NOG 10 GOEIE JARE

Op ‘n tyd het ek en Tokkie groot vreugde daaraan gehad om vir mense na aan ons eie geskepte CD’s vir Kersfees te skenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens.
Ons twee het die snitte saam uitgesoek. Die knap Hildegard Martin van Melkbos het vir die res gesorg. Van ons vriende luister nou nog en laat weet getrou hoe hulle die musiek geniet. In 2016 het ons die praktyk ná 10 jaar gestaak.
In daardie jaar het ons drie bakens bereik: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag. Die tema van ons laaste CD was om klaarblyklike redes: afskeid. Die titel was een woord: Dankie.
Nou het 10 jaar verloop. Tien jaar! Vanjaar, 2026, bereik ons weer drie bakens: my 85ste, Tokkie se 80ste, ons 60ste. Eerste van die drie breek sommer more al aan, die laaste is 363 dae ver.
In die dekade het dinge nie stilgestaan nie. Buiten die veroudering in eie geledere bied die aktiwiteite van die Byl onder vriende nogal stof tot nadenke. Van die 100 gaste wat in ‘n tent op ons gras op Melkbos 2016 se bakens gevier het, is 28 al oorlede: amper 30 persent. Van die 72 wat oorbly, is ver van gesond.
Al is ek self deur ‘n operasie of twee en al loop Tokkie nou met ‘n hart-pasaangeër, al beweeg ek ook al hoe moeisamer met my onontbeerlike kierie, het ons steeds rede om oorvloedig dankbaar te wees.
Op die vooraand van bereiking van more (3 Januarie) se eerste baken van die nuwe bakenjaar se drie betuig ek graag ons dankbaarheid vir vele seëninge in presies dieselde woorde as in die binneblad-teks van ons 2016-CD; ek voeg net telkens die woordjie “steeds” by:
Ons het (steeds) heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens.
Kosbare verbintenisse verryk (steeds) elke dag ons aardse bestaan.
Ons is (steeds) diep dankbaar vir milde genadegawes – totaal onverdiend.
Ons gemoedere is (steeds) gevul met vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndheid. Ons kyk (steeds) vorentoe in biddende afhanklikheid.
Op hierdie CD – die tiende en laaste uit ons stal – is ‘n seleksie hartsliedere. Ons strewe was om met woord en melodie ons wye spektrum van emosies te verklank.
Daarmee sê ons (steeds) vir een en almal: Dankie.

ONS “GEHEIME WAPEN”

IMG-001Wat ‘n jaar was 1961 nie – vir Suid-Afrika; ook vir Die Perdeby, studentekoerant van Tuks!

Suid-Afrika word ‘n Republiek – ‘n lang Afrikanerdroom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond.  NGK-mense bots sterk oor apartheid by die Cottesloe-beraad. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus: Dr. Verwoerd, pres. C.R. Swart, dr. Anton Rupert, N.P. van Wyk Louw.  Elke keer is Die Perdeby op die toneel.

Komplimente vir ons koerant was volop. Die beste ‘By in sy jare op die kampus, was die mening van o.a. Piet Grobler, latere senior LV wat beroemd/berug geraak het oor sy openbare botsing met die konserwatiewe dr. A.P. Treurnicht.

Die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het op sy beurt laat hoor: “Die Perdeby het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar, ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

Natuurlik is ek trots dat ek daardie redaksie kon lei. Sy foto is een van dié uit my studentedae wat teen my studeerkamermuur hang. Links voor sit Joh Groenewald. Sien in vanoggend se Burger hy is sag heen op George. Was ook al ‘n 1939-kalwer.

Miskien is dit tyd dat ek ‘n geheimpie verklap: dat Joh – bekende filatelis van later jare – eintlik ons “geheime wapen” van daardie Perdeby was. Hy was toe al verslaggewer by Die Transvaler en ‘n knap leermeester – ook vir die redakteur.

Te laat – soos helaas dikwels maar die geval is –   wil ek graag vandag aan hom ‘n erkentlike buiging maak.  Joh Groenewald jy was in ‘n onvergeetlike jaar goud werd – vir my en vir ‘By.

EKSKUSE IN ALLER YL

Terwyl in die base se kantore by my ou werkplek, Naspers, seker op hierdie moment kwaai kopgekrap word oor die dodelike ope brief van prokureur Johan Victor, oor die Bird Island-gedoente, kan twee ligter storietjies oor Pers-verleenthede en die flinke reaksie daarop nie kwaad doen nie, meen ek.

Die eerste raak mev. Maria Malan, tweede eggenote, van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword (en 31 jaar jonger as wat hy was). Ockie Geyser noem haar in sy boek oor die vroue agter vorige leiers , amper eufemisties, “nie ‘n maklik mens nie”. Seker die dat Die Burger ‘n motor vol senior redakteurs so onverwyld Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ‘n”ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.

Oorsese reise was in die jare 40 nog ver van doodgewoon en die gebruik van koerante was om na elke reis van ‘n bekende oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer. Ook mev. Malan is om ‘n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die modehoofstad Parys gedink het. Mev, Malan se antwoord was saaklik: sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.

‘n Oorywerige subredakteur verander die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”.

Volgens koerantoorleweringe was die premiersvrou nie geamuseerd nie. Sy het wel darem eindelik die verskoning (plus ‘n duur ruiker) uit die redakteur, destyds Phil Weber, se hand aanvaar.

By (Die) Volksblad  is weer ‘n slag skeefgetrap met die Olimpiese hoogspringkampioen Esther Brand.  Dit was in die dae toe berigte nog in warm lood  deur vakmmanne geset is. By ‘n berig oor haar buitengewone atletiese vermoëns oor die dwarsbalk voeg ‘n ondeunde setter toe by: “En dan is sy boonop ‘n virgin”.

Die proeflesers lees dit mis. Die eerste uitgawe verskyn. Iemand in die sportkantoor lees die naskriffie en maak alarm. Maar te laat. Die vragmotor met die koerante vir Kimberley –  waar die waardige mev. Brand en haar man, Jan, destyds gewoon het, is reeds vort.

Selle storie as by Die Burger. ‘n Deputasie swaargewigte by die koerant word vinnig in ‘n motor gedompel en laat vat Kimberley toe. Skuins voor Dealesville sny hulle by die vragmotor met die gewraakte koerante verby.

Uiteindelik was hulle betyds om haar voor te berei op die skok en nederig om verskoning te vra.  Sy was inskiklik. Eggenoot Jan was egter erg gesteurd – soos enige viriele man in sulke omstandighede seker sou wees.

Wie daardie setter was, weet niemand tot vandag toe nie.  Sy fabriekskollegas en vakbond het soos oesters toegeslaan.

LAMLENDIGE APOLOGIE

Brief in Die Burger.

Brief in Die Burger.

 

Ek verwys die uitgewer Tafelberg graag na die verskoning wat die Sondagkoerant Rapport oor sy dwalinge met die Bird Island-sage op 16 April 2019 prominent gepubliseer het.

“Ons het ‘n fout gemaak,” het die koerant ruiterlik erken. Sy verskoning was inklusief en berouvol. Dit het eksplisiet ook lesers en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley ingesluit.

Daarteenoor is die apologie van die primêre sondaars (saam met die opportunistiese outeurs) flou, onvolledig en ontoereikend.

Die uitgewers erken dat sy “ gewraakte stellings nie onafhanklik geveriëer (kon) word nie.” Maar in sy apologie – duidelik versigtig regstegnies geformuleer – word in dieselfde asem sy verskoning “net beperk tot mnr. Du Plessis”.

Onmiddelllik ontstaan die vraag: kon die “gewraakte stellings” rakende Malan en Wiley wel dan op enige wyse “onafhanklik geveriëer” word? Indien wel, word dit deksels goed verbloem.

Of sou die “verifikasie” steun op slegs die vae bewerings van die naamlose Mnr. X wat een dag voorbladnuus was en die volgende soos ‘n groot speld verdwyn het? Hoeveel beëdigde verklarings van sleutelmense verlang NB-uitgewers en Tafelberg dan nog om hulle van hul mistasting te oortuig?

Maar natuurlik: anders as Du Pessis is Malan en Wiley nie meer in lewe nie.

Voorts: ag die uitgewer die misleiding van derduisende lesers van so min betekenis dat hy hulle, anders as sy susterpublikasie Rapport, in sy oomblik van berou skoon vergeet?

Die onttrekking van onverkoopte eksemplare is ‘n gebaar – ‘n nogal sterk simboliese gebaar van skuldbekentenis – maar op die keper is dit in geldwaarde uiters gering teenoor die miljoene wat internasionaal ingehark is. Op biblioteekrakke wêrelwyd pryk die boek nog. Op die internet leef miljoene verguisende woorde. Wat gaan NB-uitgewers en Tafelberg doen om hierdie tsoenami van skade te beperk ?

(Die brief het vanoggend in Die Burger en Volksblad verskyn.)