en bitterballe het ‘n ruk gelede in hierdie blog ter sprake gekom, en terstond heelwat hoofsaaklik private kommentaar uitgelok, meesal in die kategorie kwinkslae en nie altyd noord van die gordel nie.
Geldige vrae is ook gestel. Hoekom word ‘n bitterbal ‘n bitterbal genoem? Het dit ‘n bitter smaak? Só wou sekere belangstellendes weet.
Laat my eers net weer sê: dat ek uit die Nederlandse stadjie Deventer aan die Ijssel kom, kwalifiseer my nie as kenner van Nederlandse geregte nie. Ek gee my nie as een uit nie. Ik ben een domkop! Maar ek het al die goeters by Nederlandse vriende geproe, hou van die smaak en het, soos alle joernaliste, “gewoonlik betroubare bronne” om my na te wend.
Uit daardie bronne verneem ek die bitter van daardie versnaperinkie het niks met die produk self te make nie, maar met die produkte wat graag saam geniet word.
Waar Nederlanders saamkom vir ‘n skemer-glasie is ‘n “bittertje” buitengewoon gewild. Dié verwys na Hollandse “jenever”, wat – aldus my bronne – nie met die Suid-Afrikaanse jenewer (of “gin”) verwar moet word nie. Die smaak verskil en dit het meer skop.
Saam met jou “bittertje” is ‘n bitterbal – ‘n gebraaide, gekruide vleisballetjie in ‘n bruin korsie, wat jy in ‘n geurige mosterdsousie doop – die aangewese peuselkossie. Ook by jou biertjie is dit allesbehalwe te versmaai.
Die bitterbal kom glo uit die dae van die Bataafse republiek, waarvan my generasie in die vak Geskiedenis geleer het. Die vroue van jagters het die oorskietvleisies saam met brood en water in balletjies geknie, en siedaar: die voorloper van die bitterbal, wat later deur die Spanjaarde verfyn is met die byvoeging van eier en die krummels van roosterbrood om dit ‘n krapperige buitekant te gee.
Vertel ‘n rasegte Nederlander vandag van daardie Spaanse invloed, en hy sal net snork. Wat hom betref, is hierdie “snack der snacks” (die oorspronklike word was glo “schnek”) só “origineel” as kan kom.
In elk geval, in Madrid of Barcelona sal ‘n kroegman seker skeef opkyk as jy bitterballe soek. Maar in Amsterdam of Den Haag (gewis ook in Deventer!) is ‘n bordjie bitterballe die inste van in-dinge saam met jou dop.
Ik heb gezegd. As ek verkeerd “gezegd” het, moet die Hollandse familie tog maar vergewe. Ek had nie ‘n verskuilde agenda nie. My Overijsselse wortels is ná meer as drie eeue nog sterk – en dis nou nie Bols nie! (HvD)
Aug 18, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Dis seker onbehoorlik om geheime uit jou badkamer te verklap. Jammer, ek kan nie die versoeking weerstaan nie.
Die nuus uit die klein vertrekkie is dat die uwe vanoggend ‘n omgekeerde 100-tal aangeteken het. Die skaal – so ‘n plat glasgevaarte – het op 99,8 gebewe, gebewe en toe gaan stilstaan.
Die eerste keer in jare is die uwe nie meer ‘n “honderdponder” (bedoelende eintlik 100 kilogram of meer) nie. Die sop-dieet uit Skukuza skop nou in. Dankie, ds. Carl.
Die voorneme is om die skaal net hier vas te pen. Nooit is ‘n lang tyd, veral wat ‘n groot man se massa betref. Maar HvD wil nooit, nooit, nooit weer 100 te bowe gaan nie – nie as dit in sy hande is nie.
Rietskraal is ek nog nie en rietskraal wil ek ook nie wees nie – kan ek waarskynlik ook nooit wees sonder intense verhongering en intensiewe oefening nie. Maar, mense, dis net ‘n plesier as ‘n toeknooptrui (oopknooptrui?) wat nou die dag nog om die bultende middel gespan het, nou so lekker los aan jou hang.
Dit maak die hele vasbyt-oefening die moeite werd.
In “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” (Tarlehoet, 2003) was die volgende versie:
Badkamerskaal
Net een skrale kilo
op die badkamerskaal
dis al wat Daan Drommel,
in ‘n week kon behaal;
toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
en vat in sy kelder
nog ‘n botteltjie wyn
‘n Belydenis: daai Daan Drommel is ekke. Dis my alter-ego, my non-de-plume.
Nou steek ek vir ou Dik Daan tong uit. En vanaand drink ek net weer ‘n glasie water met ‘n suurlemoenskyfie.
Die wyn kan wag .. maar darem ook nie vir altyd nie! (HvD)