Oct 26, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

In die verre Cambridge, Massachusetts, VSA, ‘n klipgooi van die karaktervolle Harvard-kampus, word die naweek ‘n fees gevier wat by ‘n hand vol SA joernaliste heerlike herinneringe na vore sal bring. Hulle is die klompie wat bevoorreg was om ‘n sabbatsjaar as Nieman Fellows by Harvard deur te bring.
Die fees is om die 85-jarige bestaan te vier van die Nieman Foundation for Journalists, ‘n stigting met die edel doel om joernaliste so halfpad in hul loopbane in die kans te gee om van spertye te vergeet en ‘n jaar in ‘n akademiese omgewing te kom rustig raak. Tot enkele jare gelede was ‘n Suid-Afrikaner gereeld een van die klas.
My geleentheid om Nieman Fellow te wees – ‘n joernalis se geleentheid van ‘n leeftyd in my oë – was in 1976/77. As ek die naweek se reünie kon bywoon, sou ek dus een van die veterane daar gewees het. Amerika is egter nie agter die bult nie en die dollar is duur. Dan is daar natuurlik die eindstryd in Parys. In Cambridge is nie DSTV nie.
Ek vier nou maar my eie klein reünie met ‘n herbesoek aan die dosynstuks foto-albums van daardie jaar. Foto’s van die skilderagtige Harvard-kampus, Cambridge se kleurryke Harvard Square, die Charlesrivier, my dapper Corona Merk II-stasiewa, sneeuwit Amerikaanse winters en bowenal, die sosiale verkeer met klasmaats het, helaas, die verlange na die verre alma mater en die lus vir die reünie net des te meer aangewakker.
“There is only one Harvard Yard in the whole world,” verklaar Barbara Westman in haar sketsboek The Beard and the Braid. Daarmee stem ek van harte saam. Seker ook al die ander Nieman Fellows nog in lewe, onder wie Naspers-kollegas Ton Vosloo, Tim du Plessis en Johanna van Eeden, asook Harald Pakendorff en Dries van Heerden van Perskor.
‘n Nieman-soewenier waaraan ek waarde heg, hang aan ‘n gedenkmuur in my studeerkamer. Dit is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Foundation se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap ewe ondeund aan die ander: “Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.”
By my gelukwense aan die huidige kurator van die stigting, Annmarie Lipinski, sluit ek ‘n afdruk van die skets deur ene Marlette, ‘n Nieman Fellow van 1984, in met die woorde: “It as a sentiment I understand and can easily identify with.”
Natuurlik is dit net by wyse van spreke. Maar dat dit ‘n weergalose jaar was. Is gedoriewaar.
Apr 28, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Stellenbosch die roep my en ek moet gaan. Vreemde woorde uit die mond van ‘’n geswore Tukkie?
Nou-ja, dis darem nie heeltemal waar nie. Nie Stellenbosch wat geroep het nie, maar die Matie-kleinseuns, Jacob en Thomas, se 19de verjaardag.
Ek en Tokkie is op geleide toere deur hul koshuise, Eendrag en Helshoogte. Sy het onder meer kennis gemaak met naamgenoot Tokkie, laasgenoemde se gelukbringer-hoender. Oupa moes erken dat die koshuiskultuur – veral die respek vir tradisie – hom imponeer. En wil jy glo: in Eendrag se binnehof staan twee groot jakarandas wat wil begin blom!

Moet ook erken dat Stellenbosch se Victoriastraat met sy erewag van akkerbome in hersfkleed ‘n skouspel is, die US met sierlike geboue kan spog en die skolebuurt langs die Eersterivier buitengewoon indrukwekkend is. Moet goed vir die siel wees om aan Gimmies, Bloemhof of Rhenish skool te gaan.
Dan die Fat Butcher in Van Riebeeckstraat – ‘n -biefrestaurant soos ek laas in Boston en Cambridge in Massachustts mee kennis gemaak het. Voortreflik verby met ‘n wonderlike atmosfeer. Net twee dinge: jy moet lank vooruit bespreek en nie sensitief wees vir pryse nie! (Gelukkig was skoonseun, Brent, die gasheer.)

Die mooi foto van die gesin Claassens is deur my in ons hoekie in die Fat Butcher geneem. Links sit kleinboet Christopher (14). Voor hom is sy melktert-nagereg nadat hy ‘n steak van 600 gram weggesit het. Die man is ‘n kranige flank.
Dat Jacob nou kitaar speel, was ‘n verrassing. Dis aan sy kamermaat te danke. Wat die foto saam met sy ouma, volgens sy ma, Marisa, des te meer merkwaardig maak, is die twee bossiekoppe so saam. Moet iets in die gene wees. Hulle glimlag ook ewe breed. Ouma was boonop in haar jeug ook ‘n musiekmens met ritse diplomas vir klavier
Jan 21, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Om ons swanesang ter see en eerste ervarings op ‘n vaart in een asem te noem, klink na ‘n contradiction in termino. Dit is egter nie.
Op ons vaart na Walvisbaai op die Sinfonia was die digte mis vir ons inderdaad nuut. Nooit voorheen op enige vaart is twee nagte lank deur sulke digte mis moes beur nie. Sig feitlik nul. Die bas skeepshoring het op die minuut uit ‘n growwe, diep keel waarskuwings uitgeblêr: Pas op voor, hier kom ‘n lummel met 11 dekke en plek vir meer as 2 000 passasiers. Vergeet van slaap in sulke omstandighede. Nessum dorma!
Terug in die Kaap Vrydagoggend was die mis so dig dat die hawe gesluit moes word. Twee uur lank moes die passasiers soos uile op ‘n kluit sit en wag om aan wal te gaan.

Nog ‘n eerste was ‘n skip met soveel ruimte om te beweeg. Met net 800 passasiers aan boord was selfs die hysbakke stil. Dikwels was jy die enigste gebruiker. By die buffet-tafels op dek 11 was die gewone gedrang vreemd afwesig. Aandetes was nie in die gewone twee sessies nie. Enige tyd tussen 18:30 en 20:30 kon jy gaan aansit.
Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. In 20014 was ons op wat toe die laaste vaart van die skip, in SA waters sou wees weer aan boord om afskeid te neem.
Maar die Sinfonia het weer na Suid-Afrika gekom: ‘n groter en luukser skip nadat ‘n nuwe middelstuk – ook met heerlike balkonkajuite – ingevoeg is. Vir ons was die vaart in balkonkajuit 9175 na Walvisbaai dus ‘n tweede afskeid van die sierlike skip. Maar nou was dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.

Elke ding het sy tyd en plek, soos die Prediker ons leer. Vir my en Tokkie was vaar ‘n vreugde en is talryke herinnerings oor dekades versamel – ook op vaarte na Sydney en Venesië en deur die Suezkanaal op skepe soos die ou Pendennis Castle, die Constellation, die Oceanos, die Queen Mary II – wat ‘n wonderlike skip! – die Sinfonia, die Opera en die Musica. Die drie vaarte op die Sinfonia was die meeste op een skip. Op die Opera was ons twee keer, die ander net een keer elk.
Vir al die skepe, bestaande en nie meer bestaande, hul kapteins en hul diensvaardige bemannings sê ons: Arrivederci en baie dankie vir die groot bederf.
Foto’s: Ons laaste vaart. Saam met ons is ons kinders Johan en Mariza van George.
Dec 6, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Liewe vriende
Stilletjies het nog ‘n Desember – Hennie se 81ste, Tokkie se 76ste en ons twee se 55ste saam – op ons afgekom. Hier is die einde van die jaar op ons. Tyd het aangebreek vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand.
Ons kyk terug met dankbaarheid vir gesondheid, lewensvreugde, plus-minus ons 50ste salige Sabieparkbesoek en heerlike ure op ons bankie langs die see, wyntjie in die hand. In verskeie opsigte was 2022 vir ons ons kinders en kleinkinders ’n bakenjaar. Ons is nou ’n gedenkwaardige kwarteeu lank trotse Melkbossers. Hennie is ‘n kwarteeu afgetree. Die tweeling is 18. Hulle maak matriek klaar en spog met rybewyse (en rygoed). Migael is 16. Christopher is klaar met laerskool.
Hennie is ingenome met erkenning deur sy skool, Volkies op Potchefstroom, in dié se eeufeesjaar. ‘n Skaars Alumnitoekenning is aan hom gerig as “’n lojale oud-Volkie wat hom op ‘n buitengewone wyse in die samelewing onderskei het” – 65 jaar ná matriek.
Vir Tokkie ‘n plesiertjie was dat haar granaatrooi Mercedes – nou 14 jaar oud maar met die aanskyn van ‘n splinternuwe – op die nippertjie by die matriekafskeid moes gaan red nadat twee ander veterane onklaar geraak het. Die rooi impakspeler het geskitter – so dink sy eienares (foto).
‘n Groot lewensskuif vir Johan, Mariza en Migael het begin met die koop van ‘n ruim, mooi huis aan die Wesoewer op Oudsthoorn (foto heelbo) as tuiste vir volwasse outiste. So begin ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe met Migael. Die plan is dat die Legacy Centre vir kinders op George moet voortleef en dat Johan sy ekonomiese aktiwiteite daar uit Oudtshoorn voorsit. Die tradisionele Groot Stap in George se Botaniese Tuin ten bate van die Legacy Centre was vanjaar weer ‘n besonderse okkasie.
In die huis van Marisa van Brent was dit ‘n vol jaar met yslike programme – tog darem ook ruim kans vir die gesin se voorliefde vir kamp.
Die tweeling, Thomas en Jacob, groet Stellenberg met hande vol bekers, pryse, eerbewyse en balkies. Albei het erekleure gekry. Thomas was o.m. die tweede jaar agtereenvolgens die wenner van die Rekeningkunde-Olimpiade van die Universiteit van Johannesburg. Jacob het, soos vyf jaar gelede in graad 7, die skoolhoof se spesiale pryse vir voortreflike diens aan die skool verower (foto).
Christopher wat in Oktober Nederland besoek het, groet Welgemoed Laer o.m. met die gesogte titel ”Mnr. Blessie” (foto onder), as eerstespan-rugbyspeler en as rasieleier.
Wat die nuwe jaar vir ons inhou? Wel, ek en Tokkie vier nog ‘n kwarteeu-baken. Sabiepark is op 15 Maart 2023 ‘n volle 25 jaar in ons besit. Ons vaar in Januarie saam met Johan en Mariza op die MSC Sinfonia Walvisbaai toe voordat hulle na Oudtshoorn trek. Die tweeling word Maties. Thomas gaan na Eendrag en Jacob na Helshoogte. Christopher begin sy hoërskoollewe by Stellenberg.
Dalk – net dalk – kom uit Hennie se pen ‘n laaste boek, weer met ‘n koerantetema.
Uit Penguin Place 11 ons beste Kerswense vir een en almal. Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.
Ons Nuwejaarswense kom uit Psalm 72:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
Hennie & Tokkie
Dec 3, 2018 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog


Liewe vriende
Desember is hier. Tyd vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand vir die jaar 2018.
Dit kon ‘n jaar van sombere nuus geword het met HvD se onverwagte viervat-hartomleiding en die langerige verblyf in die waakeenheid. Ook met George se verskriklike brande wat as’t ware tot by die voorstoepe van Johan-hulle se huis in Glen Barrie en skooltjie in Denneoord gekom het.
Gelukkig is daardie minder gelukkige dae sonder ernstige letsel by ons verby. Laat ons dus in dankbaarheid op die positiewe konsentreer:
Hier op Melkbos, op George en by Marisa-hulle in Welgemoed gaan dit relatief rustig en voorspoedig. Die foto’s is van gesamentlike kuiers, met die Claassense by Boulders in die Wildtuin en met die Van Deventers by Buffelsjachtrivier, ‘n gerieflike halfweghuis tussen Melkbos en George.
Op George word die uitstekende werk van Mariza se suksesvolle Legacy Centre vir kinders met uitdagings voortreflik deur die gemeenskap ondersteun. Saam met ‘n indrukwekkende lys borge is verskeie ambisieuse projekte geslaagd van stapel laat loop. Johan se trokwas-bedrywighede is vlot op koers, met goeie ontwikkelinge soos ‘n nuwe terrein vir sy Unitrans-kontrak (namens die skooltjie). Migael besorg sy ouers verrassings en vreugde met sy vooruitgang.
In die Kaap gooi Brent kragte in by die Hoerskool Stellenberg waar die tweeling in hul eerste jaar as Stellies al, akademies en andersins, spore getrap het. Hy is ‘n aktiewe lid van die beheerraad. Marisa het ná vele jare tuis ‘n oggendpos losgeslaan wat sy stimulerend vind. Thomas het as leier en skerpskutter-stelskopper ontluik. Hy en Jacob, ‘n gesogte klankman, laat met die bal die paaltjies spat. Kleinboet Christopher is ‘n uitblinker met voordrag en herwinning.
Ek en Tokkie sien uit na ‘n somerbesoek aan Sabiepark, aanvanklik ‘n paar dae alleen saam met die flukse Christopher. Daarna kom die tweeling op hul eerste alleen-vlug, daarna Brent en Marisa. Die swembadjie daar is nuut geverf. Lyk spiekeries. Ons gaan hom behoorlik inwy. Ná Sabiepark gaan ons kennis maak met die MSC Musica op ‘n vaart in Mosambiekse waters. Vaar op die oseane word blykbaar ‘n familieding. Johan en Mariza was pas op die Musica. Die Claassense is geskeduleer vir April.
Die Julievakansie was buitengewoon gedenkwaardig. Drie aande in die private kamp Boulders saam met die Claassense was salig verby. Die tradisionele saamtrek van studentemaats uit die Kollegetehuis-era (nou College met ‘n Engelse C) was, presies 60 jaar ná ons eerste jaar in 1958, ook baie besonders hoewel, helaas, dalk die laaste in huidige vorm. Ons word nie jonger nie.
Vir my en Tokkie was dit ‘n voorreg om verskeie goue bruilofte en groot verjaardae van kollegas en vriende te kon bywoon. In die proses kon ons in Bloemfontein en op haar heimat, Bultfontein, gaan kuier en op my ou Wes-Transvaalse spore terugloop. Welaangename herinneringe. Onvermydelik gebeur dit ook al hoe meer dat ons vriende moet groet. Die jongste was ons dierbare Bloemfonteinse buurvrou vir baie jare, Annette van Rensburg. Sy en Tokkie was baie na aan mekaar.
“Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”, dalk my laaste boek, dalk ook nie, het nie juis die boekewêreld aan die brand gesteek nie. Die boek het tog wel vreugdes gebring, soos ‘n uitnodiging na die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT), vriendelike resensies soos deur boeke-ghoeroe Danie Botha op Fine Music Radio en Litnet, ‘n besoek aan NALN in Bloemfontein, en ‘n in-diepte-onderhoud met Herman Lategan.
Wat die uwe nogal plesier gegee het, is dat ‘n foto wat ek jare gelede van die Van Bredagesin van bylmoord-faam in Sabiepark geneem het, dwarsoor die voorblad van Die Burger geplaas is – die eerste keer in my koerante-verbintenis sedert 1958 dat so iets die ou man te beurt val.
Tokkie het, ná die onderbreking om (met onderskeiding) heeltydse verpleegster te speel vir haar kranke man, teruggekeer tot haar voltydse aktiwiteite van “manager of works” by Penguin Place en Melkbos-biblioteek se kampioen-leser.
Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense vir een en almal. Laat ons strewe tot die maksimum-kontak in 2019.
Hennie & Tokkie